Lied 255

Sections

Lirieke

1. Woord van God, Woord van die lewe,
Woord vir ewig vas en waar,
Woord onfeilbaar en verhewe
waarin God Hom openbaar!
Woord betroubaar, vas en waar
deur miskenning, deur gevaar
wat sou ons dan ooit laat bewe?
In diÈ Woord het ons die lewe!

2. T'rug tot in die grys verlede
bou Gods woord vir ons 'n brug;
oor die troebel van die hede
open dit 'n toekomsvlug.
Spreek die Here, word die tyd
oomblikke van ewigheid.
Deur sy Gees laat God, verhewe,
ook in ons sy woorde lewe.

3. Trotse berge sal eens wankel,
elemente sal vergaan.
As die skepping selfs verander,
bly Gods woord onwrikbaar staan!
Bo die ruimte, bo die tyd
heers die Heer in ewigheid.
Ons geloof bly vas geanker
in Gods woord wat nimmer wankel!

Geskiedenis

Teks
Die oorspronklike teks van Jeremias Hubrig en Friedrich Lampe dateer uit die 18de eeu. Die Nederlandse weergawe,“God heeft ons zijn woord gegeven”, is geskryf deur Ahasverus van den Berg (#198) en Johanna van de Velde-Helmcke en gepubliseer in die Evangelische Gezangen (1806). Die teks is in Afrikaans vertaal vir die AGB (1944) en is gewysig deur Attie van der Colf (#164) in die 1978-bundel. Van der Colf se vierstrofige teks is gewysig in die Liedboek (2001) en ingekort tot drie strofes.

Jeremias Hubrig (*3 Mei 1690, Friedeberg, Silesië; †22 April 1775, Schwerta) studeer in Lauban en Leipzig en word op 26 Maart 1726 as kategeet aangestel in Messersdorf. In 1736 verhuis hy na Schwerta waar hy as Lutherse prediker werksaam is. Hy skryf ook geestelike liedere wat as Gott­geheiligte Früchte, oder geistlichen poëtischen Betrachtungen (Lauban, 1730) gepubliseer word.

Friedrich Adolph Lampe (*18 Februarie 1683, Detmold; †8 Desember 1729, Bre- men) gaan skool aan die Lyceum in Bremen vanaf 1698 en in 1702 gaan hy na die Universiteit van Franecker in Nederland. Na ’n kort periode aan die Universiteit van Utrecht werk hy opeenvolgend as predikant in Weeze (1703), Duisburg (1706) en vanaf 1709 tot 1719 in Bremen. In 1720 word hy aangestel as Duitse predikant en professor in Dogmatiek aan die Universiteit van Utrecht. Hy behaal ’n doktorsgraad in die teologie en dien in 1726 tot met sy aftrede in 1727 as professor in Kerkgeskiedenis en rektor van dié universiteit. Hy keer terug na Bremen. Lampe was ’n gereformeerde teoloog met sterk piëtistiese oortuigings. Hy skryf ongeveer 40 gesangtekste waarvan nege verskyn in sy Balsam aus Gilead (Bremen, 1713) en die res in sy Bündlein XXV. Gottseliger Gesange (Bremen, 1723) en in sy manuskrip Sammlung geistlicher Lieder: Nebst einem Anhang einiger Poetischen Gedanken. Weinig hiervan word vandag nog in Duitssprekende kerke gesing.

Johanna Elizabeth van de Velde-Helmcke (*4 November 1762, Amsterdam; †26 Oktober 1844, Zutphen) word in ’n vroom huis groot en kry ’n grondige Christelike opvoeding. Sy was ook besonder leergierig en het godsdienstige geskrifte gelees. In haar jeugjare skryf sy reeds gedigte. Sy skryf onder meer ook ’n lykgedig vir Rutger Schutte (#393) in 1785 en was bekend met sy en Jodocus van Lodenstein (#231) se liedere. Vanaf 1786-1787 is sy lid van die Amsteldamsch Dicht- en Letteroefenend Genootschap. In 1794 ontvang sy ’n silwer toekenning van die Genootskap vir haar gedig “Nehemia”. Sy raak veral bekend vir haar gesangtekste wat in verskeie liedbundels opgeneem is. Dit sluit die volgende in: Christelijke gezangen voor de openbare godsdienstoefeningen (Amsterdam, 1796), Christelijke gezangen en liederen (Haarlem, 1804) en die Evangelische gezangen [...] verzameld, en in orde gebragt in de jaren 1803, 1804 en 1805 (Amsterdam, 1807). Na haar man se dood in 1827 verhuis sy na Den Briel en later weer na Zutphen. Sover kennis strek, het sy toe nie meer gedigte geskryf nie.

Melodie
Die melodie GENEVAN 42 (Genève, 1551) word by hierdie lied gebruik. Sien Lied 231 vir meer besonderhede oor die melodie.

Bronne
CGLB: 737; Cillié: 481-482; Hymnary.org; LM; Rassman: 118.