Lied 253

Sections

Lirieke

1. U het die brood gebreek
eens by die meer
breek nou die lewensbrood
vir my ook, Heer.
Wil steeds u waarheid meer
aan my ontvou
tot ek ook in u Woord
my Heer aanskou.

2. U is die lewensbrood,
Heiland, vir my.
U is die waarheid, Heer,
U maak my vry.
U beeld straal uit die Skrif
so helder voort -
U soek ek, Heer, Uself,
o Lewend' Woord.

Geskiedenis

Teks
Die oorspronklike teks, “Break now the Bread of life”, is geskryf deur Mary Lathbury in 1877 in opdrag van die Chautauqua Institute, New York en was bedoel vir gebruik by Bybelstudie en groepsbesprekings. Dit het uit twee strofes bestaan en is gepubliseer in Chautauqua Carols (1878). Alexander Groves (1842-1909) het later derde en vierde strofes bygevoeg, maar dit is uitgelaat in die Liedboek (2001).

Die teks het reeds in Afrikaans verskyn in Die Nuwe Halleluja (1931). Dit is gewysig vir Sing onder mekaar (1989) deur Attie van der Colf (#164) en bevat drie strofes. Die eerste twee strofes is oorgeneem in die Liedboek (2001).

Mary Artemisia Lathbury (*10 Augustus 1841, Manchester, New York; †20 Ok- tober 1913, East Orange, New Jersey) was die dogter van ’n Metodistepriester. Sy was van jongs af geïnteresseerd in kuns en op 18-jarige ouderdom skryf sy in aan die School of Design in Worcester, Massachusetts. In 1861-1874 bestudeer sy “French and Ornamentals” aan die Newbury Seminary in Vermont en in 1682-1867 “French and the fine arts” aan die Fort Edward Institute in New York. In 1867-1873 volg sy kursusse in letterkunde en kuns aan die Drew Ladies’ Seminary in Carmel, New York. Sy word in 1874 assistent-redakteur van The Sunday School Journal. Hier werk sy saam met die Metodistebiskop John Heyl Vincent (1832-1920) wat ook die sekretaris was van die Methodist Sunday School Union. Vincent was die stigter van die Lake Chautauqua Institute by Lake Chautauqua in New York wat gestig is in ’n poging om Sondagskoolonderwysers op te lei. Lathbury was ’n vennoot daar en het elke vergadering bygewoon van 1875 tot 1886. Sy is veral bekend vir twee kerkliedere: “Break now the bread of life” en “Day is dying in the west”. Sy het albei geskryf op versoek van biskop Vincent vir gebruik in die dienste van die Chautauqua Assembly. Hierdie Assembly was in die laat 19de eeu en die vroeg 20ste eeu be- kend as ’n konferensiesentrum wat ’n ryk verskeidenheid in fasiliteite aangebied het: Sondagskoolonderrigmetodes, Bybelstudie, konserte en toneelstukke. Lath- bury was Vincent se assistent en bekend as ’n skrywer, uitgewer en illustreerder van kinderboeke. Haar literêre vaardighede het aan haar die bynaam “Poet Laureate of Chautauqua” besorg.

Melodie
Die melodie BREAD OF LIFE is geskryf vir die teks van Lathbury deur William Sherwin in 1877.

William Fiske Sherwin (*1826, Buckland, MA; †1888, Boston, MA) het die melodie geskryf terwyl hy musiekdirekteur was van die Chautauqua Institute, New York. Sherwin het nie ’n formele musiekopleiding gehad nie, maar sy belangstelling in musiek het hom aangespoor om sangskole by te woon en later by Lowell Mason (#512) en George Webb (#421) te studeer. Hy word die musiekdirekteur van die Pearl Street Baptist Church in Albany en ’n onderwyser by die Albany Female Seminary. Hy onderrig ook aan die New England Conservatory. In 1874 vra biskop Vincent hom om die kore van die Assembly te organiseer en af te rig. Sherwin het hierdie posisie beklee tot met sy dood. Hy het min liedtekste geskryf, maar heelwat melodieë. Hy het bydraes gelewer tot liedversamelings soos Robert Lowry se Bright Jewels (1869) en Silas Vail se Songs of Grace and Glory (1874).

Bronne
HC: 345-347; PHH: 133, 425-426.