Lied 252

Sections

Lirieke

1. Bewaar ons, Vader, deur u Woord,
help ons teen onreg, roof en moord.
Keer diÈ wat selfs u eie Seun
opnuut wil kruisig deur die leuen.

2. Bewys u mag, o Jesus, Heer,
toon dat u oor u kerk regeer.
Beskerm die hele Christendom,
bewaar ons tot u groot dag kom.

3. O Heil'ge Gees wat by ons bly,
gee dat ons lewens sin mag kry;
staan by ons in die laaste nood,
gee ons die lewe na die dood.

Geskiedenis

Teks
Hierdie lied deur Martin Luther is waarskynlik geskryf in 1541. In daardie jaar het dit gelyk of die sultan Suleiman en sy Turkse weermag Duitsland sou oorneem en die keurvors het pastore versoek om gebede te hou vir die beskerming van Duitsland. In sy reaksie hierop het Luther ’n spesiale diens gehou waarin hierdie lied gebruik was. Die lied het vir die eerste keer in druk verskyn in Wittenberg (1542) op ’n blaadjie en in dieselfde jaar in die Magdeburg Gesangbuch. Dit verskyn ook in Joseph Klug (c 1500- 1557) se Geistliche Lieder (1543). Die teks is gepubliseer in Platduits in die Magdeburg Gesangbuch en in Hoogduits in Joseph Klug se Geistliche Lieder.

Die teks is in Afrikaans verwerk deur Elsabé Kloppers (#151) vir die Liedboek (2001). Martin Luther (*10 November 1483, Eisleben; †18 Februarie 1546, Eisleben) gaan skool aan die Lateinschule in Eisenach en sit daarna sy studies voort in Magdeburg en Erfurt met die voorneme om die regsberoep te betree. In 1505 tree hy as monnik toe tot die Augustynse Klooster in Erfurt, studeer teologie en word in 1507 as priester ingeseën. In 1510 word hy afgevaardig om ’n kwessie rakende die Augustynse orde in Rome te gaan bespreek. Hier word hy geskok deur die wêreldsheid en kommersialisme van die geestelikes sowel as die ydelheid van die pous.

Met sy terugkeer na Duitsland verwerf hy ’n doktorsgraad en word aangestel as professor in Bybelkunde aan die Universiteit van Wittenberg. In voorbereiding vir sy lesings kom hy tot die gevolgtrekking dat verlossing alleen deur geloof in Christus en deur die genade van Christus ontvang word. Hy protesteer openlik teen die gebruike van die Katolieke Kerk en maak sy 95 stellings openbaar deur dit op 31 Oktober 1517 aan die kerkdeur in Wittenberg vas te spyker. Luther bevind hom nou in ’n stryd met die kerk en word in 1520 verban uit die kerk en met die Ryksdag in Worms (1521) word dit bevestig. Keurvors Frederik die Wyse slaag daarin om hom in die kasteel in Wartburg te laat woon. Hier werk hy onder meer aan die vertaling van die Nuwe Testament in Duits en neem die leiding in die Protestantse Reformasie. Hy produseer talle preke, lesings en briewe en hou debatte en besprekings waarin hy sy leerstellings bekend maak. In 1522 keer hy terug na Wittenberg.

Van Luther se belangrikste werke sluit in die Formulae Missae (1523) en Deutsche Messe (1526). Hierin word die reformatoriese beginsels vir aanbidding vasgelê. Hy het musiek as ’n gawe van God beskou en belangrik geag in aanbidding en verkondiging van die Woord. Wat die kerklied betref, bevorder hy gemeentesang en probeer om die mense soveel moontlik in die moedertaal (Duits) te laat sing. Hy skryf 35 kerkliedere, maar daar is onsekerheid oor hoeveel melodieë hy gekomponeer het. Luther self was ’n goeie sanger en luitspeler en kundig in musiek. Hy hou toesig oor die samestelling van verskeie liedboeke waaronder die Achtliederbuch (Nürnberg, 1524) en Valentin Babst (†1556) se Geistliche Lieder (Leipzig, 1545). Hy werk onder andere nou saam met Johann Walter (1496-1570). (Hy moet nie verwar word met die latere Johann Gottfried Walther (1684-1748) nie; sien Lied 322.) Luther het tesame met sy hervormende aktiwiteite, vertaling, onderrig, skryfwerk en werk as pastor ook kerkliedtekste en melodieë geskryf. Hy het dieselfde bydrae tot die Duitse himnodie gelewer as Ambrosius tot die Latynse himnodie. Anders as Ambrosius skryf hy egter ook melodieë en pas bestaande melodieë aan vir sy kerkliedere. Hy het op ’n uitsonderlike manier ’n opname gemaak van die kerk se erfenis en toe tekste en musiek geskep wat ware gemeenteliedere was. Van sy bekendste liedere sluit in “Ein feste Burg” (Lied 476), “Nun komm der Heiden Heiland” (Lied 322), “Vom Himmel hoch, da komm ich her” (Lied 360) en “Erhalt uns Herr, bei denem Wort” (Lied 252).

Melodie
Die melodie ERHALT UNS, HERR, BEI DEINEM WORT (ook bekend as PRESERVE US LORD, SPIRES en WITTENBERG) is geskep deur Martin Luther na aanleiding van die ou Latynse himne Veni, Redemptor gentium. Hierdie himne word gedateer in on- geveer 900 AD en kom ook voor in ’n 12de-eeuse manuskrip van die klooster in Einsiedeln. Dit word gepubliseer met Luther se teks in Joseph Klug se Geistliche Lieder (Wittenberg, 1543).

Bronne
CWH: 230; HC: 109-110; HCLWB: 308-309; KLEG: 204-208; PHH: 773-774.