Lied 249

Ilse Pelem

Sections

Downloads

Vir Sang: ‘n PDF-dokument wat ’n melodielyn en lirieke bevat. In sommige gevalle bevat die dokument ook akkoorde.

Vir Begeleiding: ‘n PDF-dokument wat meerstemmige begeleiding vir orrel en/of klavier bevat. In sommige gevalle bevat hierdie dokument ook die lirieke van die lied.

Opname: Opname van van die lied, beskikbaar as mp3-lêer.

Aanbieding: ‘n Powerpoint aanbieding van die lied se lirieke.

Lirieke

1. God het gesê: "Ek is die Here ..."
wat jou uit sondeslawerny
gelei het na 'n nuwe lewe.
Jy mag geen god hÍ, buiten My!"

2. "Vereer dan geen gesnede beelde,
maak van My geen gelykenis;
maar dien My wat, alomteenwoordig,
jou Skepper en Verlosser is."

3. Gebruik die heil'ge Naam nooit ydel
God is waaragtig in sy trou.
Hy sal diÈ straf wat Hom belaster;
diÈ wat Hom liefhet, word behou.

4. Met wysheid het Hy rus en arbeid
vir ons, sy mense, hier beveel;
gedenk die rusdag, hou dit heilig
en jy sal in die seÎn deel.

5. Eer ouers en eer owerhede,
God gee aan hulle die gesag,
en die belofte van die lewe
dra jou en ook jou nageslag.

6. Jy mag nie doodslaan of jou wreek nie,
maar liefde moet jou lewe rig.
Jy mag die egband nie verbreek nie,
behou wat God in liefde stig.

7. Jy mag nie van jou naaste steel nie,
maar wees in wat jy doen, getrou.
Neem nie aan valse dinge deel nie
wees een wat by die waarheid hou.

8. Die hart is setel van die lewe,
maar laat hom ook so gou mislei.
Aanvaar in denke en begeerte
die Gees van God se heerskappy.

9. Deur u volmaakte wet, o Here,
ontdek ons steeds ons sondigheid;
u Gees bring ons die heil in Christus
dat ons kan leef uit dankbaarheid.

Geskiedenis

Teks
Die oorspronklike teks van Petrus Dathenus is gepubliseer in die Nederlandse De Psalmen Davids, ende ander lofsanghen (Heidelberg/Leeuwarden, 1566) – die soge- naamde Psalmboek van Dathenus. Dit is later ook opgeneem in Psalmen waaraan toegevoegd is Eenige Gezangen (1773). JD du Toit (Totius) het die teks in Afrikaans vertaal in 1935: “God het gespreek! Laat berg en rots” en dit is ook opgeneem in die AGB (1944). Attie van der Colf (#164) het die teks in die 1978-bundel en vir die Liedboek (2001) versorg. Die teks is gebaseer op Eksodus 20.

Oor Petrus (Pieter) Dathenus (Daten, Dalten, Daets) (*1531/1532, Mont-Cassel, by Hazebrouck in Vlaandere; †17 Maart 1588, Elbing, Pruise) se kinderjare is niks bekend nie. Hy tree as jong man toe tot die Karmeliete-klooster van Yper/Ieper, maar na sy bekering tot die Calvinisme werk hy as predikant in die suide van Nederland en die vlugtelinggemeente in Londen. Die troonbestyging van Maria Tudor in 1553 noop hom egter om terug te keer na Nederland en hy werk in Emden. In 1555 word hy Gereformeerde predikant van die Vlaamse vlugtelinggemeente in Frankfurt am Main. Hy kry egter baie teenstand van die Lutherse geestelikes, maar behou noue kontak met Calvyn. In 1562 vertrek hy na Frankental by Worms waar die keurprins Frederik die Vrome aan hom ’n toevlug bied. Hy word in 1564 aangestel as hofprediker en die keurprins word dan ook die eerste Duitse prins wat die Calvinistiese leer aanvaar. Hy vertaal in 1563 die Heidelbergse Kategismus in Nederlands en versorg ’n kerkhandleiding wat in 1566 verskyn het. Hierin is onder meer vervat die volledige Nederlandse beryming van die 150 Psalms met behoud van die Geneefse melodieë. In Desember 1566 tree hy op as die voorsitter van die Belgiese sinode wat in Antwerpen byeengekom het. In 1572 was hy weer werksaam in die Nederlande en reis ook na België en Switserland. In 1578 tree hy ook op as voorsitter van die Dordtse Sinode en later ook by die Sinode van Gent. Hy raak ook in ’n stryd betrokke met Willem van Oranje wat volgens hom te verdraagsaam was teenoor die Katolieke. Later wyk Dathenus uit na Husum in Noord-Duitsland en vanaf 1585 woon hy in Stade. In 1587 was hy in Danzig, maar keer weer terug na Elbing waar hy ook as geneesheer werk.

Jacob Daniël du Toit (*21 Februarie 1877, Paarl; †1 Julie 1953, Pretoria) was ’n Afri- kaanse digter wat bekend was onder die skuilnaam Totius. Hy ontvang sy skool- opleiding by verskeie skole: Hugenote Gedenkskool in Daljosafat (1883-1885), die Duitse Sendingskool Morgenzon naby Rustenburg (1888-1890) en weereens aan die skool in Daljosafat (1890-1894). In hierdie tyd is die Afrikaanse digters AG Visser en DF Malherbe van sy medeleerlinge. Hy studeer verder aan die teologiese skool in Burgersdorp voordat hy as kapelaan by die Boerekommando’s aansluit gedurende die Tweede Anglo-Boereoorlog. Na die oorlog sit hy sy teologiese studies voort aan die Vrije Universiteit van Amsterdam en behaal ’n doktorsgraad in die teologie. Hy word geordineer as predikant van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika. Vanaf 1911 is hy professor aan die teologiese skool van die Gereformeerde Kerk in Potchefstroom – die teologiese skool van Burgersdorp het toe hierheen verskuif. Totius reis ook weer na die Nederlande en Palestina. Saam met prof Ferdinand Postma was hy een van die grondleggers van die destydse PU vir CHO en die eerste kanselier van hierdie instelling. Hy ontvang ook eredoktorsgrade van verskeie universiteite in Suid- Afrika en Nederland. Hy lewer belangrike bydraes tot die Afrikaanse gereformeerde gemeenskap met sy vertaling van die Bybel in Afrikaans (1933) − ’n voortsetting van die werk wat deur sy vader, Stephanus Jacobus du Toit, begin is − en die beryming van die 150 Psalms in Afrikaans (1935). Hy laat ook verskeie digbundels na soos Trekkerswee (1915) en Passieblomme (1934). Een van Totius se bekendste gedigte “O die pyn-gedagte” kom uit die bundel Passieblomme. Hierdie gedig is geskryf na die dood van sy twee jong kinders. Sy laaste digbundel heet Skemering (1948).

Melodie
DIE WET VAN GOD is ’n oorspronklike melodie van AC van Velden wat in die AGB (1944) verskyn het.

Andries Christoffel van Velden (*18 Junie 1866, Dordrecht; †28 November 1957, Kaapstad) gaan skool aan die Skool vir Blindes in Worcester waar hy onder meer klavier- en orrelonderrig ontvang van Harry Greenwood (1868-1948), die eerste hoof van die musiekdepartement van dié skool. Nadat hy sy skoolopleiding voltooi het, word hy musiekonderwyser op Boshof in die Vrystaat. In 1909 ontvang hy ’n beurs wat hom in staat stel om aan die Royal College of Music in Londen te gaan studeer waar hy ’n FRCO verwerf. Met sy terugkeer in 1912 word hy aangestel as orrelis van die Strooidakkerk in die Paarl, ’n pos wat hy tot met sy dood beklee. Een van sy bekende leerlinge was Japie Malan wat later die orrelis van die Groote Kerk in Kaapstad ge- word het. Van Velden was bekend as orrelis en koorleier en het lank gedien op die Gesamentlike Musiekkommissie van die drie Afrikaanse kerke wat gemoeid was met die voorbereiding van die Afrikaanse Psalm­ en Gesangeboek. Vier van sy melodieë is in die Psalmboek (1937) opgeneem: Psalm 16, 33, 34 en 59. Hiervan is slegs die melodie vir Psalm 33 vandag nog in gebruik (Liedboek 33).

Bronne
GAMEO; www.litnet.co.za; Malan II: 129; Malan IV: 436-437; www.resources.huygens.knaw.nl; www.sahistory.org.za