Lied 248

Ilse Pelem

Sections

Downloads

Vir Sang: ‘n PDF-dokument wat ’n melodielyn en lirieke bevat. In sommige gevalle bevat die dokument ook akkoorde.

Vir Begeleiding: ‘n PDF-dokument wat meerstemmige begeleiding vir orrel en/of klavier bevat. In sommige gevalle bevat hierdie dokument ook die lirieke van die lied.

Opname: Opname van van die lied, beskikbaar as mp3-lêer.

Aanbieding: ‘n Powerpoint aanbieding van die lied se lirieke.

Lirieke

Here, ontferm U oor ons.
Christus, ontferm U.
Here, ontferm U oor ons
en gee ons u vrede (x2)

Geskiedenis

Teks

Die teks Kyrie eleison kom uit die Agnus Dei van die misordinarium en is in ’n Afrikaanse weergawe wat deur Julian Müller geskryf is. Dit is vir die eerste maal gepubliseer in Sing onder mekaar (1989). Dit is in die Liedboek (2001) opgeneem.

Julian Cornelius Müller (*19 November 1946, Vereeniging) behaal ’n BA-graad en Diploma in Teologie aan die UP. Hy is gelegitimeer in 1970 en in die volgende jaar aangestel as predikant van die NG gemeente Johannesburg-Oos. In 1975 bedien hy Primrose-Heuwel en vanaf 1978 is hy verbonde aan die NG gemeente Universiteitsoord in Pretoria as studenteleraar. In 1990 word hy aangestel as professor in praktiese teologie aan die teologiese fakulteit van die UP. In 1995 is hy weer leraar aan die NG gemeente Universiteitsoord en in 1997 van die NG gemeente Pierre van Ryneveld. Vanaf 2004 tree hy op as Pastorale Terapie-Spesialis (nou Lux Mundi).

Melodie
Die melodie ONTFERM U is gekomponeer deur Chris Lamprecht in 1989 en gepubliseer in die Sing onder mekaar-bundel.

Christian Engelbertus (Chris) Lamprecht (*1 Oktober 1927, Bloemfontein) matrikuleer aan die Hoërskool Sentraal in Bloemfontein (1944). Hy studeer aan die US waar hy ’n BMus-graad verwerf (1948). Hy verwerf ook Voordraerslisensiate in sang, orrel en klavier aan UNISA. Hierna verhuis hy na die destydse Transvaal (nou Gauteng) en gee musiekonderrig in Boksburg en Germiston. In 1953 word hy aangestel as vakinspekteur vir musiek deur die Transvaalse Onderwysdepartement. Hy het vir ’n tyd lank ook aan die Westfalische Kirchenmusikschule in Herford, Duitsland, studeer en homself as orrelis, sanger, koordirigent en komponis bekwaam. Hy keer in 1955 terug na Suid-Afrika waar hy onder meer as skoolmusiekinspekteur skoolsangfeeste in die destydse Transvaal reël en lei. As hoofkultuurbeampte vir musiek van die Departement van Nasionale Opvoeding, deurreis hy die land en versamel volksliedere – hiervan is byna 800 op band vasgelê. Uit hierdie navorsing het ’n reeks radioprogramme oor die Afrikaanse volkslied gevolg. Sommige van die volksliedere is ook opgeneem in die FAK­sangbundel (1979). Later word hy senior dosent in orrel aan die UP waar hy in 1984 bevorder word tot professor en hoof van die Musiekdepartement. Hy het die leiding van die SAUK-koor oorgeneem en ’n ATKV-mannekoor gestig. Lamprecht dien as orrelis in verskeie gemeentes van die NG Kerk, insluitende Boksburg, Germiston, Pretoria-Oos, Aasvoëlkop en Universiteitsoord. Na sy aftrede woon hy in Heroldsbaai, naby George, en is steeds aktief as komponis en verwerker.

Dwarsdeur sy loopbaan het hy hom beywer vir die daarstelling van toeganklike erediensmusiek. Van sy komposisies het verskyn in die reeks Liturgiese Orrelmusiek (Band IV, 1980; Band V, 1984). ’n Bundel getiteld God het ek lief (2006) bevat ook van sy orrelverwerkings. Daar is ook van sy komposisies opgeneem in die SAKOV 30 Feesbundel (2010), SAKOV Erediensmusiek (Vol 2, 2011) en SAKOV Erediensmusiek (Vol 3, 2013). Sy koorwerke word gereeld uitgevoer. Besonder gewild is “Kom na My toe” en “God is liefde”. Hy is ook bekend vir die bundel met ’n toonsetting van die Geloofsbelydenis en 15 diskante (1986) vir die 1978-bundel.

Bron
Malan III: 157-161.