Lied 241

Ilse Pelem

Sections

Downloads

Vir Sang: ‘n PDF-dokument wat ’n melodielyn en lirieke bevat. In sommige gevalle bevat die dokument ook akkoorde.

Vir Begeleiding: ‘n PDF-dokument wat meerstemmige begeleiding vir orrel en/of klavier bevat. In sommige gevalle bevat hierdie dokument ook die lirieke van die lied.

Opname: Opname van van die lied, beskikbaar as mp3-lêer.

Aanbieding: ‘n Powerpoint aanbieding van die lied se lirieke.

Lirieke

1. Troue Here van my lewe,
God by wie ek vrede vind;
Vader wat my skuld vergewe,
dankbaar leef ek as u kind.
Vrees vir straf laat my nie weifel,
want u liefde laat geen twyfel;
ja, ek weet in sondesmart:
U is trooster van my hart.

2. U die kenner van ons harte,
sien my skuld en ken my nood.
Ek treur, vol berou en smarte,
want my sonde bring die dood.
Ja, U sien my hart se wonde,
sien my ly oor al my sonde,
Christus laat my voor U staan,
deur sy bloed neem U my aan.

3. Deur u Seun skenk U genade,
in geloof neem ek Hom aan;
Hy verlos my van die kwade,
Hy sal altyd met my gaan.
Al is ek in skuld gebore,
is ek in Hom uitverkore
voor u Woord in skeppingsmag
nag geskei het van die dag.

Geskiedenis

Teks
“Schweiget, bange Zweifel! Schweiget!” is die oorspronklike Duitse teks van hierdie lied wat Johann Schlegel geskryf het. Dit is in sy Geistliche Gesänge zur Beförderung der Erbauung (Leipzig, 1769) gepubliseer. Ahasverus van den Berg (#198) het dit in Nederlands vertaal en dit is gepubliseer in die Evangelische Gezangen (1806). Die Afrikaanse teks van GBA Gerdener (#157) het in Die Nuwe Halleluja (1931) verskyn en is hersien vir die AGB (1944). In die 1978-bundel het Gerjo van der Merwe (#151) dit weer hersien. Vir die Liedboek (2001) is die teks weer gewysig deur Renée Marais. Johann Schlegel (*18 September 1721, Meiszen; †16 September 1793, Hannover) was die vader van die later bekende digters August Wilhelm en Friedrich von Schlegel. Hy begin sy teologiese studies in 1741 aan die Universiteit van Leipzig. In 1744 word hy deur sy broer, Johann Elias, bekendgestel aan die sogenaamde“Bremer Beiträger” wat probeer het om hulle los te maak van die literêre voogdyskap van Gottsched. Hy raak bevriend met die digters Gellert en Cramer en maak veral as digter en kritikus naam. Nadat hy vir ’n tyd lank huisleraar was, was hy sedert 1751 enkele jare werksaam in Pforta en vanaf 1754 in Zerbst waar hy as prediker baie geliefd was. In 1759 gaan hy as predikant na Hanover (Marktkirche) waar hy hom intensief met die geestelike lied besig hou. In 1766, 1769 en 1772 verskyn die bundels Geistliche Gesänge zur Beförderung der Erbauung waarin 49 van sy eie en 87 liedere wat hy bewerk het, opgeneem is.

Hy herdig vele Duitse liedere na die 18de-eeuse smaak. “Schweiget, bange Zweifel!” word as een van sy beste liedere beskou en is in verskillende Duitse liedboeke opgeneem. Schlegel het ’n belangrike aandeel gehad in die aanhangsel tot die Hanover Gesangbuch van 1740.

Renée Marais (*29 Julie 1958, Hillbrow, Johannesburg) kry haar skoolopleiding aan die Laerskool Fairland, Dagbreek Volkskool in Welkom en Dundee Junior Skool in Dundee. Sy matrikuleer aan die Hoërskool Dundee. Hierna behaal sy die volgende grade cum laude: BA (Mus) aan die UOVS, en BA Hons en MA aan die UP. Sy doen tans navorsing vir haar doktorale proefskrif wat oor Karel Schoeman handel. Na twee jaar as voltydse taalpraktisyn by die Departement van Pos- en Telekommunikasiewese, was Marais vanaf 1985 tot in 2000 eers deeltyds en later voltyds as dosent verbonde aan die Departement Afrikaans aan die UP. In 2001 word sy hoof van dié universiteit se Kreatiewe Taaldienste. Sy doseer aan die Eenheid vir Akademiese Geletterdheid en tree in Nederland en België op as gasdosent. Sy het wyd gepubliseer in akademiese en populêre publikasies, maar is ook ’n gepubliseerde digter en kortverhaalskrywer. Met haar fokus op vertaling, redigering en Nederlandse en Afrikaanse letterkunde word sy voorsitter van die Suid-Afrikaanse afdeling van die Maatschappij der Nederlandse Letterkunde en dien ook as ondervoorsitter van die Suider-Afrikaanse Vereniging vir Neerlandistiek en die Noordelike Kennisnetwerk vir Neerlandistiek. Marais het hoofsaaklik as taaladviseur in die Liedboek-kommissie gedien, al is sy ook ’n opgeleide musikus. Sy was byvoorbeeld ook lid van die adviesgroep van vader Bonaventure Hinwood toe hy die psalms en lofgesange in die Bybel uit die oorspronklike tale in Afrikaans vertaal het vir gebruik in die Katolieke Kerk: Psalms en lofsange (JL Van Schaik, 1993). Marais is ook ’n lid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.

Melodie
Die melodie ALLE MENSCHEN MÜSSEN STERBEN het ’n interessante geskiedenis om na te vors. Die melodie word meesal toegeskryf aan Christoph Anton. ’n Ander bron is die Darmstädter Cantional (Das grosse Cantional) van 1687 waarin die melodie voorkom. Dit is aangepas in die Evangelische Gezangen (1806). Die melodie het ’n sekulêre herkoms. Dit ontstaan gedurende die 16de eeu en dra die teks “Daphnis ging für wenig Tagen”. Die melodie is teen ongeveer 1640 deur die Duitse orrelis Christoph Anton (†1658) aangepas. In die Darmstadt- gesangeboek van 1687 is die melodie weer aangepas en gekombineer met Johann George Albinus (1624-1679) se geestelike teks “Alle Menschen müssen sterben”, waarvan die titel afgelei is.

Bronne
CGLK: 1007-1010; Cillié: 68, 413; e-poskorrespondensie met Renée Marais, 26 Januarie 2019; HCLBW: 428; HLH: 429; Hymnary.org