Lied 240

Sections

Lirieke

1. Heiland, as in ootmoed stil
ons afhanklik voor U kniel
en berouvol na omhoog
tot U rig die hart en oog
o, waar U soveel moes ly
om van skuld ons te bevry:
Skenk ons die vergiffenis
op ons skulderkentenis!

2. Jesus, al is ons ontrou
U bly altyddeur getrou!
Wanneer ons ons skuld bely,
maak U ons in waarheid vry.
Nooit pleit 'n gebroke gees
om versoening tevergeefs.
U skenk die vergiffenis
op ons skulderkentenis!

Geskiedenis

Teks
The Christian Observer (November 1815) het vir die eerste keer die kerkliedteks “Saviour, when in dust to Thee” gepubliseer onder die opskrif “Litany”. Dit is geskryf deur Robert Grant en gebruik deur die Episkopale Kerk in The Hymnal van 1826. Die teks is na sy dood gepubliseer deur sy broer, Lord Charles Glenelg, in Sacred Poems. By the late Right Honourable Sir Robert Grant (Londen, 1839) – ’n geredigeerde versameling van 12 van Grant se himnes. Daar is ’n nota by: “London, Juno 18, 1839.” Herdrukke verskyn in 1844 en 1868. In hierdie bundel word geen melodieë vermeld nie. Sommige bronne toon egter aan dat die teks op die melodie BLUMENTHAL gesing is wat Jacob Blumenthal (1829-1908) in 1847 geskryf het.

Die teks is in Afrikaans verwerk deur Attie van der Colf (#164) in die 1978-bundel en net so opgeneem in die Liedboek (2001).

Robert Grant (*15 Januarie 1780, Kidderpore, Bengale, Indië; †9 Julie 1838, Dal- poorie, Wes-Indië) se vader was ’n filantroop en direkteur van die Oos-Indiese Kom- panjie. Robert was ’n student aan die Magdalene College, Cambridge, waar hy in 1801 ’n BA- en in 1804 ’n MA-graad behaal. Hy word toegelaat tot die balie in 1807. Grant word lid van die Britse parlement in 1818, prokureurgeneraal in 1832 en goewerneur van Bombaai (nou Moembaai) in 1834. In dieselfde jaar word hy tot ridder geslaan. Hy bring die res van sy lewe deur in Indië. Baie van sy liedtekste is gepubliseer in die Christian Observer tussen 1806 en 1815, in Edward Bickersteth se Christian Psalmody (1833) en Henry Venn Elliott se Psalms and Hymns for Public, Private and Social Worship (1835). Die mees bekende van sy liedere is “O worship the King, All-glorious above” en “Saviour, when in dust to thee”. Behalwe kerkliedere skryf hy ook A Sketch of the History of the East India Company (1813).

Melodie
ABERYSTWYTH, Joseph Parry se mees bekende kerkliedmelodie, is gekomponeer in 1876 en vernoem na die Walliese strandoord waar hy ’n onderwyser was aan die mond van die Ystwyth-rivier (Aber = mond; Ystwyth = die rivier). Dit is vir die eerste keer gepubliseer in Edward Stephen se Ail Llyfr Tonau ac Emynau (The second Book of Tunes and Hymns, Wrexham, 1879) as ’n setting vir die Walliese lied “Beth sydd I mi yn byd”. Parry het later die melodie met die teks“Jesus, Lover of my soul” verbind aan die einde van sy kantate “Caridwen” en hierdie kombinasie kom in die meeste liedboeke voor (sien Lied 578).

Joseph Parry (*24 Mei 1841, Methyr Tydfil, Glamorganshire, Wallis; †17 Februarie 1903, Penarth, Glamorganshire) is in ’n arm, maar musikale familie gebore. Alhoewel hy vroeg reeds musikale belofte getoon het, stuur sy ouers hom om in die vuuroonde van ’n staalmeule in Merthyr Tydfil, Wallis, te werk. Hy was nietemin blootgestel aan ’n hoë vlak van musiekkultuur en het in oratoriums gesing. Hy het ook etlike pryse by Eisteddfodau (sangkompetisies) gewen.

In 1854 verhuis die familie na ’n Walliese gemeenskap in Danville, Pennsylvania, waar hy weer in ’n ystersmeltoond gewerk het. Hy maak genoeg geld bymekaar om aan die Royal Academy of Music in Londen te studeer (1868-1871) en daarna in Cambridge waar hy ’n BMus-graad in 1871 en ’n DMus-graad in 1878 verwerf. Hy keer terug na Danville waar hy kerkorrelis word en ’n musiekskool stig. Parry was ook orrelis van die Ebenezer Chapel in Swansea. In 1873-1879 was hy professor in musiek aan die Welsh University College in Aberystwyth. Nadat hy privaat skole vir musiek in Aberystwyth en Swansea gestig het, word hy dosent en later professor van musiek aan die University College van South Wales in Cardiff (1888-1903). Hy komponeer oratoriums, kantates, ’n opera, orkes- en kamermusiek sowel as sowat 400 kerkliedmelodieë.

Bronne
CDH; Cillié: 400-401; CUMH: 442; HC: 440-441; Hymnary.org; PHH: 144-145.