Lied 239

Ilse Pelem

Sections

Downloads

Vir Sang: ‘n PDF-dokument wat ’n melodielyn en lirieke bevat. In sommige gevalle bevat die dokument ook akkoorde.

Vir Begeleiding: ‘n PDF-dokument wat meerstemmige begeleiding vir orrel en/of klavier bevat. In sommige gevalle bevat hierdie dokument ook die lirieke van die lied.

Opname: Opname van van die lied, beskikbaar as mp3-lêer.

Aanbieding: ‘n Powerpoint aanbieding van die lied se lirieke.

Lirieke

1. Jesus, Rots vir my geslaan,
laat my nie verlore gaan!
U was self van God verlaat.
Laat u lyding, sonder maat,
my tot heil wees en tot krag
teen die sondeskuld en -mag.

2. En ek self - wat kan ek doen
om my sonde te versoen?
Sou my hart met ywer gloei,
sou my trane ewig vloei
nÚg gebede, nÚg geween
kan my red, Heer; U alleen.

3. Leeg, net met my sondelas,
hou ek u verdienste vas.
Ek kom om vergewing vra;
U het ook my skuld gedra!
U, geslaan tot heilsfontein,
w·s my, Heiland, maak my rein!

4. Heer, my Rots, bo almal groot
staan U vas in elke nood.
Trou van mense kom en gaan,
maar U bly onwrikbaar staan.
Eew'ge Rots, U laat ook my
veilig, ewig in U bly!

Geskiedenis

Teks
Volgens legende het August Toplady die lied “Rock of ages, cleft for me” geskryf terwyl hy gedurende ’n donderstorm geskuil het in ’n rotsskeur by Burrington Combe in die Mendip Hilles, Somerset. Daar is geen historiese bewys hiervoor nie. Wat wel waar is, is dat Toplady die kurator van die nabygeleë dorpie Blagdon in 1762-1764 was, maar die lied is waarskynlik eers in 1776, 12 jaar later, geskryf. Dit is toe gepubliseer in die Gospel Magazine waarvan Toplady die redakteur was. Dit is feitlik seker dat hy die tema vir sy eie gedig gekry het in sommige woorde van dr Bevint se Christian Sacrament and Sacrifice: “O Rock of Israel, Rock of salvation, Rock struck and cleft for me …” Dit kon egter ook geïnspireer gewees het deur Wesley se versameling Hymns of the Lord’s Supper van 30 jaar vroeër.

Die Nederlandse vertaling “Rots der eeuwen” is al in Suid-Afrika bekend sedert die publikasie daarvan in die Kinderharp (1863), Sionsliederen (1871) en die Nederlandse Halleluja (1903). GBA Gerdener (#157) het die teks in Afrikaans vertaal vir Die Nuwe Halleluja (1931): “Eew’ge Rots vir my geslaan”. In Die Halleluja (1951) lees die aanvangsreël soos volg: “Eew’ge Rots, geklief vir my”. Vir die 1978-bundel het Attie van der Colf (#164) die teks gewysig en die eerste reël klink nou soos volg: “Jesus, Rots vir my geslaan”. Hierdie teks is net so oorgeneem in die Liedboek (2001).

August Montague Toplady (*4 November 1740, Farnham, Surrey; †11 Augustus 1778, Kensington, Londen) was die seun van ’n majoor in die Britse weermag. Sy vader is dood in die slag van Cartagena ’n jaar na sy geboorte. Sy moeder sorg vir sy opvoeding en kry vir hom plek in die Westminster School. Daarna verskuif hy na Ierland waar hy sy opleiding voortsit aan die Trinity College, Dublin. Hier verwerf hy ’n meestersgraad. Hy is ingeseën in die Church of England in 1762. Sy eerste pos was in Blagdon in Somersetshire waar hy gou bedank en in 1768 word hy vikaris van Broad Hembury in Devonshire. In 1775 gaan hy na die Franse Calvinistiese Kapel in Leicester Fields, Londen. As oortuigde Calvinis kom hy later in dispuut met John en Charles Wesley vanweë sy Calvinistiese oortuigings. In die eerste jaar van sy bediening in Londen publiseer hy ’n versameling van 419 himnes waaronder sommige van sy eie komposisies. Hy is oorlede op ’n vroeë ouderdom vanweë swak gesondheid. Toplady skryf 130 liedtekste en publiseer Poems on Sacred Subjects (1769) en Psalms and Hymns for Public and Private Worship (1776). Naas “Rock of Ages” word drie van sy kerkliedere vandag nog by geleentheid gesing, maar hulle is nie so gewild nie: “A Debtor to Mercy Alone”, “Deathless Principle, Arise” and “Object of My First Desire”.

Melodie
PETRA (ook bekend as GETHSEMANE, REDHEAD en REDHEAD 76) is gekomponeer deur Richard Redhead. Dit verskyn in sy invloedryke Church Hymn Tunes, Ancient and Modern (Londen, 1853) waarin dit Lied 76 was – vandaar die alternatiewe benaming REDHEAD 76. Die melodie het die naam PETRA (rots) gekry in die eerste uitgawe van Hymns Ancient and Modern (1861). Die titel GETHSEMANE word verbind met die lydensteks “Go to dark Gethsemane” wat soms op hierdie melodie gesing word.

Richard Redhead (*1 Maart 1820, Harrow, Middlesex; †27 April 1901, Hailsham, Sussex) ontvang as seun orrelles van Walter Vicary (1770-1845). Hy is opgelei as ’n koorsanger by die Magdalen College, Oxford. Hier kom hy in aanraking met eer- waarde Frederick Oakeley (1802-1880) wat hom in 1839 nooi om orrelis te word van St Margaret’s Street Chapel in Londen (nou All Saints), ’n prominente kerk vir die Oxford- beweging. Redhead en Oakeley was intensief betrokke by hierdie beweging wat ten gunste was van die invoeging van Katolieke elemente in die Anglikaanse aanbidding. Saam het hulle die eerste Anglikaanse “plainsong” psalter uitgegee: Laudes Diurnae (1843). In 1864 word hy orrelis van St Mary Magdalene’s in Paddington waar hy werk tot 1894. Hy was bekend as ’n goeie improvisator op die orrel en ’n voortreflike dirigent van seunskore.

Bronne
Cillié: 327-329; Colquhoun: 162-163; CUMH; HC: 149-150; Knight: 124, 137; PHH: 395-396.