Lied 238

Ilse Pelem

Sections

Downloads

Vir Sang: ‘n PDF-dokument wat ’n melodielyn en lirieke bevat. In sommige gevalle bevat die dokument ook akkoorde.

Vir Begeleiding: ‘n PDF-dokument wat meerstemmige begeleiding vir orrel en/of klavier bevat. In sommige gevalle bevat hierdie dokument ook die lirieke van die lied.

Opname: Opname van van die lied, beskikbaar as mp3-lêer.

Aanbieding: ‘n Powerpoint aanbieding van die lied se lirieke.

Lirieke

1. God, enkel lig, voor u gesig
is niks op aarde rein nie.
Ons is bevlek, met skuld bedek
kan nie voor U verskyn nie.

2. Die sterreprag verdwyn by dag
teenoor die son se luister;
soveel te meer is ons, o Heer,
teenoor u lig, die duister.

3. Heer waar dan heen? Tot U alleen;
U sal ons nooit begewe.
U eie Seun, ons borg en steun,
is ook ons weg tot lewe.

4. Ja, amen, ja! Op Golgota
betaal Hy vir my sonde,
en deur sy bloed word ons gemoed
gereinig van die sonde.

5. Gee ons al meer, om U te eer,
geloof, o Ewig-sterke!
Dan doen ons bly, aan U gewy,
uit liefde goeie werke.

Geskiedenis

Teks
Die oorspronklike teks, “Du reines Licht”, is geskryf deur Christian Schubart en kom uit sy Sämtliche Gedichte (Stuttgart, 1785). Dit is in Nederlands vertaal as “God enkel licht, voor wiens gesicht” deur Ahasverus van den Berg (#198) en gepubliseer in die Evangelische Gezangen (1806). GBA Gerdener (#157) het Van den Berg se teks in Afrikaans vertaal in Die Nuwe Halleluja (1931): “God, enkel lig, voor u gesig”. Die teks is hersien vir die AGB (1944) en weer gewysig deur Gerjo van der Merwe (#151) vir die 1978-bundel. Die teks is ook gewysig in die Liedboek (2001).

Christian Friedrich Daniel Schubart (*24 Maart 1739, Obersontheim, Swabe; †10 Oktober 1791, Stuttgart) was ’n Duitse digter. Hy was die seun van ’n predikant en begin om teologie te studeer aan die Universiteit van Erlangen in 1758. Hy lei ’n losbandige lewe as student – in so ’n mate dat sy vader alle finansiële steun aan hom staak. Hy probeer ’n lewe verdien as privaat onderwyser en assistent-prediker. Sy musiektalente besorg egter aan hom die pos as orrelis in Geislingen. Hy word beskryf as ’n goeie klawesimbel- en klavichordspeler in sy tyd. Schubart besoek ook Heilbronn, Mannheim, München en Augsburg. In Augsburg begin hy skryf aan sy Deutsche Chronik (1774-1778) en verdien ’n inkomste deur die gedigte van prominente digters voor te dra. As gevolg van sy skerp kritiek op die maatskaplike en politieke orde, kom hy meermale in botsing met die owerhede. Hy word mettertyd uit Augsburg verban, in 1777 gearresteer en as politieke misdadiger in die Hohenasperg- vesting opgesluit. Hy bring sy tyd deur met die bestudering van mistieke geskrifte en die skryf van gedigte. Schubart gee self sy Sämtliche Gedichte uit in twee volumes (Stuttgart, 1785/1786) en dit word gekenmerk deur eienskappe van die “Sturm und Drang”-periode. Na sy vrylating in 1787 deur Frederik die Grote word hy aangestel as bestuurder van die teater in Stuttgart. Hy is hier oorlede.

Melodie
Die melodie JOUR DU SEIGNEUR is ’n samevoeging van twee 17de-eeuse melodieë, naamlik Michael Franck se “Welt, gute Nacht” en “Zeuch uns nach dir” van Michael Franck en Georg Joseph. Die melodie kan moontlik veel ouer wees. Pierre Huet het waarskynlik die melodie aangepas uit die Franse gesangbundel Cantiques pour le culte public (Dordrecht, 1803) in opdrag van die Waalse Sinode. Huet was op die komitee wat die bundel saamgestel het.

Michael Franck (*16 Maart 1609, Schleusingen; †moontlik 24 September 1667, begrawe 27 September 1667, Coburg) was ’n bakker van beroep en onderwyser van die laerskool in Coburg. Die onrus van die Dertigjarige Oorlog het ’n groot invloed op Franck gehad. Geldnood dwing hom waarskynlik om hom na die bakkersberoep te wend. Hy keer terug na Schleusingen waar hy in 1628 die titel as meesterbakker verwerf. In 1640 trek hy na Coburg, die stad waar hy opgevoed is. Hy word ook by feesgeleenthede op verskeie instrumente gehoor. Op 18 Maart 1644 word hy aan- gestel as onderwyser aan die Stadtschule. In hierdie amp vind Franck ook bevrediging as digter/musikant. Hy publiseer sy tekste in vyf versamelings na 1650 en dit word gou gewild. Sy belangrikste versameling is Geistliches Harffen­Spiel (1657). Hierin staan die lied “Sei Gott getreu” wat vir Johann Rist (1607-1667) oortuig het om Franck in 1659 in die digterskring, Elbschwanenorde, op te neem. Hy neem volgens die Duitse tradisie die naam Staurophilos (vriend van die kruis) aan. Sy motto was Psalm 31:2. Franck geniet ook aansien buite die digterskring en korrespondeer met die digters Simon Dach (1605-1659) in Königsberg en Georg Neumark (#273) in Weimar. In sy werk vergestalt hy die tipiese digter/musikant ideaal waarvan Luther ook ’n voorbeeld was. Hiervolgens was die ideaal om die geestelike woord en die musiek in ’n eenheid te verbind as verkondiging en tot rekreasie van die gemoed. Een van sy ander bekende tekste is “Ach, wie flüchtig, ach wie nichtig” wat in sy Die Eitelkeit/Falschheit und Unbeständigkeit der Welt … (Coburg, 1652) verskyn het.

Georg Joseph (*c 1630, Breslau, Silesië; †c 1668) was ’n musikant in diens van die biskop van Breslau gedurende die laaste helfte van die 17de eeu. In samewerking met die mistiese digter Johann Scheffler (1624-1677) publiseer hy vyf liedboeke.

Pierre Daniel Huet (*1761, Vlissingen; †13 Augustus 1810, Amsterdam) was agtereenvolgens predikant te Harderwijk (1787-1796), Haarlem en Amsterdam. ’n Belangrike bundel met van sy preke het na sy dood in 1813 verskyn. Hy was een van die Waalse predikante wat meegewerk het aan die musiek van die Evangelische Gezangen (1806).

Bronne
Cillié: 426-427; Hymnary.org; KLEG: 95-96.