Lied 237

Ilse Pelem

Sections

Downloads

Vir Sang: ‘n PDF-dokument wat ’n melodielyn en lirieke bevat. In sommige gevalle bevat die dokument ook akkoorde.

Vir Begeleiding: ‘n PDF-dokument wat meerstemmige begeleiding vir orrel en/of klavier bevat. In sommige gevalle bevat hierdie dokument ook die lirieke van die lied.

Opname: Opname van van die lied, beskikbaar as mp3-lêer.

Aanbieding: ‘n Powerpoint aanbieding van die lied se lirieke.

Lirieke

1. Heer, ons kom pleit by U;
o God, verlaat ons nie.
U wat die weeskind nie verstoot -
voor U buig ons die knie.

2. Voor U staan ons ontbloot;
ons skuld verdien die dood.
Wees ons genadig en vergeef.
Red ons, Heer, uit ons nood.

3. Maak ons van sonde vry;
leer ons die kwaad vermy;
ons pleit by U in Jesus Naam.
U kan ons weer verbly.

Geskiedenis

Teks
Andries Breytenbach (#151) se oorspronklike teks is vir die eerste keer gepubliseer in die Liedboek (2001).

Melodie
Die melodie ST BRIDE is geskryf deur Samuel Howard en gepubliseer in William Riley se Parochial Harmony van 1762. Hierin was dit die setting vir ’n teks op Psalm 130 en het die titel ST BRIDGET’S gehad. Die titel ST BRIDE is waarskynlik afgelei van die St Bride’s kerk in Fleet Street waar Howard orrelis was. Riley het die melodie ook ingesluit in sy Psalms and Hymns vir gebruik in die kapel van die Asylum House of Refuge for Female Orphans in 1767.

Samuel Howard (*1710, Londen; †13 Julie 1782, Londen) was ’n koorsanger in die Chapel Royal onder leiding van William Croft (#277) en het later tenoor gesing vir GF Handel se koor onder die leiding van dr Johann Christoph Pepusch (1667-1752). In 1769 verwerf hy ’n doktorsgraad in musiek aan Cambridge. Hy het gelyklopende orrelposte beklee by St Bride, Fleet Street (1736-1782) en St Clement Dane, The Strand (1769-1782). Howard was ’n gewilde liedskrywer en komponeer kantates en heelwat musiek vir die teater. Sy kerkmusiek sluit in ’n aantal melodieë en anthems. Twee van sy melodieë, naamlik HOWARD en ST BRIDE, word vandag nog algemeen gebruik. Howard het William Boyce (1710-1779) bygestaan met die samestelling van Cathedral Music (1736-1782).

Bronne
Cillié: 427-428; HCHAM: 677; Hymnary.org; Knight: 91; PHH: 720-721.