Lied 222

Ilse Pelem

Sections

Downloads

Vir Sang: ‘n PDF-dokument wat ’n melodielyn en lirieke bevat. In sommige gevalle bevat die dokument ook akkoorde.

Vir Begeleiding: ‘n PDF-dokument wat meerstemmige begeleiding vir orrel en/of klavier bevat. In sommige gevalle bevat hierdie dokument ook die lirieke van die lied.

Opname: Opname van van die lied, beskikbaar as mp3-lêer.

Aanbieding: ‘n Powerpoint aanbieding van die lied se lirieke.

Lirieke

Loof die Here God
en prys sy heil'ge Naam.
Loof die Here God -
Hy red my van die dood.

Bless the Lord, my soul,
and bless his holy Name.
Bless the Lord, my soul,
He rescues me from death.

Geskiedenis

Teks
“Bless the Lord, my soul” kom uit die Taizé-gemeenskap. Die parafrase van Psalm 103:1 is geskryf deur Robert Batastini. Die Afrikaanse weergawe in die Liedboek (2001) is geskryf deur Elsabé Kloppers (#154).

Robert J Batastini (*1 Januarie 1942, Chicago) het in Chicago grootgeword. Hy studeer musiekopvoedkunde, instrumentale musiek en kerkmusiek aan die De Paul Universiteit en dien as orrelis en koormeester in Katolieke kerke in Chicago, Brookfield en Downer’s Grove in Illinois. In 1965 word hy musiekdirekteur van die St Barbara Katolieke Kerk in Brookfield, Illinois. Hy lei hier ’n voortreflike musiekprogram tot met sy aftrede in 1987. Hy is die beste bekend vir sy werk by GIA Publications in Chicago waar hy as redakteur begin werk het in 1967. Hy word later vise-president en senior redakteur. Hy was uitvoerende redakteur en projekbestuurder van verskeie publikasies soos die Worship Hymnal­reeks (1971, 1975 en 1986); Gather Compre­ hensive Hymnal (1994) en die Catholic Community Hymnal (1999). Hy keer terug na gemeentebediening vanaf 1991 tot 1998 as musiekdirekteur van die St Joseph Church in Downers Grove, Illinois. Hy gee steeds verskeie werkswinkels en lesings en Batastini word in 1993 die eerste ontvanger van die Father Lawrence Heimann Citation vir ’n lewenslange bydrae tot kerkmusiek en liturgie in die VSA. Hy is ook benoem as “Pastoral Musician” van die jaar in 2000 deur die National Association of Pastoral Musicians. In 1982-1988 dien hy op die bestuur van die Hymn Society of America en was president vanaf 1986-1988. Hy is tot erelid van die organisasie benoem in 2006. Batastini was ook instrumenteel tot die bekendstelling van die musiek van die Taizé- en Iona-gemeenskappe in Amerika. Hy het verskeie liedmelodieë, begeleidings vir kerkliedere, psalmrefreine en ander liturgiese musiek geskryf. Sy artikels rakende pastorale aspekte van liturgiese musiek verskyn in verskeie tydskrifte en joernale. Hy tree op as besoekende dosent by verskeie universiteite. Batastini word beskou as een van die belangrike Amerikaanse Katolieke kerkmusici van die 20ste eeu.

Melodie
Die melodie vir die teks “Bless the Lord, my soul” is geskryf deur Jacques Berthier (#181) in 1984 en in dieselfde jaar uitgegee deur Ateliers et Presses de Taizé.

Bronne
CDH; CUMH: 719; HC: 299-300; Hymnary.org; PHH: 458-459.