Lied 219

Ilse Pelem

Sections

Downloads

Vir Sang: ‘n PDF-dokument wat ’n melodielyn en lirieke bevat. In sommige gevalle bevat die dokument ook akkoorde.

Vir Begeleiding: ‘n PDF-dokument wat meerstemmige begeleiding vir orrel en/of klavier bevat. In sommige gevalle bevat hierdie dokument ook die lirieke van die lied.

Opname: Opname van van die lied, beskikbaar as mp3-lêer.

Aanbieding: ‘n Powerpoint aanbieding van die lied se lirieke.

Lirieke

1. Laat ons sing van ons Verlosser,
Hy wat wys hoe liefde lyk.
Deur sy kruisdood het die Here
self sy hand na ons gereik.
Sing, o sing van ons Verlosser,
aan die kruis het Hy gely.
Deur sy dood bring Hy versoening,
van ons skuld maak Hy ons vry.

2. Laat ons praat met almal om ons
oor die hoop wat in ons leef.
Jesus Christus het in liefde
al ons sonde ons vergeef.
Sing, o sing van ons Verlosser,
Hy oorwin die dood en hel.
Ons het deel aan sy oorwinning,
oral wil ons dit vertel.

3. Laat ons sing oor Hom wat t'rugkeer
aan die einde van die tyd:
"Bruidegom, die bruid verwag U:
altyd tot u lof bereid."
Sing, o sing van ons Verlosser,
Hy kom trug, Hy maak ons nuut.
"U, die Heerser oor die wÍreld,
Seun van God, o hoor ons lied."

Geskiedenis

Teks
Die teks “I will sing of my redeemer” is geskryf deur Philip Bliss in 1876. Dit is vir die eerste keer gepubliseer in Welcome Tidings, A New Collection for Sunday School (1877) waarvan Robert Lowry, William H Doane (#205) en Ira D Sankey die redakteurs was. Hannes van der Merwe het die teks in Afrikaans verwerk vir die Liedboek (2001). Van der Merwe het te kenne gegee dat sy teks eerder gebaseer is op “I will sing” van Bliss en nie “Alleluja! Sing to Jesus” soos aangedui in die Liedboek (2001) nie. Laasgenoemde teks is in 1833 deur William C Dix (1837-1898) geskryf.

Philip Paul Bliss (*9 Julie 1838, Clearfield County, Pennsilvanië; †29 Desember 1876, Ashtabula, Ohio) het as jong seun die huis verlaat om op plase te gaan werk terwyl hy ook probeer het om sy skoolopleiding te voltooi. Hy kom tot bekering tydens ’n herlewingsbyeenkoms (Revival) toe hy 12 jaar oud was. Bliss studeer aan die Normal Academy of Music in Genesco, New York. Hy ontvang musiekopleiding van John G Towner en William Bradbury (#543). Hy het gewerk vir die uitgewer Root and Cady in Chicago vir vier jaar, as komponis en redakteur van verskeie “gospel song- books” en as ’n vryskutmusikant. Sy eerste lied is gepubliseer in 1864 en in 1868 raai Dwight L Moody hom aan om ’n singende evangelis te word. Vir die laaste twee jaar van sy lewe reis hy saam met die prediker, Major DW Whittle (1840-1901) en tree op as musiekleier tydens sy herlewingsbyeenkomste in die Midde-Weste en Suide van die VSA. Bliss se publikasies sluit in Gospel Songs (1874), The Charm, a collection of Sunday School music (Chicago, 1871), Sunshine for Sunday Schools (Cincinnati, 1873) en The Joy (Cincinnati, 1873). Gospel Hymns and Sacred Songs (1875) en Gospel Hymns No. 2 (1876) is saamgestel in samewerking met Ira Sankey. Hierdie volumes het grootliks daartoe bygedra om die genre van “gospel” himnodie te vestig. Teen die einde van 1876 reis Bliss en sy vrou na Chicago om te sing in die Tabernakel van Whittle en Moody toe albei in ’n treinongeluk sterf. Hulle trommel met hierdie liedteks daarbinne word egter gered.

Johannes Francois (Hannes) van der Merwe (*17 Julie 1966, Pretoria) gaan skool aan die Laerskool Meyerspark (1979) en matrikuleer aan die Hoërskool Silver- ton (1984). Hy studeer hierna aan die UP waar hy BA Hons (Semitiese Tale), BD (cum laude) en ’n MA Praktiese Teologie (Gemeentebou) verwerf. Na afloop van sy studies verrig hy nasionale diensplig op Kimberley. Hy is georden op 3 Maart 1991 en bedien die NH gemeentes Kempton/Kemptonpark-Oos (1992), Philadelphia (studente, 1995), Rustenburg-Suid (2003) en Pretoria-Oos (2010). Hy het as hoërskoolleerder reeds gedigte geskryf en op universiteit ook ligte Afrikaanse liedjies wat deur sy suster op langspeelplate opgeneem is. Tydens sy ampstyd in Kemptonpark was hy gemoeid met jeugbediening en is toe op die Hervormde Kerk se komitee vir kerkliedere be- noem. Hierdie komitee is gestig met die doel om te werk aan nuwe kerkliedere en Van der Merwe se taak was om toe te sien dat daar ook liedjies vir jongmense geskep word. Kort hierna is die komitee geïnkorporeer in die Gesangekommissie, as afvaardiging van die NHKA wat gewerk het aan die gesange vir die Liedboek. Hy is ’n uitstekende berymer en skrywer van kerkliedtekste en het nege tekste tot die Liedboek (2001) bygedra. Na die voltooiing van die Liedboek is daar na ’n paar jaar binne die NHKA ’n Kerkliedkomitee gestig om verder te werk aan die skepping van liedere vir dié kerk. Die bundel Nuwe Liedere 1 het uit hierdie werksaamhede gespruit. Hiervoor het hy nege tekste en een melodie gelewer. Sedert 2012 is hy ook ’n medewerker van die VONKK-werkgroep van die NG Kerk en het reeds 58 tekste en 3 melodieë tot hierdie liedkorpus bygedra.

Melodie
HYFRYDOL (“aangenaam” of “melodieus”) is geskryf deur Rowland Pritchard in 1830. Dit is ingesluit saam met omtrent 40 van sy ander melodieë in Cyfaill y Canterion (The Singer’s Friend) (Llanidlows, 1844). Hierdie versameling was bedoel vir gebruik in Sondagskole. Die melodie verskyn weer in Haleliwiah Drachefn (Halleluja again) (Carmarthen, 1855). Dit was ’n versameling wat deur Grifferts Roberts saamgestel is. HYFRYDOL is Pritchard se enigste welbekende melodie.

Rowland Hugh Pritchard (Prichard) (*14 Januarie 1811, Graienyn, Bala, Meirion- nydd [Merioneth]); †25 Januarie 1887, Holywell, Flintshire) was ’n tekstielwerker en amateur-musikus. Hy het ’n goeie sangstem gehad en is aangestel as sangleier in Graienyn. Hy werk later vir die Welsh Flannel Manufacturing Company in Holywell. Etlike van sy kerkliedmelodieë is in Walliese tydskrifte gepubliseer. Hy publiseer naas Cyfall y Canterion (1844) ook ’n ander versameling van sy liedere, Y Fasged Gerddorol (The Musical Basket) (1846). HYFRYDOL is een van die mees bekende Walliese liedere.

Bronne
CDH; e-poskorrespondensie met Hannes van der Merwe, 2016; HCL: 249-250; HLH: 303; Knight: 59; PHH: 647.