Lied 215

Sections

Lirieke

1. Besing die lof van Jesus saam,
ook eng'le bring Hom eer.
Juig hemel, aarde, roem sy Naam
en dien Hom, volg Hom, loof Hom

Christus is die Heer!

2. O nageslag van Israel,
gee u Messias eer;
erken Hom as Immanuel,
en soek Hom, vind Hom, prys Hom:

Christus is die Heer!

3. Verdwaasde mens, aanvaar dit nou
dat Hy jou heil begeer;
bekeer jou, en sy Gees sal jou
laat loof en prys en jubel

Christus is die Heer!

4. Wees, volkere, opreg en wys;
besef dat Hy regeer;
wil Hom bo alle vorste prys
en eer Hom, daagliks, oral -

Christus is die Heer!

5. Hy wat as die oorwinnaar staan,
kom op die wolke weer.
Hef al wat leef jul loflied aan
en dien Hom, volg Hom, loof Hom -

Christus is die Heer!

Geskiedenis

Teks
Die oorspronklike weergawe van Edward Perronet se lied “All hail the power of Jesus’ Name” het anoniem verskyn in August M Toplady (#239) se joernaal, Gospel Magazine. Die eerste strofe is anoniem gedruk in die uitgawe van November 1779 met die melodie van William Shrubsole, getiteld SHRUBSOLE wat later as MILES LANE bekend geword het. In April 1780 verskyn die volledige lied, met Perronet se naam daarby, in dieselfde tydskrif onder die opskrif: “On the resurrection the Lord is King”. Daar word gesê dat die woorde aan Perronet na die kroning van George III gesuggereer is, vandaar dat dit soms ook genoem word “The Coronation hymn”. Die lied is ingesluit deur die outeur in sy Occasional Verses, Moral and Sacred, Published for the Instruction and Amusement of the Candidly Serious and Religious (Londen, 1785). In 1787 verskyn dit in ’n grondige geredigeerde weergawe in John Rippon se A Selection of Hymns, from the Best Authors intended to be an Appendix to Dr Watts’ Psalms and Hymns.

In Suid-Afrika kom die lied reeds voor in Die Halleluja (1903) en Die Kinderharp. Die eerste Afrikaanse vertaling word gevind in Die Nuwe Halleluja (1931) en Die Halleluja (1951): “Heil U, o Jesus, op die troon”. Attie van der Colf (#164) het die teks gewysig vir die 1978-bundel, “Besing die lof van Jesus saam” en dit is ook opgeneem in die Liedboek (2001).

Edward Perronet (*waarskynlik 1721 of 1726, Sundridge, Kent; †2 Januarie 1792, Canterbury) stam uit ’n familie van Hugenote wat uit Frankryk na Engeland toe gevlug het om en by 1680. Hy gaan skool aan die Sevenoaks School en studeer later aan die St John’s College, Cambridge, waar hy in 1741 gradueer. Sy vader, Vincent, was ’n intieme vriend van die Wesley-broers, en betrokke by die evangeliese her- lewingsbewegings van die Wesleys en Whitfield.

Edward Perronet het onder die Wesleys se spirituele invloed gekom en vir ’n tyd het sy evangeliese doelstellings in hulle eredienste tot sy reg gekom. Hy was georden as ’n geestelike in die Church of England. Perronet het egter sterk menings gehad en het baie verkeerd gesien in die praktyke van die Church of England. Gedurende die 1740’s en 1750’s het hy dikwels saam met die Wesleys gewerk en hy en sy broer word in 1746 rondreisende Metodistepredikers. Die Wesleys het nie die ongeordende predikers toegelaat om die sakramente te bedien nie. Perronet het egter voortgegaan om die nagmaal te bedien en mense aangemoedig om die Anglikaanse kerk te vermy. Sake het vererger toe hy ’n satiriese gedig The Mitre (1757) gepubliseer het waarin hy ’n siedende aanval op die Church of England loods. Die Wesleys het daarin geslaag om die boek te onderdruk en wye verspreiding daarvan te verhoed, maar die skade was reeds gedoen.

Uiteindelik kom Perronet se verbintenis met die Metodiste tot ’n einde en hy word ’n dissenter. Hy eindig sy lewe as predikant van ’n klein Independent Chapel in Canterbury. Gedurende sy bediening skryf Perronet ’n aantal himnes en skrif- berymings wat anoniem in drie volumes gepubliseer is: Select Passages of the Old and New Testament, Versified (1756), A small collection of hymns (1782) en Occasional verses (1785). “All hail the power” is die enigste teks van Perronet wat vandag nog algemeen gebruik word.

John Rippon (*29 April 1751, Tiverton, Devon; †17 Desember 1836, Londen) is gebore in ’n toegewyde Baptiste-familie. Hy studeer aan die Bristol Baptist Academy (1769-1773) en word ’n pastoor van die invloedryke Carter Lane Particular Baptist Church in Southwark, Londen, in 1773. Hy staan hier in die bediening tot met sy dood. Hy was betrokke by aktiwiteite van alle denominasies en bekend vir sy preke en sendingaktiwiteite. Die Rhode Island College het in 1792 ’n eredoktorsgraad aan hom toegeken. Hy word die eerste voorsitter van die Baptiste-unie in 1812. Rippon se grootste bydrae tot die Baptisme en himnologie was sy boek A Selection of Hymns, from the best authors (1787) wat 588 liedere bevat het. Dit was bedoel as ’n aanvulling tot die psalms en liedere van Isaac Watts en word een van die mees populêre Baptiste- liedboeke in Engeland en Noord-Amerika en is selfs in Indië gebruik deur die sende- ling, William Carey (1761-1834). In die Selection is aanpassings en hersienings gemaak van verskeie tekste om die literêre kwaliteit te verbeter en gemeentesang te bevorder. Een van sy hersienings was Edward Perronet se teks “All hail the power of Jesus’ Name”. Die sukses van die bundel lei tot verskeie latere uitgawes (onder meer in 1800 en 1828). Rippon het grootliks bygedra tot die ontwikkeling van “hymn singing” in die Baptistekerk.

Melodie
Die melodie MILES LANE deur William Shrubsole, is geskryf vir die teks van Perronet. Dit is moontlik dat die teksskrywer en die komponis in Canterbury ontmoet het, want Shrubsole het die melodie geskryf op versoek van Perronet. Hy was maar 19 jaar oud toe hy die melodie geskryf het. MILES LANE is anoniem gepubliseer in die 1779-uitgawe van die Gospel Magazine. Die lied was driestemmig met die melodie in die middelstem. Ralph Vaughan Williams (#269) het ’n beroemde opstel geskryf (1943) oor Shrubsole. Hierin verwys hy na die melodie as “a fine tune”. Edward Elgar het dit “the finest tune in English hymnody” genoem. Die melodie is waarskynlik vernoem na die Miles Lane Independent Chapel in Londen waar dit dikwels gesing is. Sommige kommentators meen egter dat die titel ’n korrupsie is van St Michael’s Lane waar die kerk van St Michaels gestaan het.

William Shrubsole (*gedoop 13 Januarie 1760, Canterbury; †18 Januarie 1806, Londen) was ’n koorsanger aan die Canterbury Katedraal vanaf 1770 tot 1777. In 1782 word hy as orrelis van die Bangor-katedraal aangestel, maar hy het in onguns geraak vanweë sy sterk evangeliese neigings. Hy het dikwels nonkonformistiese vergaderings bygewoon en na twee jaar word hy afgedank as orrelis van die Bangor- katedraal. Hy keer terug na Londen waar hy die pos van orrelis aanvaar by die Spa Fields Chapel, een van die kapelle wat aan die hertogin van Huntingdon behoort het. Hy het hierdie posisie tot met sy dood beklee.

Bronne
CDH; Colquhoun: 25-26; CWH: 385; Hymnary.org; Knight: 53-55; PHH: 636-638.