Lied 213

Ilse Pelem

Sections

Downloads

Vir Sang: ‘n PDF-dokument wat ’n melodielyn en lirieke bevat. In sommige gevalle bevat die dokument ook akkoorde.

Vir Begeleiding: ‘n PDF-dokument wat meerstemmige begeleiding vir orrel en/of klavier bevat. In sommige gevalle bevat hierdie dokument ook die lirieke van die lied.

Opname: Opname van van die lied, beskikbaar as mp3-lêer.

Aanbieding: ‘n Powerpoint aanbieding van die lied se lirieke.

Lirieke

1. Kom, volk van God, verhef jul stem,
loof Hom, die kind uit Betlehem -
God wat 'n mens geword het.
Die pad van leed het Hy verstaan,
self het Hy na die kruis gegaan
waar Hy sy bloed gestort het.
Loof Hom, die Here van sy kerk,
prys Hom vir sy verlossingswerk,
eer Hom vir sy genade.
Hy het ons nou met God versoen;
aan God se eise is voldoen.
Juig oor sy liefdedade.

2. Die Christus het ons stryd gestry;
Hy het nie in die dood gebly,
die graf kon Hom nie hou nie.
Hy't na die Vader opgevaar,
regeer sy eiendom van daar -
sal ons Hom nie vertrou nie?
Loof, loof ons Redder, God en Heer,
Hy sien in liefde op ons neer,
in Hom is ons behoue.
"Die Heer kom weer, die Heer kom weer"
juig ons met vreugde keer op keer,
volhardend, met vertroue.

Geskiedenis

Teks
Pieter van de Kasteele se teks “Zingt, Christenschaar! de schoonste stof” het in die Evangelische Gezangen (1806) verskyn. Dit is deur GBA Gerdener (#157) in Afrikaans vertaal as “Sing Kristenskaar die skoonste stof” en gepubliseer in Die Nuwe Halleluja (1931). Dieselfde teks is opgeneem in die AGB (1944) en Die Halleluja (1951). Gerjo van der Merwe (#151) se hersiening “Hef, Christenvolk, ’n lofsang aan”, het verskyn in die 1978-bundel. ’n Nuwe teks “Kom, volk van God” is deur Louwrens Strydom (#174) geskryf vir die Liedboek (2001).

Pieter Leonhard van de Kasteele (*13 Augustus 1748, ‘s Gravenhage; †6 April 1810, Haarlem) studeer vanaf 1764 in die teologie en regte in Utrecht en was vanaf sy studentejare bevriend met Hieronymus van Alphen (#152). Hy verhuis in 1782 na Haarlem. Hy geniet aansien in die openbare lewe en was onder meer voorsitter van die stadsraad onder koning Lodewyk Napoleon. Sy gedigte is in twee dele uitgegee deur sy seun, JC van de Kasteele. Van de Kasteele het ’n groot aandeel gehad in die totstandkoming van die Evangelische Gezangen (1806).

Melodie
Die melodie GENEVAN 68 wat by hierdie lied gebruik word, is dié van Psalm 68 in die Pseaumes Octante Trois de David (Genève, 1551). Die melodie word toegeskryf aan Mathias Greiter (1490-1550) en is oorspronklik gepubliseer as toonsetting vir Psalm 119 in Das Dritt Theil Strassburger Kirchenampt (1525). Volgens hierdie teks heet die melodie ES SIND DOCH SELIG ALLE DIE. Tydens sy verblyf in Straatsburg het Calvyn in aanraking gekom met die psalmmelodieë wat daar in gebruik was. Calvyn het ES SIND DOCH SELIG opgeneem in sy Aulcuns Pseaulmes et Cantiques (Straatsburg, 1539) as melodie vir Psalm 36. In die Pseaumes Octante Trois (Genève, 1551) verskyn die melodie ook by Psalm 68.

Matthäus (Mathias) Greiter (*c 1494, Aichach, Augsburg; †20 Desember 1550, Straatsburg) gaan skool aan die Lateinschule in Augsburg. Hy studeer verder aan die Universiteit van Freiburg im Breisgau. Nadat hy sy studies daar in 1510 voltooi het, word hy ’n beroepsanger en wy sy lewe aan musiek. Hy komponeer meerstemmige liedere wat van besondere kundigheid getuig. Op die laatste teen 1522 word hy ’n monnik in die klooster in Straatsburg. In 1524 verlaat hy, saam met onder andere Wolfgang Dachstein (c 1487-1561), die klooster, trou en verkry burgerreg van die stad. Hy is nou ’n aanhanger van die Lutherse Reformatoriese leerstellings en word onder meer betrek by die samestelling van die Strassburger Kirchenampt (1525). As sanger aan die Münster, liedskrywer en ’n kundige musikus geniet Greiter hoë aansien.

Sy toonsettings van die Psalms (12, 51, 114, 115, 119, 125) stel ’n nuwe hoogtepunt daar in die geskiedenis van die evangeliese kerklied. Die melodie vir Psalm 119 word byvoorbeeld ook deur Calvyn opgeneem in sy Psalmboeke (1539, 1562), waar dit verbind word met Psalm 36 en 68. Kort voor sy dood aan die pes, keer Greiter terug na die klooster en word weer ’n Katoliek.

Bronne
CC; CGLB: 1195-1196; CGLK: 121-122, 709-711; Cillié: 51-52, 127-128; 319; Hymnary.org; KLEG: 121-122, 153; PHH: 200, Pidioux, 1989b.