Lied 208

Vers 1

1. Ek wil die Here loof en prys
solank as ek nog leef.
Aan Hom my dank en eer bewys
omdat Hy my vergeef.
Nooit kan ek Hom vergoed nie,
tog bly Hy gee en gee.
Ek sing dus steeds my lofgesang
aan Hom, my Redder, Heer.

Kry toegang tot die volledige lirieke. Gemeentes met ’n aktiewe kerkmusiek-lisensie wat reeds op Missio.org.za geregistreer is, kan aanteken om alle verse se lirieke te sien.

Kry toegang tot alle bladmusiek en ander aflaaibare lêers. Gemeentes met ’n aktiewe kerkmusiek-lisensie wat reeds op Missio.org.za geregistreer is, kan aanteken om af te laai.

Ich will dem Herren singen – Arno Pötzch 1951; Afrikaanse weergawe Louwrens Strydom 1993
Erna Woll 1959 © Fidula Verlag, Duitsland. Met toestemming gebruik (teks en melodie)
Inligting oor die verwerking van hierdie lied is nie tans beskikbaar nie.
Inligting oor die uitgewer van hierdie lied is nie tans beskikbaar nie.

Teks
“Ich will dem Herren singen” is geskryf deur Arno Pötzch in 1951. Die Afrikaanse weergawe is geskep deur Louwrens Strydom (#174) en is vir die eerste keer gepubliseer in die Jeugsangbundel 2 (1993). Die teks is onveranderd oorgeneem in die Liedboek (2001).

Arno Pötzch (*23 November 1900, Leipzig; †19 April 1956, Cuxhaven) word in armoedige omstandighede groot en moes reeds na sy vader se dood geld verdien deur in ’n ammunisiefabriek te gaan werk. Hy dien as vrywilliger in die vloot en na 1920 kom hy in verbinding met die Herrnhut Broedergemeenskap waar hy toevlug vind en as opvoeder aan die Seunskool en opvoedkundige huis by Kleinwelka (by Bautzen) werksaam is. Na opleiding in kerklike gemeenskapdiens word Pötzch Fürsorger in Zittau en Leipzig. Hy was ook Gerichtshelfer by die Gericht in Halle werksaam. Die kontak met gevangenes maak ’n diep indruk op hom. Die oorgang na teologie het lank geduur en met baie vrae en twyfel gepaard gegaan. Eers in sy 30ste jaar kom hy tot die besef dat hy in die kerk van Christus kan werk. Van 1930 tot 1935 studeer hy teologie in Leipzig en in die voorjaar van 1935 word hy predikant in Wiederau (by Rochlitz). In 1935 word hy vlootkapelaan in Cuxhafen. Gedurende die Tweede Wêreldoorlog bedien hy soldate in België en Nederland en in hierdie tyd ontstaan baie van sy gedigte. In 1948 word hy predikant in die kerk in Cuxhafen (vroeëre Garnisoenkerk) wat in 1950 die naam St Petrikirche kry. In hierdie jare publiseer hy ’n reeks boekies met sy gedigte, liedere en gebede. Dit sluit in Von Gotteszeit und Ewigkeit (1947) en Gottes Gabe täglich Brot – Tischgebete und Tischgesänge (1948). Mensch in Gottes Fährte – Geistliche Gedichte und Lieder volg in 1952. Sy versamelde gedigte verskyn onder die titel Sein Wort geht durch die Zeiten (Stuttgart, 1982) en baie verse vind ingang in versamelings, liedboeke en in die Herrnhut Losungen. Hy sterf onverwags op 55-jaar na ’n blindedermoperasie.

Melodie
Die melodie is geskryf deur Erna Woll in 1959.

Erna Woll (*23 Maart 1917, St Ingbert, Saar; †7 April 2005, Augsburg) studeer musiek vanaf 1936-1938 aan die Evangelisches Kirchenmusikalisches Institut in Heidel- berg onder Wolfgang Fortner (1907-1987). Vanaf 1940-1944 studeer sy komposisie aan die Musiekakademie in München. In hierdie tyd bekeer sy haar tot die Katolieke geloof en studeer nou verder in Katolieke kerkmusiek aan die Musiekakademie in Köln onder andere as student van Heinrich Lemacher (1891-1966) en Herman Schroeder (1904-1984). Vanaf 1950 tot 1962 werk sy as orrelis, musiekonderwyser en koordirekteur aan die Kerkmusiek-Instituut in Speyer.

Hierna onderrig sy as dosent aan die Kollege vir Opvoedkunde in Augsburg (1962- 1969) en later ook as ere-professor aan dieselfde instelling (1969-1972). In 1972 tree sy af weens swak gesondheid, maar na haar herstel gaan sy voort om te komponeer. Sy het aan verskeie professionele verenigings behoort, soos die Werkgemeinschaft Musik, die Ecumenical Lyricists and Composers-werkgroep en die AG Musik wat by die evangeliese jeug betrokke was. Woll ontvang verskeie toekennings tydens haar lewe wat die pouslike erekruis vir haar bydrae tot Katolieke kerkmusiek in 1993 en die Merietetoekenning van die Federale Republiek van Duitsland insluit. Sy skryf ondere andere koormusiek soos Requiem for the Living (1975) en orrelwerke wat ’n Orgeltriptychon (1985) insluit.

Bronne
GDWC; KLEG: 242-243; www.werksgemeinschaft-musik.de