Lied 207

Ilse Pelem

Sections

Downloads

Vir Sang: ‘n PDF-dokument wat ’n melodielyn en lirieke bevat. In sommige gevalle bevat die dokument ook akkoorde.

Vir Begeleiding: ‘n PDF-dokument wat meerstemmige begeleiding vir orrel en/of klavier bevat. In sommige gevalle bevat hierdie dokument ook die lirieke van die lied.

Opname: Opname van van die lied, beskikbaar as mp3-lêer.

Aanbieding: ‘n Powerpoint aanbieding van die lied se lirieke.

Lirieke

1. Eer aan die Vader,
wat alles gemaak het;
eer aan die Seun,
ons Verlosser en Vriend;
eer aan die Gees
wat ons lei in die waarheid -
aan God Drie-enig
ons lof en ons lied.

Ere aan God! Die Heer van alle here
woon ook in ons deur sy Woord en sy Gees
Gee ons die liefde, geloof en vertroue
om u gehoorsame kinders te wees.

2. Heiland, aan U
al ons dank en aanbidding
U het kom soek,
ons van sonde gered.
Deur u verdienste
kom ons na die Vader;
hoor Hy sy kinders
se lied en gebed.

Ere aan God! Die Heer van alle here
woon ook in ons deur sy Woord en sy Gees
Gee ons die liefde, geloof en vertroue
om u gehoorsame kinders te wees.

3. Wek in ons liefde,
o Heer, vir u waarheid:
Waarheid gee insig,
versterk en maak vry.
U is die Waarheid,
die Weg en die Lewe:
U woon in ons
en laat ons in U bly.

Ere aan God! Die Heer van alle here
woon ook in ons deur sy Woord en sy Gees
Gee ons die liefde, geloof en vertroue
om u gehoorsame kinders te wees.

4. Maak ons, o Heer,
u getroue getuies
dat ons met vreugde
dit oral vertel:
Christus, oorwinnaar
oor dood en oor chaos.
Hy ken ons nood,
Hy kom red en herstel.

Ere aan God! Die Heer van alle here
woon ook in ons deur sy Woord en sy Gees
Gee ons die liefde, geloof en vertroue
om u gehoorsame kinders te wees.

5. Heer van die skepping
en Heer oor ons lewe:
niks wat u aandag,
u almag ontgaan.
Groot is u werke,
herskeppend u liefde;
heerlik, o Heer,
is u heilige Naam.

Ere aan God! Die Heer van alle here
woon ook in ons deur sy Woord en sy Gees
Gee ons die liefde, geloof en vertroue
om u gehoorsame kinders te wees.

Geskiedenis

Teks
“Ere sy God, U die bron van ons lewe” was ’n tradisionele lied van die Christen Studentevereniging (CSV). Dit is in 1927 verwerk deur GBA Gerdener (#157). Attie van der Colf (#164) maak ’n nuwe weergawe daarvan vir die Jeugsangbundel (1984): “Eer aan die Vader, wat alles gemaak het”. Hierdie teks is ook opgeneem in Sing onder mekaar (1989) en met verdere wysigings gepubliseer in die Liedboek (2001).

Melodie
Anders as wat gewoonlik aangedui word, is hierdie melodie nie van Indiese oorsprong nie, maar kom reeds voor by ’n teks wat Francis Havergal (#308) in 1878 geskryf het: “True-hearted, whole-hearted”. Dit is gekomponeer deur William J Kirkpatrick en staan dan ook bekend as TRUE HEARTED. (Dit moet nie verwar word nie met Stebbins se melodie TRUE HEARTED waarop hierdie teks ook gesing word). Dit is waarskynlik vir die eerste keer gepubliseer in die Metodiste-liedboek Showers of Blessing (1888). William James Kirkpatrick (*27 Februarie 1838, Duncannon, Perry County, Pennsil- vanië; †20 September 1921, Philadelphia, Pennsilvanië) word groot in ’n musikale huis. Sy vader moedig hom aan om verskeie instrumente te leer speel wat insluit “fife”, fluit, viool, tjello en orrel. In 1854 vestig hy hom in Philadelphia waar hy sing in die Harmonia Sacred Music Society en die Handel and Haydn Society of Philadelphia. Hier ontmoet hy verskeie komponiste en studeer ook verder in musiek. Sy eerste komposisie “When the spark of life is waning” word in 1858 gepubliseer in die Musical Pioneer (New York). Hy word op 17-jarige ouderdom lid van die Wharton Street Methodist Church en vier jaar later publiseer hy sy eerste versameling van“camp-meeting songs” in Devotional Melodies (Philadelphia, 1859) in samewerking met Abraham S Jenks (1820-1895). In 1865 word hy aangestel as orrelis en musiekleier by die Ebenezer Methodist Episcopal Church in Philadelphia. Hy doen diens as ’n “fife major” in die 91ste Regiment van die Pennsylvania Volunteers tydens die Civil War. Na die oorlog bedryf hy ’n meubelsaak tot 1878. Hierna wy hy sy tyd aan musiek toe. Vanaf 1886 tot 1897 was Kirkpatrick musiekdirekteur van die Grace Methodist Episcopal Church in Philadelphia. Vanaf 1880 tot 1921 is hy ’n medewerker in die samestelling van byna 100 versamelings van “gospel songs” waarvan baie deur sy eie Praise Publishing Company gepubliseer is. Dit sluit onder meer die volgende in: Quiver of Sacred Song (Philadelphia, 1880), The Wells of Salvation (Philadelphia, 1881), Winning Songs (Philadelphia, 1892), en Songs of Love and Praise, No. 3 (Philadelphia, 1896). Hierna volg nog etlike ander publikasies: Glorious Praise (Louisville, 1904), Revival Melodies (Kansas City, Missouri, 1921) en Waves of Glory (Kansas City, Missouri, 1921). Hy is bekend as die komponis van verskeie melodieë waaronder TRUST IN JESUS (1882), REDEEMED (1882), JESUS SAVES (1882), CRADLE SONG (1895) en LEAD ME TO CALVARY (1921). Hy toonset ook tekste van Fanny Crosby (#205).

Bronne
CDH; CUMH: 782; e-poskorrespondensie met Dirk Laurie, 20 Oktober 2016; Hymnary.org; www.hymntime.com