Lied 205

Ilse Pelem

Sections

Downloads

Vir Sang: ‘n PDF-dokument wat ’n melodielyn en lirieke bevat. In sommige gevalle bevat die dokument ook akkoorde.

Vir Begeleiding: ‘n PDF-dokument wat meerstemmige begeleiding vir orrel en/of klavier bevat. In sommige gevalle bevat hierdie dokument ook die lirieke van die lied.

Opname: Opname van van die lied, beskikbaar as mp3-lêer.

Aanbieding: ‘n Powerpoint aanbieding van die lied se lirieke.

Lirieke

1. Bring lof aan die Vader,
verheerlik die Seun,
vir liefde, genade,
verlossing en steun -
dat elkeen wat glo
nie verlore mag gaan
maar ewig voor Hom
as verloste kan staan.

Loof die Heer, loof die Heer -
sing, gelowiges, saam!
Loof die Heer, loof die Heer -
prys sy heilige Naam!
Hy kom uit genade
ons sondes versoen
dat ons Hom vrymoedig
ons Vader kan noem.

2. Ons lof aan die Skepper
wat altyd getrou
sy kerk hier bewaar,
dit vernuwe en bou -
ons bly inspireer
en ons stuur deur sy Gees
om sout en om lig
vir die wÍreld te wees.

Loof die Heer, loof die Heer -
sing, gelowiges, saam!
Loof die Heer, loof die Heer -
prys sy heilige Naam!
Hy kom uit genade
ons sondes versoen
dat ons Hom vrymoedig
ons Vader kan noem.

3. Ons lof, ons aanbidding,
o Vader, ons lied
is nietige klanke,
deur kinders gebied.
Tog sien U ons nood
en verhoor ons gebed -
oneindig die liefde
wat U vir ons het.

Loof die Heer, loof die Heer -
sing, gelowiges, saam!
Loof die Heer, loof die Heer -
prys sy heilige Naam!
Hy kom uit genade
ons sondes versoen
dat ons Hom vrymoedig
ons Vader kan noem.

Geskiedenis

Teks
Mrs Frances van Alstyne, beter bekend as Fanny Crosby, die skrywer van hierdie lied was nie ’n teoloog nie, maar sy het geweet om ’n Christen te wees gaan nie oor die mens se goeie werke nie, maar wel oor dit wat God vir die sondaar gedoen het. ’n Mens word in hierdie lied gedurig daaraan herinner dat ons ’n groot God dien vir wie niks onmoontlik is nie. In kontras met baie ander 19de-eeuse gospelliedere (insluitende die meeste van Crosby se tekste) lei hierdie lied die aandag weg van die persoonlike belewenis na die glorie van God. Die teks is waarskynlik rondom 1872 geskryf en vir die eerste maal gepubliseer in WH Doane en RS Lowry se bundel, Brightest and Best (New York, 1875), vir gebruik in Sondagskole. Dit word aanvanklik geïgnoreer deur Amerikaanse kerke, maar die lied word bekend in veral Engeland tydens die evangelisasieveldtogte (1873-1874) van Moody en Sankey. Dit word nog meer populêr na die insluiting daarvan in Ira D Sankey (1840-1908) se Sacred songs and solos (1875, 1903). As gevolg van die gebruik daarvan tydens Billy Graham se veldtogte (“crusades”) in 1954, het die lied in gewildheid toegeneem in Brittanje, Australië en die VSA.

’n Afrikaanse weergawe verskyn in die Evangelie­Liedere (hersiene uitgawe, 1977/1978): “Aan God al die ere”, maar dit is nie bekend wie die vertaler is nie. Attie van der Colf (#164) maak ook ’n Afrikaanse teks wat in Sing onder mekaar (1989) gepubliseer word. Hierdie teks, “Bring lof aan die Vader” is in gewysigde vorm in die Liedboek (2001) opgeneem.

Francis (Fanny) Jane Crosby (Cosby) (*24 Maart 1820, Putnam County, New York; †12 Februarie 1915, Bridgeport, Connecticut) stam uit ’n Puriteinse Gereformeerde agtergrond in Connecticut naby New York. Die familie se geskiedenis kan teruggevoer word tot by die Magna Carta in die vroeg 13de eeu en na die Massachusetts Bay- kolonie in 1635. Die bekende 20ste-eeuse minnesanger, Bing Crosby, stam ook uit hierdie familie.

Crosby word blind nadat ’n dokter aan haar die verkeerde behandeling vir ’n oog- kwaal gegee het toe sy ses weke oud was. Haar vader sterf toe sy ’n jaar oud was en sy is grootgemaak deur haar moeder, ouma en ’n Christen-vriend. Sy het begin om gedigte skryf toe sy agt jaar oud was en publiseer later verskeie bundels soos A Blind Girl, and Other Poems (1844). Toe sy 12 was, skryf sy in aan die New York City School for the Blind en het later hier vir 15 jaar lank skoolgehou. In 1859 trou sy met ’n blinde musikant, Alexander Van Alstyne, en saam produseer hulle ’n aantal liedere. Sy het begin om voltyds kerkliedtekste te skryf toe sy in haar veertigs was. Fanny Crosby was so ’n ywerige liedskrywer en haar uitsette het so talryk geword dat sy van talle skuilname gebruik gemaak het onder andere Charles Bruce, Henrietta Elizabeth Blair, Lizzie Edwards, Ryan Dykes en Sally M Smith. Sy publiseer minstens 8 000 evangeliese liedere in haar leeftyd. By tye was sy onder kontrak by haar uitgewer om tot drie tekste per week te skryf en het dikwels ses of sewe op een dag geskryf. Haar tekste is getoonset deur verskeie prominente 19de-eeuse gospelliedkomponiste soos William B Bradbury (#543), William H Doane, Robert S Lowry (1826-1899), Ira D Sankey en William J Kirkpatrick (1838-1921). Haar werk is verpopulariseer en wyd versprei gedurende die 19de en vroeg 20ste eeu deur die gebruik daarvan tydens evangelisasiedienste (die sogenaamde Revivals) in Amerika en Groot Brittanje. Sy was een van die mees gerespekteerde vroue van haar tyd en baie prominente persone, insluitende die president van die VSA, het onder haar vriende getel. Haar mees bekende lied is sekerlik “Blessed Assurance, Jesus is Mine” (Lied 514). Fanny Crosby word groot met Presbiteriaanse verbintenisse en was sterk onder die invloed van die Holiness Movement. Sy het noue kontak gehad met heelwat Protestantse kerke, maar word eers lidmaat van ’n kerk in 1887 toe sy by die Cornell Methodist Episcopal Church in New York aansluit.

Melodie
Die melodie TO GOD BE THE GLORY is geskryf deur William Doane, ’n goeie vriend van Fanny Crosby. Dit is spesiaal vir hierdie teks geskryf en gepubliseer in Doane en Lowry se bundel, Brightest and Best (New York, 1875), vir gebruik in Sondagskole. Sommige kenners meen dat die lied reeds in William H Doane se Songs of Devotion (1870) verskyn het, maar dit kon nie bevestig word nie.

William Howard Doane (*3 Februarie 1832, New London County, Connecticut; †24 Desember 1915, South Orange, New Jersey) was ’n Amerikaanse sakeman, belegger, filantroop, komponis en samesteller van liedboeke. Hy het verskeie plaaslike open- bare skole besoek totdat sy vader hom aan die Academy in Woodstock ingeskryf het, ’n Congregational skool waar hy in 1848 gradueer. In die vorige jaar het hy hom bekeer tot die Baptisme en aangesluit by die Central Baptist Church in Norwich, Connecticut. Doane se belangstelling in musiek het begin toe hy nog ’n jong seuntjie was. Toe hy ses jaar oud was, het hy ’n sangskool bygewoon, op tien jaar was hy lid van die kerkkoor en toe hy veertien jaar oud was, word hy as leier van die Woodstock Academy Choir verkies. ’n Jaar later was hy vaardig op die fluit, kontrabas en kabinetorrel. Toe hy 16 was, komponeer hy sy eerste melodie. Sy talent is ontwikkel deur verskeie onderwysers, insluitende Kanboysen Kingsley (geen datums beskikbaar) en BF Baker (1811-1889) van Boston. Vanaf 1848 tot 1849 is Doane die koorleier van die Baptiste-kerk in Voluntown, Connecticut, en vanaf 1852 tot 1854 die dirigent van die Norwich Harmonic Society. In 1861 word sy eerste “hymnbook”, Sabbath School Gems, gepubliseer en is opgevolg deur Little Sunbeams (Cincinnati, 1864) en Silver Spray (Cincinnati, 1867), waarvan meer as 300 000 kopieë in twee maande verkoop is. Hy was eintlik ’n sakeman van beroep en vanaf 1850 verbonde aan J Fay & Co, ’n groot houtwerk- masjieneriefabriek in Cincinnati. Hier was hy vir ’n aantal jare Sondagskoolhoof en koordirigent van die Mount Auburn Baptist Church. Hy het sy toewyding aan die kerk getoon deur ondersteuning vir die evangelisasiespan van Dwight L Moody (1837- 1899) en Ira Sankey (1840-1908) en deur skenkings aan die Moody Bible Institute in Chicago en Denison University in Granville, Ohio. Hy was ’n amateurkomponis en het oor die 2 200 “hymns” en gospelmelodieë geskryf. Hy was ook die redakteur van meer as 40 “songbooks”. Hy werk veral saam met die Baptiste-prediker en komponis, Robert Lowry (1826-1899) en hulle publiseer talle Sondagskoolversamelings. Dit sluit in: Happy Voices (New York, 1865), Pure Gold (New York, 1871), Brightest and Best (New York, 1875), Gospel Music (New York, 1877), Gospel Hymns and Tune Book (Philadelphia, 1879) en Good as Gold (New York, 1880). Een van Doane se belangrikste bydraes tot die himnologie was sy werk as musikale redakteur van die Baptist Hymnal (Philadelphia, 1883). Hy het dikwels met Fanny Crosby saamgewerk en meer as 1 000 melodieë vir haar tekste geskryf. Ongeveer 30 van sy melodieë word vandag nog gebruik. Dit sluit in PASS ME NOT, O GENTLE SAVIOUR, TO GOD BE THE GLORY en TELL ME THE OLD,

OLD STORY. Hy het liedere geskryf vir Moody en Sankey asook gewyde en sekulêre liedere, anthems en kantates. Doane ontvang ’n eredoktorsgraad in Musiek van die Denison University, Granville, Ohio, in 1875.

Bronne
AAH: 376-377; CDH; CUMH: 666-667, 736; CWH: 415; Knight: 52-53; PHH: 640-642; www.umcdiscipleship.org