Lied 203

Ilse Pelem

Sections

Downloads

Vir Sang: ‘n PDF-dokument wat ’n melodielyn en lirieke bevat. In sommige gevalle bevat die dokument ook akkoorde.

Vir Begeleiding: ‘n PDF-dokument wat meerstemmige begeleiding vir orrel en/of klavier bevat. In sommige gevalle bevat hierdie dokument ook die lirieke van die lied.

Opname: Opname van van die lied, beskikbaar as mp3-lêer.

Aanbieding: ‘n Powerpoint aanbieding van die lied se lirieke.

Lirieke

1. Loof die HEre, al wat lewe
wil Hom danj en hulde bring -
Hy het al ons skuld vergewe;
ons 'n nuwe lied laat sing
Loof Hom, prys Hom! Loof en prys Hom!
Loof die Vader, God en Heer!

2. Loof Hom wat in groot genade
ons deur eeue heen behou;
loof Hom vir sy reddingsdade -
vas kan ons op Hom vertrou.
Loof Hom, prys Hom! Loof en prys Hom!
Hy's genadig en getrou.

3. Soos 'n vader sorg vir kinders,
sorg die Heer vir wie Hom vrees.
Hy vergewe hul oortredings
en berei 'n vreugdefees.
Loof Hom, prys Hom! Loof en prys Hom!

Geskiedenis

Teks
In die verlede was Henry Lyte se naam veral verbind met “Abide with me” (Lied 582), maar nou word hy eerder verbind met “Praise my soul” wat een van die mees populêre kerkliedere in die Engelse taal is. Dit is gepubliseer in Lyte se The Spirit of the Psalms (1834). Die liedere in hierdie boek was nie net eenvoudige parafrases soos die metriese psalms nie, maar poëtiese interpretasies van die psalms. “Praise my soul” is gesing op verskeie belangrike geleenthede soos die huwelikseremonie van George VI en koningin Elizabeth en van Elizabeth II en die hertog van Edinburgh. Laasgenoemde het plaasgevind 20 November 1947 – die presiese datum van die honderdjarige herdenking van Lyte se dood.

Die Afrikaanse teks wat in die 1978-bundel opgeneem is, is deur Attie van der Colf (#164). Dit is net so oorgeneem in die Liedboek (2001). Die teks is gebaseer op Psalm 103.

Henry Francis Lyte (*1 Junie 1793, Ednam, Kelso, Skotland; †20 November 1847, Nice, Frankryk) het sy opvoeding ontvang aan die Portora Royal School, Enniskillen, waar hy ook begin het om gedigte te skryf. Vanaf 1811 studeer hy aan die Trinity College, Dublin, waar hy die Kanseliersprys vir digkuns vir drie jaar agtereenvolgens ontvang. Hy gradueer in 1814 (BA) en oorweeg ’n loopbaan as mediese dokter, maar besluit gou daarteen en word ’n geestelike leier. Hy word as priester georden en sy eerste gemeente was Taghmon, naby Wexford. Hy het hier gewerk vir agtien maande totdat kroniese asma hom gedwing het om te bedank. Hy reis hierna te perd deur Frankryk. Met sy terugkeer na Engeland kry hy in 1818 ’n pos in Marazion, Cornwall. Terwyl hy hier was, ervaar hy ’n diep geestelike belewing by die sterfbed van ’n kollega wat sy hele lewensuitkyk verander het. Hy verhuis verskeie kere gedurende die 1820’s, maar vestig homself in 1824 in Brixham. Hy ontwikkel ’n lewendige belangstelling in opvoeding en stig onder meer die eerste Sondagskool in die Torbay-gebied. In 1826 word hy die eerste priester in Lower Brixham. Sy Poems chiefly Religious (Londen, 1833; tweede uitgawe, 1845) verskyn en bevat sommige van sy vroeë liedere. Die meeste van sy bekende liedere kom egter uit The Spirit of the Psalms (London, 1834); dit sluit in “Praise, my soul, the King of heaven”. Lyte se hoop op bevordering word gekniehalter deur sy toenemende swak gesondheid. Gedurende die 1840’s bring hy, ter wille van sy gesondheid, al meer tyd in Europa deur, veral in Italië. In 1847 gaan bly hy weens besonder swak gesondheid vir die somer in Berry Head, Devon, waar hy sy beroemde lied “Abide with me” (Lied 582) skryf. In Oktober 1847 keer hy terug na die kontinent waar hy in Nice oorlede is. ’n Postume versameling wat deur sy dogter uitgegee is, bevat van sy gedigte, preke en briewe: Remains of the late Henry Francis Lyte (1850).

Melodie
LAUDA ANIMA (ook bekend as BENEDIC ANIMA) is gekomponeer in 1868 deur John Goss vir Lyte se teks “Praise, my soul, the King of heaven” en gepubliseer in die derde uitgawe van Robert Brown-Borthwick se Supplemental Hymn and Tune Book with New Appendix (Londen, 1869). Dit is ook ingesluit in Hymns Ancient and Modern (1875) en is al beskryf as “one of the finest, if not the finest” van die Victoriaanse kerkliedmelodieë. John Goss (*27 Desember 1800, Fareham, Hampshire; †10 Mei 1880, Londen) se vader, Joseph, was die orrelis van die plaaslike gemeente in Fareham. Op 11-jarige ouderdom gaan hy na Londen en word ’n koorseun in die Royal Chapel. Hy is opgelei as sanger, maar aangesien geen instrumentale onderrig gegee is nie, het hy homself geleer om orrel te speel. Later het hy wel orrel en komposisie studeer by Thomas Attwood (1765-1838), die orrelis van St Paul’s-katedraal. Hy beklee hierna agter- eenvolgens orrelposte by die St Andrew’s Church, Lambeth en St Luke’s in Chelsea. Goss publiseer ook ’n versameling in vier volumes, naamlik Parochial Psalmody (1826). In 1838 volg hy Attwood op as orrelis van St Paul’s-katedraal – ’n pos wat hy tot met sy aftrede in 1872 behou het. In dieselfde jaar word hy tot ridder geslaan. In 1856 word hy benoem as komponis van die Chapel Royal. Goss onderrig harmonie aan die Royal Academy of Music vir 47 jaar en skryf ’n handboek as hulpmiddel in sy onderrig. Hy stel ook kerkmusiekpublikasies saam in die tipiese “ancient and modern” idee van sy tyd. ’n Voorbeeld hiervan is sy Chants, Ancient and Modern (Londen, 1841). Naas ’n paar vroeë “glees” en madrigale, skryf hy “services”, ’n magnificat en Nunc dimittis, 2 Te Deums en 45 anthems, hoofsaaklik na 1850. Hy het baie kerkliedere geskryf waaronder ’n lied vir die begrafnis van Wellington. Hy was baie talentvol en word dikwels beskryf as die beste komponis van Engelse kerkmusiek van sy tyd, naas Samuel Wesley. Daar is ’n monument opgerig tot sy eer in die grafkelder van St Paul’s Katedraal in Londen.

Bronne
CDH; Colquhoun: 21-22; HC: 318; Knight: 14; PHH: 642-643.