Lied 202

Vers 1

1. Prys Hom, die Hemelvors,
op sy verhewe troon,
loof Hom aan Wie die hemelkoor
hul hulde steeds betoon.
Aan Hom, die Skepperheer,
kom toe die eer en mag.
Sy Woord het alles voortgebring,
roem ewig sy gesag.

Kry toegang tot die volledige lirieke. Gemeentes met ’n aktiewe kerkmusiek-lisensie wat reeds op Missio.org.za geregistreer is, kan aanteken om alle verse se lirieke te sien.

Kry toegang tot alle bladmusiek en ander aflaaibare lêers. Gemeentes met ’n aktiewe kerkmusiek-lisensie wat reeds op Missio.org.za geregistreer is, kan aanteken om af te laai.

Crown Him with many crowns – Matthew Bridges 1851; Louwrens Strydom 1993 / 2001 (postuum)
DIADEMATA- George Elvey 1868
Inligting oor die verwerking van hierdie lied is nie tans beskikbaar nie.
Inligting oor die uitgewer van hierdie lied is nie tans beskikbaar nie.

Teks
Die teks is ’n samestelling van tekste deur twee verskillende outeurs, albei geïnspireer deur Openbaring 19:12. Matthew Bridges se ses-strofige teks “Crown Him with many crowns”, is gepubliseer in sy Hymns of the Heart for the Use of Catholics (1851). Godfrey Thring word gevra om hierdie teks te verbeter, maar hy skryf in plaas daarvan ’n nuwe teks wat in sy Hymns and Sacred Lyrics in 1874 gepubliseer is. Die Church of England Hymn Book publiseer in 1880 ’n saamgestelde teks uit hierdie twee tekste. In sy Hymns and sacred Lyrics (1874) het Thring ook ses strofes gepubliseer wat begin met “Crown Him with crowns of gold”. Hy skryf in ’n voetnota: “The greater part of this hymn was originally written at the request of the Rev. H.W. Hutton, to supply the place of some stanzas in Matthew Bridge’s [sic] well-known hymn, of which he and others did not approve; it was afterwards thought better to rewrite the whole, so that the two hymns might be kept entirely distinct.”

Die Afrikaanse weergawe deur Louwrens Strydom (#174) verskyn vir die eerste keer in die Jeugsangbundel 2 (1993) en is met ’n klein wysiging opgeneem in die Liedboek (2001). Strydom se teks is gebaseer op Openbaring 4 en 5.

Matthew Bridges (*14 Julie 1800, Malden, Essex; †6 Oktober 1894, Sidmouth, Devonshire) het grootgeword in die Church of England. Alhoewel hy ’n boek skryf The Roman Empire under Constantine the Great (1829) waarin hy hom uitspreek teen die Katolieke geloof, kom hy onder die invloed van die Oxford Movement en verlaat die Church of England om ’n Katoliek te word. Bridges skryf ’n aantal geskiedkundige werke sowel as gedigte en kerkliedere wat hy publiseer in versamelings soos Hymns of the Heart (1847) en The Passion of Jesus (1852). Hy woon vir ’n tyd lank in Quebec, Kanada, maar keer voor sy dood terug na Engeland waar hy woon in die Convent of the Assumption in Sidmouth, Devon.

Godfrey Thring (*25 Maart 1823, Alford, Somersetshire; †13 September 1903, Shamley Green, Guilford, Surrey) is gebore in die pastorie van Alford (Church of Eng- land) waar sy vader die rektor was. Hy studeer aan Balliol College, Oxford en is gewy as priester van die Church of England in 1847. Nadat hy in verskeie gemeentes diens gedoen het, keer Thring terug na Alford en Hornblotten in 1858 waar hy sy vader as rektor opvolg, ’n posisie wat hy tot met sy dood in 1903 beklee. Hy was ook verbonde aan die Wells Cathedral (1867-1893). Na 1861 skryf Thring baie kerkliedere (hymns) en publiseer verskeie kerkliedboeke (“hymnals”), insluitende Hymns Congregational and Others (1866), Hymns and Sacred Lyrics (Londen, 1874) en die hoogsgerespekteerde A Church of England Hymn Book Adapted to the daily services of the church throughout the year (1880). Laasgenoemde is later uitgebrei tot The Church of England Hymn Book (1882).

Melodie
Die melodie DIADEMATA is gekomponeer deur George J Elvey vir die teks van Bridges. Dit is vir die eerste keer gepubliseer in die Appendix tot Hymns Ancient and Modern (1868). Sedertdien word dit met hierdie teks geassosieer. Die naam DIADEMATA is afgelei van die Griekse woord vir “krone” na aanleiding van die teksgedeelte “In Capite Ejus, Diademata multa” (Op 19:12).

George Job Elvey (*27 of 29 Maart 1816, Canterbury; †9 Desember 1893, Windle- sham, Surrey) word ’n koorsanger en orrelstudent by die Canterbury-katedraal. Hy studeer by die orrelis van die katedraal, Highmore Skeats, trou met sy dogter en studeer ook onder sy broer Stephen. Hy sit sy studies voort aan die Royal Academy of Music en die New College, Oxford, (BA, 1838 en DM, 1840). In 1835 word hy aangestel as orrelis en meester van die seunskoor van die St George’s Chapel, Windsor, deur koning William IV – ’n pos waarvoor SS Wesley en George Smart ook aansoek gedoen het. Hy het hierdie pos beklee tot met sy aftrede in 1882. Gedurende hierdie tyd onderrig hy baie bekende musici wat onder andere sir Hubert Parry (#210) ingesluit het. Hy word tot ridder geslaan deur koningin Victoria in 1871 en is begrawe buite die wesfront van die St George’s Chapel. Elvey komponeer liturgiese musiek, anthems, twee oratoriums en kerkliedmelodieë. Twee van sy ander melodieë wat vandag nog in gebruik is, is St GEORGE’S en WINDSOR.

Bronne
Colquhoun: 35-36; CUMH; CWC: 353-354; HC: 741-742; HLH: 244; Knight: 55; PHH: 569-570.