Lied 199

Sections

Lirieke

1. Loof die Here uit die hemel,
loof Hom deur wie ons bestaan;
loof Hom eng'le, hemelwesens,
loof Hom son en prys Hom maan.

Kom en loof Hom, kom en prys Hom,
kom en loof die Heer se Naam!

2. Loof die Here alle volke,
loof Hom alles wat bestaan;
loof Hom weerlig, sneeu en wolke,
loof Hom meer en oseaan.

Kom en loof Hom, kom en prys Hom,
kom en loof die Heer se Naam!

3. Loof Hom konings, alle vorste,
almal wat op aard' regeer;
loof Hom kinders, mans en vroue,
loof Hom almal, buig jul neer.

Kom en loof Hom, kom en prys Hom,
roem sy Naam, kom loof die Heer!

Geskiedenis

Teks
“Loof die Here uit die hemel” is ’n nuwe Afrikaanse teks van Elsabé Kloppers (#154) wat op Psalm 148 gebaseer is. Dit is die eerste keer in die Liedboek (2001) gepubliseer.

Melodie
REGENT SQUARE is aanvanklik gekomponeer deur Henry Smart in verbinding met die teks Glory be to God the Father (doksologie) van Horatius Bonar (1808-1889) wat in Hymns of Faith and Hope (1866) gepubliseer is. Die melodie is gepubliseer in Psalms and Hymns for Divine Worship (1867). Dit is vernoem na die Regent Square Church in Londen waar dr William Hamilton predikant en Smart die orrelis was. Hamilton en Smart was die redakteurs van Psalms and Hymns.

Henry Thomas Smart (*25 Oktober 1813, Londen; †6 Julie 1879, Londen) was die seun van die violis, dirigent en musiekuitgewer, Henry Smart, en het sy skoolopleiding by Highgate gehad. As kind bring hy tyd deur by die orrelboufirma Robson en mag hy ook wetenskaplike lesings bywoon by die Royal Institution. Hy bekwaam hom in die regte, maar na vier jaar in die regsberoep besluit hy om eerder ’n musiekloopbaan te volg. Hy het sy vroeë musiekopleiding van sy vader ontvang. Daarna studeer hy op sy eie en met groot toewyding, veral in orrel, totdat hy as ’n hoogsgeskoolde orrelis beskou is. Sy orrelposte sluit in Blackburn Parish Church (1831-1836); St Giles, Cripplegate (1836-1838); St Philips, Regent Street (1838-1844); St Luke’s, Old Street (1844-1864); en St Pancras Church (1865-1879). Hy het orrels ontwerp vir die Leeds Stadsaal (1858) en die St Andrew’s Hall (1877) in Glasgow. Smart was hoogaange- skrewe in sy tyd en kon weens sy improvisatoriese vaardigheid steeds werk as orrelis nadat hy in 1865 blind geword het. Sy dogter het sy musiek genoteer. Van sy melo- dieë is REGENT SQUARE en LANCASHIRE die bekendste. Hy was ook een van die vyf orreliste wat genooi is om te speel by die Great Exhibition (1851) in Londen. Na sy aanstelling by St Philips was hy onder meer ook musiekredakteur van die Chorale Book (1865) en die Presbyterian Hymnal (1875). Hy het ook melodieë bygedra tot Hymns Ancient and Modern (1861) en Psalms and Hymns (1867).

Bronne
CWH: 102-103; HC: 51-52, 238-239; HCLBW: 151-153; PHH: 508.