Lied 198

Sections

Lirieke

1. God is my lied, sy almag ken geen perke
Heer is sy Naam,
volmaak sy skeppingswerke;
die groot heelal is sy gebied.

2. Niks is van my, dis alles u genade;
ek sien u goedheid oral, troue Vader,
u lof sal op my lippe bly.

3. Waar God gebied,
sal ons geen onheil vrees nie,
want niemand kan soos Hy 'n redder wees
nie - aan Hom my lof, aan Hom my lied.

Geskiedenis

Teks
Christian Gellert se oorspronklike gedig “Gott ist mein Lied” is gepubliseer in sy Geistliche Oden und Lieder (Leipzig, 1757). Gellert se teks is in Nederlands vertaal deur Ahasverus van den Berg en gepubliseer in die Evangelische Gezangen (1806). GBA Gerdener (#157) het die teks in 1931 in Afrikaans vertaal en dit verskyn ook in die AGB (1944). Vir die 1978-bundel het Gerjo van der Merwe (#151) dit gewysig. Daar is weer veranderinge aan die teks aangebring in die Liedboek (2001).

Christian Fürchtegott Gellert (*4 Julie 1715, Hainichen, Sakse; †13 Desember 1769, Leipzig) gaan skool aan die vorstelike skool St Afra in Meissen in 1729-1734. Hy was die seun van ’n Lutherse pastor. Reeds as 13-jarige geniet hy groot waardering vir sy digkuns in sy familiekring. In 1734 skryf hy in aan die Universiteit van Leipzig as student in teologie en filosofie. Hy onderbreek in 1738 sy studies waarskynlik weens ’n tekort aan geld. Hy tree vir ’n ruk lank as hulpprediker op in sy vader se kerk. In 1741 keer hy terug na die universiteit en word onder meer opgeneem in die kring van die digter Johann Christoph Gottsched (1700-1766). Laasgenoemde maak dit vir hom moontlik om geleentheidsgedigte te skryf en sodoende vul hy sy karige inkomste aan. Vanaf 1741 begin hy om van sy fabels uit te gee. Hy verwerf ’n meestersgraad in 1743 en kort na die eksamen verskyn sy Lieder of liefdesgedigte. Hierna volg teaterstukke, prosawerke en ’n roman. In hierdie tyd as skrywer word hy vanaf 1745 ook privaat dosent aan die Fakulteit Filosofie van die Universiteit van Leipzig en gee lesings oor poësie, spraakkuns, etiek en moraliteit. In 1751 word hy aangestel as buitengewone professor in filosofie. Vir die kerklied van belang is die publikasie van sy Geistliche Oden und Lieder (1757). Hierdie liedere word gou net so gewild soos sy fabels en word in liedboeke van verskillende denominasies opgeneem en in baie tale vertaal. Komponiste soos CPE Bach, Haydn en Beethoven het hiervan getoonset.

Ahasverus van den Berg (*20 Februarie 1733, Dordrecht; †6 Januarie 1807, Arnhem) skryf van jongs af gedigte en debuteer met ’n bundel Lijkgedichten (1752). In 1755 word heelwat van sy gedigte gepubliseer in die bundel Concordia et Labore. Van der Berg studeer teologie in Groningen en bedien as Hervormde predikant gemeentes in Bruchem (1762), Barneveld (1766) en sedert 1778 in Arnhem. In Barneveld kom hy in aanraking met die literêre kringe van digters soos JC Lavater. Van den Berg wend hom dikwels tot Duitse digters soos Gellert en Klopstock se werk vir die vertaling daarvan en was ook goed bekend met die Duitse kerkliedere. Hy het ’n besondere belangstelling in gemeentesang gehad en het probeer om verstand en gevoel saam te bind in die kerklied. So was hy die afgevaardigde vir die provinsie Gelderland by die kommissie wat ’n nuwe psalmberyming (1772/1773) moes saamstel. Hy tree ook op as voorsitter van die kommissie. Van den Berg was een van die sterk dryfkragte agter die totstandkoming van die Evangelische Gezangen van 1806. In hierdie verband moet sy Proeven van geestelijke Oden en Liederen (Utrecht, 1777, 1783, 1795 en 1805) vermeld word. Voorts is sy Gedachten over Geestelijke Oden en Liedern, insbesonderheid tot gebruik bij den Openbaren Godsdienst (1802) ook van belang.

Melodie
Die melodie GOTT IST MEIN LIED is aanvanklik gekomponeer vir Gellert se gelyknamige teks deur CPE Bach in 1787. Hoewel die periode van die Aufklärung (tweede helfte van die 18de eeu) musikaal gesproke oor die algemeen gesien word as een van verval, is daar tog enkele melodieë wat in hulle monotone eenvoud lig werp op die himnodiese denkwyse van die tyd. CPE Bach se melodie GOTT IST MEIN LIED is ’n voorbeeld hiervan. In 1787 verskyn sy bundel 14 Neuen Melodien zu einigen Liedern des neuen Hamburgischen Gesangbuchs waarin hy bypassende melodieë daarstel vir onder meer tien van Gellert se gedigte.

Carl Philip Emanuel Bach (*8 Maart 1714, Weimar; †14 Desember 1788, Hamburg) was die tweede seun van Johann Sebastian Bach en sy vrou, Maria Barbara. Hy betree die Thomasschule in Leipzig toe hy tien jaar oud was. Vanaf 1731 studeer hy in die regte aan die Universiteit van Leipzig en vanaf 1735 in Frankfurt an der Oder. Hy behaal sy graad in 1738, maar roep dadelik die regsberoep vaarwel toe en besluit om ’n musiekloopbaan te volg. ’n Paar maande later bekom hy ’n aanstelling in diens van die kroonprins van Pruise en word in 1740 ’n lid van die koninklike huishouding. In 1746 word hy bevorder tot kamermusikus – teen hierdie tyd was hy een van die voorste klawerbordspelers (Clavierspieler) van sy tyd. Hy werk saam met Joachim Quantz vir 22 jaar aan die hof van Frederick die Grote. In hierdie tyd skryf hy ’n Magnificat, simfonieë en ander konsertmusiek. In 1768 volg hy Georg Philipp Telemann op as kapelmeester in Hamburg en gee gevolglik baie meer aandag aan kerkmusiek. CPE Bach skryf onder meer oratoriums soos Die Israeliten in der Wüste en Die Auferstehung und Himmelfahrt Jesu. Tussen 1769 en 1788 word oor die twintig settings vir die Passies, sowat 70 Kantates, litanieë, motette en ander liturgiese musiek gekomponeer. Sy hooffokus bly egter die komposisies vir klawerbord wat vanaf 1731 dateer. Oor die 200 werke sluit in ongeveer 30 sonates en konsertstukke vir die klavier waaronder die Sonaten für Kenner und Liebhaber en die sonates “mit veränderten Reprisen” en verskeie klawesimbelkonserte en ander solowerke. Sy didaktiese boek, Versuch über die wahre Art das Clavier zu spielen (Berlyn, 1762), bied ’n sistematiese metode vir die onderrig van klawerbordinstrumente. CPE Bach het ’n groot reputasie gehad, veral gedurende die tweede helfte van die 18de eeu. Hy is hoog geag deur komponiste soos Mozart, Haydn en Beethoven.

Bronne
BPVN; CGLB: 740-743, 1144-1146; Cillié: 61-62; www.bach-cantates.com; resources.huygens.knaw.nl