Lied 196

Vers 1

1. O kon ek jubel, Hemelvader,
met duisend stemme, tot u eer
hoe sou ek juigend tot U nader
en U my danklied bring, o Heer!
Ek sou u roem en lof vermeld,
u wonderdade, ongeteld!

Kry toegang tot die volledige lirieke. Gemeentes met ’n aktiewe kerkmusiek-lisensie wat reeds op Missio.org.za geregistreer is, kan aanteken om alle verse se lirieke te sien.

Kry toegang tot alle bladmusiek en ander aflaaibare lêers. Gemeentes met ’n aktiewe kerkmusiek-lisensie wat reeds op Missio.org.za geregistreer is, kan aanteken om af te laai.

Johann Mentzer 1704; Paul Geertsema 1978; gewysig 2001
O daß ich tausend Zungen hätte – Johann König 1738
Inligting oor die verwerking van hierdie lied is nie tans beskikbaar nie.
Inligting oor die uitgewer van hierdie lied is nie tans beskikbaar nie.

Teks
Die oorspronklike teks “O dass ich tausend Zungen hätte” is geskryf deur Johann Mentzer. Kort nadat hy in Chemnitz aangekom het, het ’n plaashuis in die omgewing afgebrand. Dit word beweer dat hy die lied (die bekendste van sy liedere) na aanlei- ding van hierdie gebeure geskryf het om aan te toon dat Christene rede het om God te loof en prys in alle omstandighede. Die teks is vir die eerste keer gepubliseer in Johann Freylinghausen se Neues Geistreiches Gesangbuch (Halle, 1704). Paul Geertsema het die teks verwerk en verkort en dit is postuum opgeneem in die 1978-bundel. Dit is gewysig in die Liedboek (2001).

Johann Mentzer (*27 Julie 1658, Jahmen, Rothenburg, Silesië; †24 Februarie 1734, Kemnitz, Oberauslitz) gaan skool aan die Gimnasium in Bautzen en studeer later teologie in Wittenberg. In 1691 word hy pastor in Metzdorf en twee jaar later in Hauswalde naby Bischofswerde. In 1696 word hy in Chemnitz (Sakse) aangestel en bly hier tot met sy dood. Hy beweeg in piëtistiese kringe en was ’n vriend van graaf Nicolaus Ludwig Zinzendorf (#505). Hy skryf ongeveer 40 liedtekste.

Johann Anastasius Freylinghausen (*2 Desember 1670, Gandersheim, Wolfen- büttel; †12 Februarie 1739, Halle, Sakse) skryf sy lewensverhaal in die ouderdom van 61 jaar. Sy vader was ’n koopman. Toe hy 12 jaar oud was, gaan hy saam met sy broers na die skool in Einbeck. Hy keer in 1688 terug en begin in 1689 met sy teologiese studies in Jena. Vriende oortuig hom om eerder in 1691 na Erfurt te gaan. Hier hoor hy die Lutherse teoloë Justus Breithaupt (1658-1732) en August Hermann Francke (1663-1727) preek. In 1692 verhuis hy na Halle (an der Saale) waar hy die geskrifte van Johann Arndt, Philip Jakob Spener en Martin Luther bestudeer. In 1693 preek hy vir die eerste keer en in 1694 word hy deur bemiddeling van Francke aangestel as hulpprediker in Glaucha (Halle). Freylinghausen bly in Francke se huishouding totdat hy Francke in dieselfde jaar as vocatus adjunctus na St Ulrich in Halle volg. Toe Francke in 1727 sterf, neem hy sy plek as pastor van St Ulrich oor. In 1728 kry hy ’n beroerte, sy gesondheid verswak en hy sterf in die teenwoordigheid van sy familie. Naas sy gesangeboeke, waaronder die Neues Geistreiches Gesangbuch (Halle, 1704), skryf hy ook teologiese werke en preke oor die Evangelies en die Kategismus.

Paul Geert Geertsema (*20 April 1918, Siddeburen, Nederland; †28 April 1986, Kaapstad) verwerf die Nasionale Senior Sertifikaat deur privaat studie in 1942. Hy behaal in 1945 die BA- en in 1948 die BD-graad aan die destydse Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (PU vir CHO). Hy is gelegitimeer op 29 Sep- tember 1949. Aanvanklik is hy predikant by die volgende Hervormde Gemeentes: Benoni (1949), Otjiwarongo (1951), Balfour (1974), Wonderfontein (1978) en die Nederlandssprekende Gemeente (1981). Tussendeur was hy ook verbonde aan enkele gemeentes van die Gereformeerde Kerk: Middelburg (destydse Transvaal, nou Mpumalanga, 1955), Johannesburg-Noord as sendeling (1956), Kaapstad (1959), Reformed Church of Perth, Australië (1963), Johannesburg Sentraal (1967) en Louis Trichardt as sendeling (1970). In 1961 verwerf hy die DD-graad aan die UP met die titel: “Die Christelik-etiese implikasies van die sewende gebod met betrekking tot die sending in Suid-Afrika.”

Melodie
Die melodie O DASS ICH TAUSEND ZUNGEN HÄTTE is vermoedelik geskryf deur Johann König. Dit het verskyn in sy Harmonischer Liederschatz (Frankfurt, 1738) as melodie vir Angelus Silesius (Johann Schefler) se lied “Ach sagt mir nichts von Gold und Schätzen”. Die melodie het later ’n vaste verbinding gekry met Mentzer se teks.

Johann Balthasar König (*gedoop 28 Januarie 1691, Waltershausen, Thüringen; †begrawe 2 Februarie 1758, Frankfurt am Main) is sedert 1703 lid van die stadkapel in Frankfurt am Main wat vanaf 1711 tot 1721 deur GP Telemann ( 1681-1767) gelei is. In 1721 volg hy Telemann op as musiekdirekteur van die St Katharinen-kerk in Frankfurt en bykomend in 1727 ook van die Barfüsser-kerk. Hy bewerkstellig ’n nuwe oplewing in die musieklewe van Frankfurt na die bloeitydperk onder die leiding van Telemann. König komponeer verskeie kantates (geestelik en sekulêr) en sorg ook by geleentheid vir opera-opvoerings. Hy beywer hom egter veral vir die verbetering van gemeentesang en publiseer in hierdie verband ’n boek Unmassgeblicher Vorschlag wie dem übelsingen in den Frankfurther Kirchem abzuhelfen sei (1724). Dit word opgevolg met sy Harmonischen Liederschatz, oder allgemeines Evangelisches Choral­Buch (1738).

Hiervoor het hy ongeveer 90 gesangboeke geëvalueer en meer as 8 000 tekste en 2 000 melodieë versamel. Hiervan het König minstens 300 self gekomponeer. Hierdie versameling was een van die grootste en mees invloedryke kerkliedbundels van die 18de eeu. Sy doelstellings met die boek was om melodieë vir tekste wat algemeen in gebruik was daar te stel, die melodieë van besyferde bas te voorsien en so goed moontlik singbaar te maak.

Bronne
Cillié: 135-136; Hymnary.org; KLEG: 99-100, 184-185; www.Gereformeerde_kerk_Johannesburg-Noord; Zahn: #2806.