Lied 186

Ilse Pelem

Sections

Downloads

Vir Sang: ‘n PDF-dokument wat ’n melodielyn en lirieke bevat. In sommige gevalle bevat die dokument ook akkoorde.

Vir Begeleiding: ‘n PDF-dokument wat meerstemmige begeleiding vir orrel en/of klavier bevat. In sommige gevalle bevat hierdie dokument ook die lirieke van die lied.

Opname: Opname van van die lied, beskikbaar as mp3-lêer.

Aanbieding: ‘n Powerpoint aanbieding van die lied se lirieke.

Lirieke

1. Ons kom loof U as ons Vader -
ons, wat nou u kinders is.
Ons mag U in Christus nader,
wat ons voorspraak by U is.
Juis vir ons, deur skuld gebonde
en bedorwe van natuur,
is u Seun as borg gestuur.
Vrygespreek van al ons sonde,
kan niks ons van U meer skei -
in u liefde sal ons bly!

2. As ons selfs ons aardse vader
innig liefhet en waardeer,
hoeveel meer, o Hemelvader,
moet ons U nie dien en eer?
Ons wil dankbaar tot U nader -
U so groot in majesteit,
liefde en geregtigheid.
Dat ons U mag ken as Vader
en ons self aan U mag wy -
dit maak ons vir ewig bly!

Geskiedenis

Teks
Die oorspronklike Nederlandse teks “Zal een kind zijn vader minnen” van Abraham Rutgers (#151) is opgeneem in die Evangelische Gezangen (1806). GBA Gerdener (#157) het dit in Afrikaans vertaal in Die Nuwe Halleluja (1931). Hierdie vertaling is hersien vir die AGB (1944) en is weer gewysig deur Gerjo van der Merwe (#151) in die 1978-bundel. Hier het dit nog dieselfde openingsreël as Rutgers se teks: “Sal ’n kind sy aardse vader”. Willie Jonker (#155) het die teks ingekort tot twee strofes in die Liedboek (2001) en daar is nog ’n keer veranderinge aangebring. Die derde strofe van die 1978-weergawe is nou die eerste strofe in die Liedboek en die eerste strofe van 1978 word nou die tweede strofe. Die aanvangsreël is gevolglik ook gewysig: “Ons kom loof U as ons Vader”.

Melodie
Die melodie SOLLT ICH MEINEM GOTT NICHT SINGEN is oorspronklik gekomponeer deur Johann Schop (#167) vir Johann Rist se teks “Lasset uns den Herren preisen, O ihr Christen überall” en word vir die eerste keer gevind in Rist se Himmlische Lieder mit sehr anmuthigen mehrentheils von Herrn Johann Schopen gesetzten Melodeien [sic]. Das erste zehn (Lüneburg, 1641). Rist beweer in 1652 dat die melodieë van Schop in die hele Duitsland gesing is. Die melodie word verder versprei deur die insluiting daarvan in Johann Crüger se Praxis Pietatis Melica (1648). Nie almal was egter gelukkig met Schop se melodie nie. Die Universiteit van Wittenberg vind dit te springerig, daktilies en nie ernstig genoeg om die geheimenisse van die geloof, wat in die geestelike lied besing word, te dra nie. Die melodie is later ook gebruik as toonsetting vir Gerhardt se teks: “Sollt ich meinem Gott nicht singen” (wat nie in die Liedboek opgeneem is nie). Dit is hoe die melodie sy titel gekry het. Die melodie is later aangepas deur Christian Witt in sy PSALMODIA|Sacra| Oder: Andächtige und schöne| Gesänge (Gotha, 1715).

Christian Friedrich Witt (*c 1660, Altenburg; †13 April 1716, Gotha) word in 1686 as kamerorrelis, naas Nicolaus Körner, in Gotha aangestel. Hy was bevriend met die Erfurtse orrelis, Johann Pachelbel (1653-1706). Onder Witt se leiding het daar ’n oplewing plaasgevind in die musieklewe in Gotha. In 1694 word hy kapeldirekteur in Altenburg en in 1713 kapelmeester. Witt was bekend as ’n vaardige klawerbord- speler en het hoë agting geniet. Hy was ook een van die meesters van die vroeë kantate en laat ’n kantatereeks vir die kerkjaar na (1696/1697). Sy koraalboek Psalmodia Sacra (Gotha, 1715) is van besondere belang. Hierin is die melodie MEINE LIEBE HÄNGT AM KREUZ opgeneem. ’n Ander melodie van Witt wat in die Liedboek opgeneem is, is die bekende Lied 525, “Here, hoe blymoedig”.

Bronne
Cillié: 115-116; CGLB: 736-738; CWH: 280.