Lied 183

Ilse Pelem

Sections

Downloads

Vir Sang: ‘n PDF-dokument wat ’n melodielyn en lirieke bevat. In sommige gevalle bevat die dokument ook akkoorde.

Vir Begeleiding: ‘n PDF-dokument wat meerstemmige begeleiding vir orrel en/of klavier bevat. In sommige gevalle bevat hierdie dokument ook die lirieke van die lied.

Opname: Opname van van die lied, beskikbaar as mp3-lêer.

Aanbieding: ‘n Powerpoint aanbieding van die lied se lirieke.

Lirieke

1. Verbly jul in die Here,
die God van Israel.
Sing altyddeur sy ere,
gehoorsaam sy bevel.
Hy stel die see se grense,
laat die seisoene kom.
Sy guns is oor die mense
o almal, buig voor Hom!

2. Verbly jul in die Here,
die wat verlore was.
Hy het jul self versamel
uit elke taal en ras.
Jul wat deur God gered is,
kniel almal nou voor Hom.
Erken dat liefde wet is
en roep: "Die Here kom!"

Geskiedenis

Teks
Bartholomäus Helder skryf die teks “Ich freu mich in dem Herren” en dit verskyn vir die eerste keer in die tweede deel van die Cantionale sacrum, Das ist, Geistliche Lieder von Christlichen und Trostreichen Texten (Gotha, 1648). Dit was ’n liedboek met drie-, vier-, vyf- en meerstemmige verwerkings van geestelike liedere.

Izak de Villiers (#159) se Afrikaanse weergawe in die 1978-bundel is bykans nuut aangesien dit net die eerste reël van Helder se teks benut. Dit is met klein wysigings opgeneem in die Liedboek (2001).

Bartholomäus Helder (*1585, Gotha; †28 Oktober 1635, Remstädt, Gotha) studeer teologie in Leipzig vandat hy 18 jaar oud is. Vanaf 1607 tot 1616 werk hy as kantor in Friemar, die buurdorp van Gotha. Hierna word hy predikant in Remstädt. Daar is nog twee van sy publikasies wat van belang is, naamlik die CYMBALUM GENETHLIACUM (1615) wat Kers- en Nuwejaarsgesange bevat en vir huislike gebruik bestem was. Die CYMBALUM DAVIDICUM (1620) bestaan uit melodieë en gesange vir die psalms van Dawid wat vyf- tot agtstemmig geset is en volgens die motetagtige styl dalk vir die liturgie (koorsang) bestem was. As digter/komponis staan Helder in die tradisie van sy tyd met Johann Hermann Schein (#256) as vernaamste verteenwoordiger.

Melodie
Die melodie ICH FREU MICH IN DEM HERREN is ook geskryf deur Bartholomäus Helder, maar die datum is onseker. Sommige bronne dui dit aan as c 1630.

Bronne
archive.thulb.uni-jena.de; Cillié: 378-379; CWH: 918; Hymnary.org; KLEG: 138-139; Zahn: #5427.