Lied 182

Sections

Lirieke

1. Ons wil, o Heer, U loof en eer
vir liefde en genade.
U swakke kind, deur skuld gebind,
verlos U van die kwade.

2. Ons kniel en buig, aanbid en juig,
verlostes, hier vergader.
Ons is verbly, van skuld bevry,
verbind aan U, ons Vader.

3. Gelowig steun ons op u Seun,
want ons het niks verdien nie.
Ons Heiland het, om ons te red,
nie eens die dood ontsien nie.

Geskiedenis

Teks
Martin Rutilius se oorspronklike gedig, “Ach Gott und Herr”, dateer uit 1604. Rutilius se outeurskap van die teks word soms betwis en sommige geleerdes skryf dit toe aan die Wittenbergse teoloog en digter Johann Major (1533-1600). Bevestiging van Rutilius se outeurskap word gevind in ’n gebedeboek van die burgemeester van Weimar, Melchior Franck (c 1579-1639), waarin die lied aan Rutilius toegeskryf word met die datering 29 Mei 1604. Die eerste gedrukte weergawe van die lied kom voor in ’n preek wat Johann Major gehou het in Jena, 2 Julie 1613. Die eerste weergawe van die preek is gedruk in Jena 1613 en die tweede een in Eisleben ook in 1613.

Die Nederlandse vertaling, “Zoo slaat G’ uw oog”, is deur Abraham Rutgers (#157) en dit is gepubliseer in die Evangelische Gezangen (1806). GBA Gerdener (#157) het die teks in Afrikaans vertaal vir Die Nuwe Halleluja (1931). Dit is gewysig in die AGB (1944). ’n Nuwe weergawe is gemaak deur Gerjo van der Merwe (#151) vir die 1978-bundel en dit is onveranderd geplaas in die Liedboek (2001).

Martin Rutilius (Rüdel) (*1551, Bad Salzelmen; †18 Januarie 1618, Weimar) was die seun van ’n predikant. Hy studeer teologie in Wittenberg en Jena. Vanaf 1575 werk hy as predikant in Teutleben (Gotha). In 1586 word hy diakonus en in 1602 aartsdiakonus in Weimar. Hy beleef vier uitbrake van die pes en moes onder moeilike omstandighede werk. Hy sterf terwyl hy met ’n biduur besig was.

Melodie
Die anonieme melodie ACH GOTT UND HERR se titel is afgelei van ’n melodie op Rutilius se teks “Ach Gott und Herr” in Christian Gall se As Hymnodus Sacer of Zwölff Geistliche / Anmuthige / und Theils newe Gesänge (Leipzig, 1625). Die melodie het mettertyd verskeie wysigings ondergaan. So is dit vereenvoudig in Johann Crüger (#156) se Newes vollkömmliches Gesangbuch (Berlyn, 1640). Dit kom weer voor in Christoph Peter se Andachts­-Zymbeln (Freiburg, 1655) waar dit die setting was vir Rutilius se gelyknamige teks. Die melodie is aangepas in die Nederlandse Evangelische Gezangen (1806).

Christoph Peter (Petraeus) (*1626, Weida, Vogtland; †4 Desember 1669, Guben, Niederauslitz) was onderwyser en kantor in Grossenheim (Sakse) en vanaf c 1642 sangmeester/kantor in die Hauptkirche in Guben waar hy in 1656 burgerreg ont- vang. Sy beduidende bydrae lê in die melodieë wat hy vir Johann Franck (#296) se liedere geskep het (sien Lied 296 en 495 in die Liedboek). Die komposisies van Peter was in sy tyd baie gewild, maar minder geskik vir gemeentesang en dit verklaar hoekom min van sy melodieë in gesangeboeke opgeneem is. In die Geistlichen Arien (1667) probeer hy om die kunssang sterker in die gemeentesang op te neem deur gebruik te maak van liedere waarmee die gemeente vertroud was, maar ook deur die byvoeging van nuwe stof. Hierin verskyn tekste van Johann Franck, Johann Rist en Paul Gerhardt (#156). Sy komposisies word gekenmerk deur Italiaanse invloede en hiervan is die Andacht Zymbeln (Freiberg, 1655), met vier- en vyfstemmige liedere van verskeie komponiste, ’n voorbeeld. Daarin is ook vervat enkele eenstemmige liedere wat ten doel gehad het om die gemeente te lei tot beter begrip van die teks. Ander publikasies sluit in Kantionalsätze (1655) en vyf- tot agtstemmige misse bekend as Thuribulum precationis (1669).

Bronne
ADB; CHW: 198; Cillié: 381-382; HLH: 162,228; KLEG: 268-269.