Lied 181

Sections

Lirieke

Gee ons ware vrede, Jesus Heer.
Gee ons ware vrede, Jesus Heer.
Dona nobis pacem, Domine.
Dona nobis pacem, Domine.

Geskiedenis

Teks
Die teks, “Dona nobis pacem, Domine”, kom uit die Taizé-gemeenskap. Die Afrikaanse weergawe deur Elsabé Kloppers (#154) is gepubliseer in die Liedboek (2001).

Melodie
Hierdie eenvoudige melodie vir “Dona nobis pacem, Domine” is geskryf deur Jacques Berthier, een van die komponiste wat met die Taizé-gemeenskap geassosieer word. Jacques Berthier (*27 Junie 1923, Auxerre, Frankryk; †27 Junie 1994, Parys) was die seun van musikale ouers en studeer aan die École César Franck in Parys. Vanaf 1961 tot met sy dood dien hy as orrelis by die St Ignace-kerk in Parys. Sy werke sluit in talle komposisies vir orrel, stem en instrumente, maar hy word die beste onthou as komponis van musiek vir die eredienste van die Taizé-gemeenskap naby Cluny in Boergondië. Onder die invloed van die Franse liturgie en die kerkmusikus, Joseph Gileneau (1920-2008), begin Berthier liedere skryf in 1955 vir gebruik in die dienste van die opkomende gemeenskap van 20 broeders in Taizé. Soos wat die gemeenskap gegroei het, het Berthier die meeste van die koortjies, kanons en die onderskeie instrumentale verwerkings geskryf, wat nou algemeen beskou word as die Taizé- repertoire. Van sy groter werke sluit in toonsettings vir koor en instrumentale ensemble van Psalm 150, 50 Orrelstukke; die himne Fais paraître ton jour en ’n kantate En forme de croix.

Die eerste tree tot die stigting van die Taizé-gemeenskap is gegee in 1940 toe die 25-jarige Broeder Roger sy geboorteland Switserland verlaat het om in Frankryk te gaan woon. Hy was jare lank siek aan tuberkulose en gedurende ’n lang herstel- periode kry hy ’n roeping om ’n gemeenskap te vestig. Met die begin van die Tweede Wêreldoorlog besluit hy om in Taizé, waar hy hom gevestig het, ’n toevlugsoord vir vlugtelinge te maak. Hy het ’n huis met buitegeboue gekoop en vra sy suster, Geneviève, om hom te kom bystaan. Onder die vlugtelinge was onder andere Jode. Uit respek vir diegene wat hy gehuisves het, bid Broeder Roger alleen en sy suster raai ook die inwoners aan om alleen in hulle kamers te bid. In die herfs van 1942 waarsku ’n vriend hom dat sy bedrywighede aan die owerhede bekend geword het en hy gaan na Genève tot aan die einde van die oorlog. Hier begin hy ’n gemeenskap met die eerste broeders. In 1944 kon hulle terugkeer na Taizé. Geleidelik het nog jong mans by die groep aangesluit. Op Paasfees 1949 was daar sewe broeders in die gemeenskap wat hulle daartoe verbind het om ’n lewe van groot eenvoud te lewe en selibaat te bly. Vandag bestaan die ekumeniese gemeenskap uit meer as honderd broeders – Katolieke sowel as Protestante. Die gemeenskap streef daarna om ’n toonbeeld te wees van versoening tussen verdeelde Christene. Broeder Roger sterf op 16 Augustus 2005 toe hy tydens die aandgebede deur ’n versteurde persoon doodgemaak is. Sedertdien is Broeder Alois, wat broeder Roger as sy opvolger benoem het, die hoof van die gemeenskap.

Bronne
KLEG: 36-37; PHH 352-353; www.taize.fr.html