Lied 175

Sections

Lirieke

Majesteit,
glansryke heerlikheid!
Ons wil Jesus,
die koning, hulde bewys!
Majesteit,
hemelse heerlikheid!
Van waar ons woon, tot by sy troon,
wil ons Hom prys.
Kom ons loof, kom ons besing
die Naam van Jesus!
Kom ons loof, kom ons aanbid
die Here ons God!
Majesteit,
heilige heerlikheid!
Hy het gesterf, ons heil verwerf,
Hy het oorwin!

Geskiedenis

Teks
Jack Hayford het die lied “Majesty” begin skryf in 1977 tydens ’n reis deur Groot- Brittanje in dieselfde jaar as wat koningin Elizabeth die 25ste herdenking van haar kroning gevier het. Die lied is geïnspireer deur die talle koninklike simbole gedurende hierdie periode en sy sterk gedagtes oor die koninklikheid, waardigheid en majesteit van Christus. Die lied is in Kalifornië voltooi. Dit is gepubliseer in 1981. (CDH gee dit as 1978.) Die Afrikaanse weergawe deur Emma Badenhorst verskyn in Jeugsangbundel 2 (1993) en is net so oorgeneem in die Liedboek (2001).

Emmarentia Lydia (Emma) Badenhorst (*10 Junie 1949, Pretoria) se gesin verhuis na Naboomspruit, waar sy skoolgegaan het tot standerd vier (graad ses). Aan die begin van 1961 verhuis hulle na Vryheid, waar sy standerd vyf voltooi het aan die Nuwe Republiek Laerskool. Van standerd ses tot matriek was sy in die Vryheid- Hoërskool. Van 1967 tot 1970 studeer sy by die UP en verwerf die kwalifikasies BA en HOD. In November 1970 tree sy in die huwelik met Jacob Badenhorst – destyds die predikant van die NG Kerk Witbank-Suid. Later het hulle ook die gemeentes Bulawayo- Noord/Wankie (1973-1977), Bergsig, Newcastle (1977-1981) en Standerton-Suid (1981-2010) bedien. Ten tyde van hulle verblyf in Standerton-Suid was sy voorsitter van die Junior Kerkjeugaksie in Suid-Transvaal (later Hoëveld-Sinode). In hierdie hoedanigheid is sy uitgenooi om deel te neem aan die samestelling van die Nuwe Jeugsangbundel (1993). Benewens die vertaling van “Majesteit” het sy ook die tekste van etlike kinderliedere geskryf (Lied 545, 546, 548 en 522). Ook die teks van Lied 356 kom uit haar pen. Hulle woon na haar man se aftrede in Parys. Hier is hulle betrokke by Gevangenisbediening – die voortsetting van ’n aktiwiteit waarmee hulle vir meer as tien jaar ook in Standerton besig was.

Melodie
Die melodie MAJESTY is ook geskryf deur Jack Hayford in 1977/1978.

Jack Williams Hayford (*25 Junie 1934, Los Angeles, Kalifornië) is ’n Amerikaanse skrywer en predikant in die Pinksterkerk (Pentecostal). Hayford behaal grade aan die

L.I.F.E. Bible College in Los Angeles (1956) en die Azusa Pacific University (1970). Hy was predikant in Fort Wayne, Indiana (1956-1960) voordat hy die jeugdirekteur van die International Church of the Foursquare Gospel in Los Angeles (1960-1965) word. Vanaf 1965-1982 dien hy in verskeie hoedanighede aan die L.I.F.E. Bible College. Hy was ’n lid van die fakulteit, studentedekaan en president van die kollege. Hy is ook predikant van The Church on the Way (die voormalige First Foursquare Gospel Church) in Van Nuys, Los Angeles, Kalifornië, sedert 1977 en was president van die International Church of the Foursquare Gospel vanaf 2004 tot 2008. Hayford is ’n gevierde inter- nasionale spreker en prediker, uitsaaier van radio- en televisieprogramme en die skrywer van ongeveer 400 “songs, hymns” en ander komposisies. Hiervan is MAJESTY die mees bekende. Dit word gereken as een van die top honderd kerkliedere wat wêreldwyd gesing word.

Bronne
CDH; e-poskorrespondensie met Jack Badenhorst, September 2014; Hymnary.org; www.jackhayford.org; www.umcdiscipleship.org