Lied 172

Sections

Lirieke

Heilig, heilig, heilig,
God almagtige Heer.
Heilig, heilig, heilig,
God almagtig Heer.
Die aarde getuig van u heerlikheid.
Die aarde getuig van u heerlikheid.
Die aarde getuig van u heerlikheid.
U is heilig, Heer.

Geskiedenis

Teks
“Holy, holy, holy” is geskryf deur Nolene Prince en vir die eerste keer gepubliseer in 1976 deur Maranatha! Music. Haar teks is gebaseer op Jesaja 6:3. Die Afrikaanse weergawe is geskryf deur Elsabé Kloppers (#154) en gepubliseer in die Liedboek (2001).

Melodie
Die melodie PRINCE is ook geskryf deur Nolene Prince in 1976.

Nolene Prince (*1950, Melbourne) kom tot bekering in 1959 gedurende ’n Billy Graham-evangelisasieveldtog. Sy verwerf ’n BMus-graad aan die Melbourne Univer- sity en spesialiseer in sang. Nadat sy ’n ruk lank skoolgehou het, begin sy ’n loopbaan as professionele sanger en tree op in konserte en op die Australiese radio- en televisie- uitsendings. Sedert 1970 wy sy haar musiek aan ’n Christelike bediening. Sy besoek ook die Crusade Bible College (nou Tabor Bible College) in Adelaide in 1972-1973 waar sy studeer onder Leo Harris en Barry Chant. Sy publiseer verskeie volumes van haar liedere. Sy leef en werk in Melbourne en is ’n bekende komponis, koorleier en voorganger by aanbiddingsgeleenthede.

Australië beleef sedert die 1980’s ’n besondere ontwikkeling van “worship songs” wat geassosieer word met die Pentekostalistiese en verwante tradisies. Saam met haar man Dennis stig Prince die Christian Resource Centre in Heatherton (nou bekend as die Kingston City Church), Melbourne. Dit is ’n voorbeeld van ’n kerk wat ’n sterk tradisie van aanbiddingsliedere gekoester het. Die Resource Centre publiseer meer as 40 volumes met liedere (waarvan baie deur Prince geskryf is) in verskillende formate sedert 1981. Prince is ook die samesteller van Australian Resource Song Book (1990). Hierdie repertorium is suksesvol bemark regdeur Australië en is besonder gewild in die Baptiste-kerk, die Salvation Army en die Assemblies of God-kerke.

Bronne
CC; CDH; RCM; Sing a New Creation: 251; www.reformedworship.org