Lied 169

Ilse Pelem

Sections

Downloads

Vir Sang: ‘n PDF-dokument wat ’n melodielyn en lirieke bevat. In sommige gevalle bevat die dokument ook akkoorde.

Vir Begeleiding: ‘n PDF-dokument wat meerstemmige begeleiding vir orrel en/of klavier bevat. In sommige gevalle bevat hierdie dokument ook die lirieke van die lied.

Opname: Opname van van die lied, beskikbaar as mp3-lêer.

Aanbieding: ‘n Powerpoint aanbieding van die lied se lirieke.

Lirieke

1. Heilig, heilig, heilig,
Heer, God almagtig,
groot is u troon,
U is steeds met lof omring!
Heilig, heilig, heilig,
liefderyk, genadig
u troon is steeds
met lig en lof omring!

2. Heilig, heilig, heilig,
Heerser vir ewig;
groot is u Naam
U die Vader, Seun en Gees.
Grote God, ons eer U,
met u hele skepping.
U wat in liefde God regverdig is.

3. Heilig, heilig, heilig,
Heer, so weldadig,
groot is u guns,
want U buig U tot ons neer!
Heilig, heilig, heilig,
magtig en genadig.
U wás en ís en sál vir ewig wees.

Geskiedenis

Teks
Die oorspronklike teks “Holy, holy, holy” is geskryf deur Reginald Heber en is die beroemdste van sy liedtekste. Dit is ’n parafrase van Openbaring 4 en vorm deel van die Sendbrief vir Drie-eenheidsondag in die Book of Common Prayer. “Holy, Holy, Holy” is vir die eerste keer gepubliseer in A Selection of Psalms and Hymns for the Parish Church of Banbury, (Londen, derde uitgawe, 1826). Dit is ook ingesluit in Heber se postume Hymns written and adapted to the Weekly Church Service of the year (1827). Dit het ’n wye sirkulasie veral onder kerke met Anglikaanse herkoms. Lord Tennyson het gemeen hierdie lied was die “greatest ever written” en dit is op sy begrafnis gesing. Die teks van Heber is in Nederlands vertaal en gepubliseer in die Zionsliederen (1871) en in Die Halleluja (1903). Dit kom ook voor in Die Nuwe Halleluja (1931) waar dit ’n Afrikaanse teks het. Dit is nie bekend wie hierdie vertalings gemaak het nie. Attie van der Colf (#164) se weergawe in die 1978-bundel beslaan drie strofes en is sonder wysigings in die Liedboek (2001) opgeneem.

Reginald Heber (*21 Augustus 1783, Malpas; †3 April 1826, Trichonopoly) was die seun van eerwaarde R Heber, die rektor van Malpas, Cheshire. Hy studeer aan die Brasenose College in Oxford en verwerf onder meer die Newdigateprys vir Engelse digkuns in 1803. Hy was die vikaris van Hodnet (Salop, Schropshire) vanaf 1807 tot 1823. Heber het kerkliedere begin skryf deels omdat hy ontevrede was met die swak standaard van psalmsang in sy gemeente en deels omdat hy sterk beïnvloed is deur die lewendige tradisie van gemeentesang in die Metodiste- en Baptistekerk. In 1811 begin hy met die publikasie van sy eie kerkliedere in The Christian Observer en met die hulp van Henry Hart Milman (1791-1868) wend hy die eerste poging aan om ’n stel liedere aan te pas vir die vereistes van die Christelike kerkjaar. Heber was in 1815 dosent aan die Brompton Kollege en prediker van die Lincoln Inn in 1822. In 1823 word hy aangestel as die biskop van Kolkata en deurkruis in hierdie hoedanigheid die hele Indië en stig ook die Bishop Kollege in Kolkata. Na drie jaar in Indië sterf hy aan ’n beroerte. Sy werk Hymns written and adapted for the weekly Church Service of the Year kon hy nie self voltooi nie en dit is postuum deur sy weduwee, Amelia, uitgegee in 1827. Heber het op daardie stadium 98 liedere versamel waarvan 57 deur homself geskryf was. Hoewel sy kerkliedere eers na sy dood gepubliseer is, is almal geskryf terwyl hy in Hodnet was. ’n Standbeeld is vir hom opgerig by die National College in Washington (VSA).

Melodie
Die melodie NICAEA, geskryf deur John Dykes, is vernoem na die stad Nicea waar die geloofsbelydenis van Nicea in 325 AD aanvaar is. Die melodie is vir die eerste keer gepubliseer in Hymns Ancient and Modern (1861) met die teks van Heber. Nicea (nou Iznik) was die antieke stad Bitinië in Klein-Asië, suid van Konstantinopel. Dit is hier waar die eerste algemene raad van die Christelike Kerk in 325 AD deur Konstantyn saamgeroep is. Sowat 300 biskoppe van alle dele van die Christendom het die ver- gadering bygewoon waar die leer van die Drie-eenheid aanvaar is.

John Bacchus Dykes (*10 Maart 1823, Kingstone upon Hull, Engeland; †22 Januarie 1876, Ticehurst, Sussex) se musikale talent is van vroeg af duidelik en op ouderdom 10 speel hy reeds orrel in die kerk van St John’s in Hull waar sy oupa die vikaris was. Dykes word opgelei as geestelike aan die St Catherine Kollege in Cambridge waar hy in 1847 afstudeer. Hy word in dieselfde jaar gelegitimeer en was onder meer in diens van die Durham-katedraal vanaf 1849. In 1862 volg ’n benoeming as vikaris van St Oswalds te Durham. Die Durham-Universiteit ken in 1861 ’n eredoktorsgraad in musiek aan hom toe. Hy word vandag veral onthou vir die byna 300 kerkliedmelodieë wat hy geskryf het.

Dykes word groot in die kader van die Oxford-beweging waarvan een doelstelling was om aandag te gee aan die uitbreiding en ontwikkeling van die kerkmusiek. Daar was komponiste nodig om die waardevolle tekste van digters soos Heber en John Kebble (1792-1866) te toonset. Hierin het Gauntlett (#350) en Dykes die toon aangegee. Dykes staan in die middelpunt van Victoriaanse himnodie. Die meeste van sy melodieë is gepubliseer in Richard Robert Chope (1830-1928) se Congregational Hymn and Tune Book (Londen, 1857). Al sewe van die melodieë wat Dykes voorgelê het aan die musiekkomitee van Hymns Ancient and Modern (1861) is aanvaar. In die uitgawe van 1875 was daar 75 van sy melodieë. Vele van sy melodieë word baie geliefd. Nog ’n bekende melodie van Dykes, MELITA, is ook in die Liedboek (2001) opgeneem (#422, 480). Van hom is ook bekend 28 Hymns for children.

Bronne
CGLB: 1044-1048; Cillié: 54-56; Colquhoun: 32; CWH: 223; HC: 86-87, 232-234; HCLBW: 255-256; Hymnary.org; PHH: 388-389