Lied 167

Ilse Pelem

Sections

Downloads

Vir Sang: ‘n PDF-dokument wat ’n melodielyn en lirieke bevat. In sommige gevalle bevat die dokument ook akkoorde.

Vir Begeleiding: ‘n PDF-dokument wat meerstemmige begeleiding vir orrel en/of klavier bevat. In sommige gevalle bevat hierdie dokument ook die lirieke van die lied.

Opname: Opname van van die lied, beskikbaar as mp3-lêer.

Aanbieding: ‘n Powerpoint aanbieding van die lied se lirieke.

Lirieke

1. Jesus, bron van al my vreugde;
Jesus, lig van my geloof,
U is vol genade, waarheid
U, my Heiland, Heer en Hoof.
Ja, ek is u eiendom;
U, die Seun, U het gekom.
As gestuurde van die Vader
is U self die weg na Hom.

2. Jesus, bron van alle lewe,
Jesus, U wat lof verdien;
U, die bron van alle waarheid,
U laat my die Vader sien.
Ek is by die Vader tuis
waar my hart vol vreugde ruis.
U wat een is met die Vader
het die weg na Hom kom wys.

Geskiedenis

Teks
Con de Villiers het die teks in 1959 geskryf na aanleiding van die Duitse geestelike Martin Janus (Jahn) (c 1620 tot c 1682) se gedig “Jesus bleibet meine Freude” van 1661 wat in die Christlich Herzens Andacht (Nürnberg, 1665) gepubliseer is. Die Engelse vertaling van die gedig is gemaak deur Robert S Bridges (1844-1930) en staan alge- meen bekend as “Jesu, joy of man’s desiring”. In die 1978-bundel is daar net een strofe. Die eerste twee reëls hiervan is van Con de Villiers en die res is gewysig deur Izak de Villiers (#153). In die Liedboek (2001) het Cas Vos (#158) ’n nuwe tweede strofe geskep. Cornelius Gerhardus Stephanus (Con) de Villiers (*16 Desember 1894, Dunghay Park, Caledon; †25 November 1978, Ceres) gaan skool aan die plaasskool “Solitaire” by Caledon. Hy sit hierna sy studies voort aan die Victoria Kollege in Stellenbosch. Hy was ’n ruk lank dosent aan die Transvaalse Universiteitskollege in Pretoria. Vanaf 1919 tot 1920 studeer hy in Zürich waar hy ’n PhD verwerf. In 1923 word hy aange- stel as professor in dierkunde aan die US. Naas vakkundige publikasies, publiseer hy reeds sedert die 1920’s artikels oor musiek in tydskrifte soos Die Huisgenoot. Hy lewer verskeie lesings oor musiek, onder meer vir die Sangfees op Stellenbosch, waardeur hy probeer om studente meer bewus te maak van musiek. Hy toon ook ’n belangstelling in volksmusiek en hiervan getuig sy verwerking en versamelings van Europese en Afrikaanse volksmusiek. Sommige hiervan is in die nuwe FAK­sangbundel (1961) opgeneem. In 1967 vereer die US hom met ’n eredoktorsgraad vir sy bydraes tot kultuur en natuurwetenskap. In 1969 word hy, tydens die sestigste jaarvergadering van die Akademie vir Wetenskap en Kuns, verkies tot erelid vir sy voortgesette bydraes op wetenskaplike, kulturele en literêre terreine.

Melodie
WERDE MUNTER, MEIN GEMÜTE (ook bekend as WERDE MUNTER of JESU JOY) is gekomponeer deur Johann Schop vir Johann Rist (1707-1667) se aandlied “Werde munter mein Gemüte” wat in laasgenoemde se Himmlische Lieder III (Lüneburg, 1642) gepubliseer is. Die bekendste variant van hierdie melodie is die sogenaamde “Jesu, joy of man’s desiring”. Die huidige vorm daarvan soos dit afgedruk is in die Liedboek (2001) is deur die Boheemse Broeders in 1661 uitgegee.

Daar is min inligting oor Johann Schop (*c 1590 in Niedersakse; †1667, Hamburg) se vroeë lewe bekend. Hy word ’n lid van die hoforkes in Wolfenbüttel in 1615, maar in die volgende jaar aanvaar hy ’n pos aan die hofkapel van die Deense koning Christian IV in Kopenhagen. Weens die groot pes verlaat hy Kopenhagen in 1619. In 1621 word Schop aangestel as direkteur van die stadsmusiek in Hamburg. Hier was hy ook stadsorrelis en orrelis van die St Jacobikerk. Sy vriendskaplike verhoudings met die vooraanstaande orreliste, Johann Scheidemann (1596-1663) en Jacob Praetorius (1586-1651), sorg vir lewendige impulse in die kerkmusiek. Vir die huwelik van die Deense kroonprins reis hy in 1634 saam met Heinrich Schütz (#569) en Heinrich Albert (1604-1651) na Kopenhagen. Die Deense koning probeer verskeie kere tevergeefs om Schop in Kopenhagen aan te stel aangesien hy baie gunstige diensvoorwaardes in Hamburg gehad het en naas sy amptelike pligte ook toegelaat is om vryelik konserte aan te bied. Teen hierdie tyd was hy ’n bekende en gerekende instrumentalis en uitvoerder op onder meer die luit, trompet, viool en orrel. Hy hou hom veral besig met die komponeer van instrumentale musiek, maar publiseer ook ’n bundel met vokale musiek, naamlik die Geistliche Concerten (Hamburg, 1643). Vir die kerklied van belang, is dat Johann Rist vir Schop gekies het om die melodieë te voorsien vir sy Himmlische Lieder (Lüneburg, 1641/1642) wat hy in vyf bande met tien liedere elk uitgegee het. Schop se melodieë vind wyd inslag in die evangeliese gemeentesang met die latere insluiting daarvan in Johann Crüger (#156) se Praxis Pietatis Melica. ’n Ander melodie van Schop wat in die Liedboek (2001) opgeneem is, is SOLLT ICH MEINEM GOTT NICHT SINGEN (sien Lied 186, 244 en 435).

Bronne
Cillié: 341; Hymnary.org; KLEG: 281-282; Malan I: 322-323; PHH: 258; www.bach-cantatas.com