Lied 163

Ilse Pelem

Sections

Downloads

Vir Sang: ‘n PDF-dokument wat ’n melodielyn en lirieke bevat. In sommige gevalle bevat die dokument ook akkoorde.

Vir Begeleiding: ‘n PDF-dokument wat meerstemmige begeleiding vir orrel en/of klavier bevat. In sommige gevalle bevat hierdie dokument ook die lirieke van die lied.

Opname: Opname van van die lied, beskikbaar as mp3-lêer.

Aanbieding: ‘n Powerpoint aanbieding van die lied se lirieke.

Lirieke

Soos 'n wildsbok wat smag na water,
smag my siel na U, o Heer.
U alleen is my hartsverlange
en ek bring aan U die eer.
U alleen is my bron van krag;
in U teenwoordigheid wil ek nou wag.
U alleen is my hartsverlange
en ek bring aan U die eer.

Geskiedenis

Teks
“As the deer” is een van die bekendste liedere van Martin Nystrom en gebaseer op Psalm 42. Dit is geskryf in 1983 (sommige bronne dui aan 1981). Die Afrikaanse vertaling daarvan is in 1984 deur Jan de Wet gedoen en in die Jeugsangbundel gepubliseer. Dit is hersien in die Jeugsangbundel 2 in 1993. Die weergawe in die Liedboek (2001) bevat enkele tekswysigings.

Martin (Marty) J Nystrom (*17 Oktober 1956, Seattle, Washington) is ’n liedskrywer. Sy moeder was ’n lidmaat van die Christian Reformed Church en sy vader het groot geword in die Evangelical Covenant Church. Hy gradueer aan die Oral Roberts University met ’n graad in musiekopvoedkunde in 1979 en werk aanvanklik as onderwyser. Nystrom word later musiekdirekteur vir die New York-tak van Christ for the Nations. Meer onlangs dien hy as bestuurder van liedontwikkeling vir Integrity Music vir wie hy ook meer as 70 liedere geskryf het. Nystrom het talle voordragte gelewer by konferensies oor die hele wêreld en al meer as 120 liedere geskryf wat gepubliseer is deur uitgewers van Christelike lofprysings- en aanbiddingsliedere wêreldwyd.

Jan Brand van Rooyen de Wet (3 Februarie 1950, Harrismith) begin sy skooljare in Willowmore en matrikuleer in 1967 aan die Potchefstroom Gimnasium. Hy studeer aan die destydse RAU (nou UJ) en behaal ’n BA (onderwys) in 1971. Hierna verwerf hy ’n verdere onderwyskwalifikasie aan die destydse PU vir CHO (nou NWU) en studeer later (1975-1980) aan die US waar hy ’n graad in teologie behaal en ’n MTh (1985) in diakoniologie oor die kerkjeug en popmusiek. De Wet is sedert 1983 voltyds besig met die bediening van die Woord deur sang en musiek en tree plaaslik en in die buiteland op. Hy word allerweë beskou as die vader van Afrikaanse gospelmusiek. Sy talle opnames sluit ook verskeie albums met geestelike musiek vir kinders in. Van sy gewildste geestelike liedere sluit in “Via dolorosa” en “Hierdie Kind”.

De Wet was ’n stigter van Christian Artists SA, die Christelike Aksie vir Musikante en die South African Gospel Music Association. Sy werk is bekroon met verskeie toekennings: SA Recording Industry (bekend as Sarie-toekennings) in 1975 en 1976 en ’n SAMA vir die produksie Via Dolorosa. Hy wen ook ’n aantal LIER-toekennings en word deur die ATKV vereer met ’n sertifikaat van erkenning vir sy bydrae tot Afrikaanse gospelmusiek. Sedert 2007 dien hy ook as ambassadeur vir Kindersorg Suid-Afrika.

Melodie
AS THE DEER, die melodie vir hierdie lied, is ook geskryf deur Martin Nystrom in 1983.

Bronne
Hymnary.org; www.jandewet.co.za; www.umcdiscipleship.org