Lied 162

Ilse Pelem

Sections

Downloads

Vir Sang: ‘n PDF-dokument wat ’n melodielyn en lirieke bevat. In sommige gevalle bevat die dokument ook akkoorde.

Vir Begeleiding: ‘n PDF-dokument wat meerstemmige begeleiding vir orrel en/of klavier bevat. In sommige gevalle bevat hierdie dokument ook die lirieke van die lied.

Opname: Opname van van die lied, beskikbaar as mp3-lêer.

Aanbieding: ‘n Powerpoint aanbieding van die lied se lirieke.

Lirieke

1. U self het ons geroep,
Heer, en daarom kom ons saam.
Gemeente: U self het ons geroep,
Heer, en daarom kom ons saam.
Verenig as u liggaam,
loof ons u Naam.
Verenig as u liggaam,
loof ons u Naam.

2. (Rig U tog ons gedagtes
en lei ons deur u Gees.)
Rig U tog ons gedagtes
en lei ons deur u Gees.
(Laat ons verseker weet,
Heer, U sal hier wees.)
Laat ons verseker weet,
Heer, U sal hier wees.

3. (Kom open so ons harte
en spreek tot elke oor.)
Kom open so ons harte
en spreek tot elke oor.
(Laat ons van al u dade, u liefde, hoor.)
Laat ons van al u dade, u liefde, hoor.

Geskiedenis

Teks
Die oorspronklike Duitse lied “Du hast uns, Herr, gerufen” is geskryf deur Kurt Rommel in 1967. Die Afrikaanse teks is deur Elsabé Kloppers (#154) geskryf en gepubliseer in die Liedboek (2001).

Kurt Rommel (*20 Desember 1926, Kirchheim; †5 Maart 2011, Bad Cannstatt, Stuttgart) behoort tot die generasie wat hulle skoolopleiding voor en na die Tweede Wêreldoorlog gehad het. Hy word verplig om na sy laaste skooljaar soldaat te word en beleef die laaste jaar van die oorlog. Rommel word in 1945 krygsgevangene geneem in Frankryk en was gelukkig om in die krygsgevangekamp in Montpellier teologie te kon studeer. Na sy vrylating in 1947 sit hy sy studies voort in Tübingen en Heidelberg en lê in 1951 die eerste teologie-eksamen af. Na ’n periode as vikaris in Baiersbron en Schönaich lê hy die tweede teologiese eksamen af in 1953. Tot 1954 werk hy as vikaris (instaanprediker) en later predikant in Friedrichshafen, Bad Cannstadt en Schwenningen. Hy spesialiseer in jeugwerk en in Bad Cannstadt was hy die jeugleraar. Hy is in 1956-1960 streeksjeugleraar in Ravensburg en word in 1963 voorsitter van die Stadsjeugleraarkonferensie van Duitsland. Hy is van 1947 tot 1991 die teologiese en hoofredakteur van die gemeenteblad vir Württemberg. Hy konsentreer veral op die musiek- kulturele opvoeding van die jeug en kom agter dat hulle anders aangespreek word (deur bv musiek) as hulle ouers. Dit lei tot die publikasie van 100 boeke wat insluit honderde kanons en verhalende Bybelse liedere vir gesinsgodsdienste en skoolkinders. Hy skryf meer as 600 kerkliedere. Sy melodieë word gekenmerk deur ’n eenvoudige singbaarheid en sy taalgebruik is duidelik en oortuigend. In sy laaste jare woon hy in Weil der Stadt naby Stuttgart.

Melodie
Die melodie DU HAST UNS, HERR, GERUFEN is ook geskryf deur Kurt Rommel in 1967.

Bronne
CDH; KLEG: 261-262; www.deutscheslied.com