Lied 161

Ilse Pelem

Sections

Downloads

Vir Sang: ‘n PDF-dokument wat ’n melodielyn en lirieke bevat. In sommige gevalle bevat die dokument ook akkoorde.

Vir Begeleiding: ‘n PDF-dokument wat meerstemmige begeleiding vir orrel en/of klavier bevat. In sommige gevalle bevat hierdie dokument ook die lirieke van die lied.

Opname: Opname van van die lied, beskikbaar as mp3-lêer.

Aanbieding: ‘n Powerpoint aanbieding van die lied se lirieke.

Lirieke

Halleluja! Heer, U is ons lewe,
middelpunt van al ons hoop.
U's die doelwit van ons hoogste strewe,
Leidsman van ons lewensloop.
Heer, U is ons Skepper, God, almagtig;
ons Verlosser, Bystand, so barmhartig.
U wat is, en was, sal wees -
Vader, Seun en Heil'ge Gees!

Geskiedenis

Teks
“Halleluja! eeuwig dank en eere” is geskryf deur Abraham Rutgers (#151) en is op- geneem in die Evangelische Gezangen (1806). Die Afrikaanse vertaling in die AGB (1944) was baie naby aan die oorspronklike teks van Rutgers. Gerjo van der Merwe (#151) het geringe wysigings aangebring in die 1978-bundel. Johan Cilliers het ’n nuwe teks geskep vir die Liedboek (2001).

Johannes Hendrik Cilliers (*10 Augustus 1954, Luanshya, Zambië) matrikuleer in 1972 op De Aar. Hy studeer teologie aan die US en die Karl Rupprecht-universiteit in Heidelberg, Duitsland. Hy verwerf verskeie grade: BA (filosofie en Grieks, 1975), BTh (cum laude, 1978), MTh Teologie (cum laude, 1979), Lisensiaat in Teologie (cum laude, 1979) en DTh Teologie (1982). Hy word in 1979 gelegitimeer in Stellenbosch en bedien die volgende NG gemeentes: Montclair, Durban (1983) en Stellenbosch- Sentraal (1988). Hy ontvang demissie op 24 Junie 2001 en word in Julie 2001 aangestel as senior dosent (Homiletiek en Liturgie) aan die Fakulteit Teologie van die US, waar hy bly totdat hy in 2020 aftree. Hy neem ook verskeie leiersposisies in: voormalige hoof van die Departement Praktiese Teologie en Missiologie, voorsitter van die Prakties-Teologiese Werksgemeenskap van Suid-Afrika, asook voormalige president van die internasionale vereniging vir homiletiek Societas Homiletica. Cilliers het ook al opgetree as gasdosent by verskeie oorsese universiteite. Dit sluit in die Universiteit van Umea (Swede), Universiteit van Leipzig, Universiteit van Hamburg, die Vrije Universiteit van Amsterdam sowel as die Humbolt-Universiteit in Duitsland. Hy het al 13 boeke geskryf oor prediking, liturgie en estetika en oor die 100 akademiese artikels gepubliseer. Vir sy 23 populêre godsdienstige boeke het hy verskeie pryse ontvang van die CBSA. Hy ontvang ook erkenning vir sy werk as dosent, onder meer die Rektorsprys vir Uitstaande Leer en Onderrig (2003) en die prys vir die beste dosent van die Golden Key International Honour Society en die Akademiese Belangeraad van die US in 2008. Vir sy uitstaande akademiese artikels ontvang hy verskeie Rektorspryse vir Uitstaande Navorsing (2010, 2013, 2014, 2015 en 2016). Hy is ’n gegradeerde navorser van die Nasionale Navorsingstigting (NNS) en het stipendia van die Harry Oppenheimer-gedenktrust, die NNS en die Navorsingskomitee van die US ontvang. Cilliers dra verskeie liedtekste by tot die Liedboek (2001).

Melodie
HERR UND ÄLTSTER DEINER KREUZGEMEINDE was oorspronklik ’n volksmelodie en ’n weergawe wat om 1740 (sommige bronne gee as datum 1735) gedateer word, het die titel “Hörst du’s Älster, du incomparabler” gehad. In die Gesang­buch zum Gebrauch der evangelischen Brüder Gemeinen (Barby, 1778) het ’n geestelike teks daarby verskyn. Christian Gregor het dit gewysig in ’n begeleiersboek vir hierdie bundel wat hy in 1784 saamgestel het. In moderne gesangboeke soos die Moravian Book of Worship (1995) staan die melodie ook bekend as COVENANT en word by ’n aantal Engelse tekste gebruik.

Christian Gregor (*1 Januarie 1723, Dirsdorf; †6 November 1801, Berthelsdorf, Herrnhut) word as weeskind grootgemaak saam met die kinders van sy landheer graaf Von Pfeil. Hy word weens sy talente vanaf 14 as onderwyser en orrelis opgelei. In Desember 1740 besoek hy die Broedergemeenskap in Herrnhut saam met graaf Von Pfeil. Hy is so beïndruk met hulle lewenswyse dat hy daar aanbly en werk as onderwyser. Op 28 April 1743 word hy as broeder aangeneem en die leiding van die“Gemeinmusik” word aan hom opgedra. As orrelis en musiekleier werk hy ook in Herrnhaag/Wetterau (1748) en Zeist in Nederland (1749). In 1756 word hy diakonus van die Broedergemeente en in 1767 word hy georden tot priester. In die jare vanaf 1759 skryf hy koorliedere, motette en kantates vir gebruik in sy eie dienste. In opdrag van die sinode van die Unitätsdirektion (waartoe hy in 1764 beroep is) besoek hy talle gemeentes – ook die gemeente in Noord-Amerika (1770-1772). Met sy terugkeer vestig hy hom in Barby an der Elbe (Magdeburg). Gedurende hierdie periode onderneem hy talle reise onder meer na Sarepta, Moskou, St Petersburg, Estland, Lettland, Litaue, Königsberg en Danzig. In 1787 word hy deur die broederskap tot biskop verkies.

Gregor se belangrikste verdienste ten opsigte van die kerklied is die versameling, keuring en heruitgawe van die liederskat van die Herrnhutgemeenskap in die Gesangbuch zum Gebrauch der evangelischen Brüdergemeinen (Barby, 1778). Hierdie tekste is sonder melodieë afgedruk, maar wel voorsien van ’n lys met verwysings na genommerde melodieë wat volgens lengte en versmaat gerangskik is. Daar volg wel later ’n begeleiersboek Choral­Buch enthaltend alle zu dem Gesangbuche der Evangelischen Brüder­Gemeinen vom Jahre 1778 gehörige Melodien (Leipzig, 1784).

Bronne
E-poskorrespondensie met Johan Cilliers, 8 Maart 2017; Hymnary.org; KLEG: 120-121.