Lied 158

Ilse Pelem

Sections

Downloads

Vir Sang: ‘n PDF-dokument wat ’n melodielyn en lirieke bevat. In sommige gevalle bevat die dokument ook akkoorde.

Vir Begeleiding: ‘n PDF-dokument wat meerstemmige begeleiding vir orrel en/of klavier bevat. In sommige gevalle bevat hierdie dokument ook die lirieke van die lied.

Opname: Opname van van die lied, beskikbaar as mp3-lêer.

Aanbieding: ‘n Powerpoint aanbieding van die lied se lirieke.

Lirieke

1. Bring my na u woning, Here,
laat my daar voor U verskyn
waar ek lofsing U ter ere,
waar u guns oor my kan skyn.
Laat my in u glansend lig
neerbuig voor u aangesig.

2. Lam van God, U bring 'n offer,
met u bloed maak U my vry
dat ek dank aan U kan uiter,
my alleen aan U kan wy.
Sien my as u priester aan
as ek, Here, voor U staan.

3. Here, heilig U my denke,
laat u woorde my steeds dring
dat ek met my blye klanke
singend aan U hulde bring.
Sang en lied is my geskenk
as ek, Here, U gedenk.

Geskiedenis

Teks
Benjamin Schmolck skryf die teks “Tut mir auf die schöne Pforte” en publiseer dit in Der Geistliche Kirchen­Gefährte (Schweidnitz, 1732). Alhoewel die EG die datum as 1734 aandui, soos die Liedboek (2001), gee ander veral ouer Duitse bronne die datum as 1732. Cas Vos se Afrikaanse vertaling van hierdie introïtuslied“Bring my na u woning, Here” is geskryf in 1989 en vir die eerste maal gepubliseer in die proefsangbundel Sing onder mekaar (1989). Dit is met geringe wysigings oorgeneem in die Liedboek (2001). Benjamin Schmolck (*21 Desember 1672, Brauchitschdorf, Silesië; †12 Februarie 1737, Schweidnitz, Silesië) was die seun van die Lutherse pastor Martin Schmolck. Hy word ingeskryf aan die Gimnasium in Lauban in 1688 en bly daar vir vyf jaar. Met sy terugkeer na sy tuisdorp preek hy een Sondag in sy vader se plek. ’n Beskermheer was so beïndruk dat hy Benjamin borg om teologie te gaan studeer. Hy voltooi sy teologiese studies aan die Universiteit van Leipzig in 1693. In die laaste jaar vul hy sy inkomste aan deur gedigte vir vooraanstaande mense te skryf. Hy kom sterk onder die invloed van ortodokse Lutherse teoloë soos J Olearius (1611-1684) en JB Carpzov (1639-1699). Na afloop van sy studies in Leipzig word hy in 1697 assistent vir sy vader in Schweidnitz. Hy word gou bekend as prediker en in 1701 word hy in Liegnitz georden. In 1702 word hy aangestel as diakonus aan die Friedenskirche in Schweidnitz.

Schmolck was bekend as ’n gewilde en ywerige prediker en ’n man van takt en diskresie. Terwyl van sy kollegas geworstel het met die piëtisme het hy hom hiervan losgemaak en in die Lutherse ortodoksie geanker gebly. Hy word in Schweidnitz bevorder tot aartsdeken en later pastor primarius, ’n pos wat ook skoolinspeksie ingesluit het. Hy kry ’n beroerte in 1730, maar herstel in so ’n mate dat hy weer kon preek. Na ’n tweede toeval in 1735 was hy volkome blind en het nie weer gepreek nie. Hy is twee jaar later oorlede. Sy talryke geestelike boeke (met die oorspronklike liedere wat daarin vervat is) was bekend in die hele Duitsland. Daar word beraam dat sy bykans 1 200 liedere tussen 1704 en 1737 in 16 versamelings verskyn het. Daar word na hom as die “Rist van Silesië” of ’n tweede Gerhardt verwys. Reeds as student in Leipzig word hy as poeta laureatus vereer en tot 1702 het hy hoofsaaklik ’n bestaan gemaak uit sy gedigte.

Schmolck was een van die belangrikste digters, saam met Valetin Löscher (1673- 1749) en Neumeister (#493), wat teen die piëtisme gekant was, maar hy kon hom moeilik in sy gedigte aan hierdie stroming onttrek. Hy dig kantate-tekste en ongeveer 900 geestelike liedere wat in meer as 10 bundels verskyn. Sy liedere is in 1738 en 1740 in twee omvangryke bundels saamgevat: Sämtliche Trost­ und geistreiche Schriften.

Casparus Johannes Adam (Cas) Vos (*15 Mei 1945, Rustenburg) studeer van- af 1964-1970 aan die UP waar hy ’n BA-graad en Diploma in Teologie verwerf. Hy word gelegitimeer in 1970 en bedien die NG gemeentes Riebeeckpark (1971-1974), Krokodilrivier (1974-1982) en Suidoos-Pretoria (1982-1989). In 1984 verwerf hy sy eerste doktorsgraad. In 1989 word hy aangestel as professor in Praktiese Teologie aan die teologiese fakulteit van die UP. Hy verwerf ’n tweede doktorsgraad in 1994 aan dieselfde universiteit. Vanaf 2000 tot met sy aftrede in 2010 was hy die dekaan van die Fakulteit Teologie. Benewens talle akademiese boeke (waaronder Theopoetry of the Psalms van 2005) het hy ook wyd gepubliseer in nasionale en internasionale tydskrifte. Hy was ook die president van die internasionale homiletiese vereniging (Societas Homiletica) van 2004 tot 2006. Cas Vos het ’n hele aantal liedtekste vir die Liedboek (2001) geskryf. Hy was ondervoorsitter van die Psalmhersieningskommissie en voorsitter van die Gesangehersieningskommissie. As liedskrywer word hy eerstens aangetrek deur die melodie. Vir hom is die rym, metafore en vergelykings, maar veral die woord-toonverhouding van groot belang. Verder het Vos ook naam gemaak as digter en hy debuteer in 1999 met Vuurtong. Hierna volg nog vele bundels wat onder meer insluit Enkeldiep (2001), Gode van papier (2003), Die afdruk van ons hande (2007) en Voor­bode (2015). Van belang is ook sy vertalings uit die Grieks van Homerus se werk: Fragmente uit die Ilias (2014) en Fragmente uit die Odusseia (2016). Sommige van sy gedigte is in bloemlesings soos die Groot Verseboek en Die Mooiste Afrikaanse Liefdesgedigte (2016) opgeneem.

Melodie
Die melodie TUT MIR AUF DIE SCHÖNE PFORTE (ook bekend as UNSER HERRSCHER of NEANDER) is geskryf deur Joachim Neander. Hierdie melodie is vir die eerste keer gepubliseer met die teks “Unser Herrscher, unser König” in Neander se versameling Alpha und Omega, Glaub­ und Liebesübung (Bremen, 1680). In die Darmstadt Ge- sangboek van 1698 word dit afgedruk met die teks “Tut mir auf die schöne Pforte” wat aan die melodie sy himnologiese titel besorg het. Die melodie is nader aan sy huidige vorm in die Freylinghausen Gesangbuch (1704).

Joachim Neander (*1650, Bremen; †31 Mei 1680, Bremen) se familienaam was oorspronklik Niemann of Neumann, maar sy grootvader, ook Joachim, het die Griekse vorm aangeneem waarskynlik omdat die familie Joods was. Hy is gebore as deel van ’n hooggeagte en goed opgevoede familie. Neander studeer aan die Paedagogium in Bremen waar sy vader ook onderwyser was. Daarna studeer hy aan die universiteit daar teologie. Sy studentetyd word gekenmerk deur ’n soeke na plesier en ’n los- bandige lewe. Eendag (1670) gaan hy saam met vriende na die St Martinskerk met die doel om die spot te dryf met die gebeure in die kerk. Die prediker Theodor Undereyck (1635-1693) se preek het hom egter so diep geraak dat hy ’n piëtis geword het. In die volgende jaar word hy die onderwyser van vyf jong seuns van welgestelde handelaars en in 1671-1673 gee hy onderrig in Heidelberg. Daarna gaan hy na Frankfurt am Main waar sy piëtistiese oortuigings versterk is deur Philipp Jacob Spener (1635-1705) en Johann J Schütz (1640-1690).

In 1674-1679 was Neander hoof van die Duitse Gereformeerde Latynse skool in Düsseldorf, waar hy, onder die invloed van Spener, ’n nie-amptelike collegia pietatis organiseer vir onderrig, prediking en die bevordering van piëteit. Hierdie skool was onder die beheer van die predikant en die ouderlinge van die Gereformeerde kerk. Aanvanklik werk hy goed saam met die personeel en studente, maar gou begin hy met praktyke wat konflik veroorsaak. Hy hou gebedsbyeenkomste sonder dat die predikant of ouderlinge teenwoordig is en weier ook om nagmaal te gebruik omdat hy beweer dat daar nie-gelowiges ook teenwoordig is. Hy word geskors in Februarie 1677 en daar word beweer dat hy in hierdie tyd in ’n grot naby Mettman aan die Ryn gebly het – dit word vandag steeds Neander se grot genoem. Hier sou hy ’n aantal liedere geskryf het. Twee weke later, na ’n skulderkenning, word hy heraangestel as hoof, maar nie as assistentprediker nie. Hierdie effektiewe afgradering lei daartoe dat hy die skool verlaat en in 1679 keer hy terug na Bremen waar hy ingeseën word as die assistent van Undereyck by die St Martinskerk. Sy bediening was egter van korte duur aangesien hy kort hierna op 30-jarige ouderdom aan tuberkulose sterf.

Neander was baie lief vir die natuur en het dikwels lang staptogte onderneem. Die vallei van die Düssel naby Mettmann is na hom vernoem – Neanderthal. Baie van sy liedere is geïnspireer deur God se skoonheid in die natuur. Daar is verskeie apokriewe staaltjies oor Neander.

Naas die kerkliedmelodieë (sien ook Lied 159), skryf Neander ook omtrent 60 liedtekste waaronder ook Lied 184: “Lofsing die Here”. Die titel van sy versameling van liedtekste is instruktief: “Glaub­ und Liebesübung: Auffgemuntert durch Einfältiges Bundes­Lieder und Danck­Psalmen (Bremen, 1680). Van sy melodieë, insluitende TUT MIR AUF DIE SCHÖNE PFORTE, is gepubliseer in sy Alpha und Omega. Joachimi Neandri Glaub­ und Liebesübung (Bremen, 1680) wat na sy dood uitgebrei is (1689). Daar word na Neander verwys as die Paul Gerhardt van die Duitse Gereformeerde Kerk.

Bronne
CDH; e-poskorrespondensie met Cas Vos, 20 April 2016; HC: 364-365; HCLBW: 266-268; Hymnary.org; KLEG: 223-225; PHC: 335; Rambach: 154-155.