Lied 157

Ilse Pelem

Sections

Downloads

Vir Sang: ‘n PDF-dokument wat ’n melodielyn en lirieke bevat. In sommige gevalle bevat die dokument ook akkoorde.

Vir Begeleiding: ‘n PDF-dokument wat meerstemmige begeleiding vir orrel en/of klavier bevat. In sommige gevalle bevat hierdie dokument ook die lirieke van die lied.

Opname: Opname van van die lied, beskikbaar as mp3-lêer.

Aanbieding: ‘n Powerpoint aanbieding van die lied se lirieke.

Lirieke

1. Here Jesus, ons is saam,
op u roepstem hier vergader;
saam verenig in u Naam
kan ons tot die Vader nader.
Hoor die dank- en smeekgebede,
Heer, van u gemeentelede.

2. Maak ons harte deur u Gees
vir die heil'ge woord ontvanklik.
Laat ons daagliks onbevrees
op u heil bou, diep afhanklik.
Heer, laat ons geloofsvertroue
eenmaal oorgaan in aanskoue.

Geskiedenis

Teks
Die toetredelied “Liebster Jesu, wir sind hier” is geskryf deur Tobias Clausnitzer, maar verskyn vir die eerste keer anoniem in die Altdorfisches Gesang­Büchlein: Frommen Christen Betendes Hertz und Singender Mund (Altdorf, 1663). In die Nürnbergisches Gesang­Büchlein (1676) word die teks ook aan Clausnitzer toegeskryf. ’n Ander be- kende lied van hom wat nog in baie moderne liedboeke voorkom is die Credo-lied “Wir glauben all’ an einen Gott”, maar dit is nie opgeneem in die Liedboek (2001) nie. Rhijnvis Feith het die teks in Nederlands vertaal vir die Evangelische Gezangen (1806) waar dit lui: Lieve Jezus, zie ons zaam. Hierdie weergawe het baie geliefd geword in Nederland en Suid-Afrika. Dit is later in Afrikaans vertaal deur GBA Gerdener as “Liewe Jesus, sien ons saam” en gepubliseer in Die Nuwe Halleluja (1931). Gerdener het dit weer hersien vir die AGB (1944). Gerjo van der Merwe (#151) het die teks gewysig vir die 1978-bundel en weggedoen met die familiêre aanspreekvorms van Jesus (“Liewe Jesus”). Dit is vervang met die volgende: “Here Jesus, ons is saam”. Die weergawe in die Liedboek (2001) is versorg deur Elsabé Kloppers (#154).

Tobias Clausnitzer (*5 Februarie 1619, Thum, Sakse; †7 Mei 1684, Weiden, Oberpfalz) ondergaan skoolopleiding aan die Lateinschule in Freiberg (Sakse) en die Magdalen-Gimnasium in Breslau. Na teologiese studie aan die Universiteit van Leipzig ontvang hy in 1643 ’n meestersgraad. In die volgende jaar word hy die kape- laan van die Sweedse regiment in Leipzig. In hierdie hoedanigheid hou hy die dank- seggingsdiens in die St Thomaskerk by die geleentheid van die troonbestyging van koningin Christina van Swede. Met die einde van die Dertigjarige Oorlog en die Vrede van Wesfale (1648) hou hy ook ’n dankseggingsdiens op 1 Januarie 1649 in Weiden. In dieselfde jaar word hy die eerste pastor in Weiden waar hy bly tot met sy dood.

Hy was lid van die Nürnbergse digtergenootskap, die sogenaamde Schäferorde an der Pegnitz wat later herbenoem is na die Blumenorden van Pegnitz. Hy was eerder bekend as skrywer van opbouingsliteratuur en minder vir sy digterlike aktiwiteite.

Rhijnvis Feith (*7 Februarie 1753, Zwolle; †8 Februarie 1823/1824, Boschwijk, Zwolle) ontvang ’n graad in die regte van die Universiteit van Leiden in 1770 en was ook burgemeester van Zwolle. Feith was ’n toegewyde patriot en ’n geletterde man wat die Napoleontiese besetting van Nederland betreur het. Hy ly swaar onder die politieke oproer van sy tyd en veral onder die Franse oorheersing. Hy skryf 19 volumes van prosa en poësie, meesal hoog-romanties, asook teologiese en filosofiese opstelle. Sy literêre werke sluit in Julia (1783) en Lady Johanna Gray (1791). Hy skryf ook ’n aantal kerkliedtekste en 35 hiervan is ingesluit in die Nederlandse Evangelische Gezangen (1806), waarvan hy een van die samestellers was. Een van sy ander bekende tekste is “Uren, dagen, maanden, jaren” (Lied 570).

Gustav Bernard August Gerdener (*31 Maart 1881, Wupperthal; †15 Augustus 1967, Stellenbosch) behaal die grade MA en DPhil aan die US en word gelegitimeer in 1905. Hy tree ’n aantal jare op as reisende sekretaris van die Afrikaanse Christen- Studentevereniging (ACSV). Hy bedien die volgende gemeentes: Mohammedaanse Sendinggemeente in Kaapstad (1913), Stellenbosch (1917) en Wakkerstroom (1923). Hy word dosent aan die Sending-Instituut op Wellington in 1933 en word aangestel as professor aan die teologiese kweekskool op Stellenbosch in 1937. Hy beklee hierdie pos tot met sy aftrede in 1955. Hy dien op verskeie rade en kommissies van die kerk en woon ook etlike belangrike konferensies in die buiteland by. Hiernaas was hy ook skrywer van gesaghebbende boeke oor die sending en outeur van die bekende Handboek by die katkisasie. In 1956 het die US hom vereer met ’n eredoktorsgraad in die teologie en in 1961 is die Stalsprys vir geesteswetenskappe aan hom toegeken deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. In 1967 kry hy die DF Malan- medalje vir sy werk op kerklike en volksgebied. Hy het ’n reuse-aandeel gehad aan die vertaling van die gesange in Afrikaans vir Die Nuwe Halleluja (1931) en die AGB (1944).

Melodie
Die melodie LIEBSTER JESU (ook bekend as DESSAU en NÜRNBERG) word algemeen geassosieer met die teks van Clausnitzer en is geskryf deur Johann Ahle. Dit is vir die eerste keer gepubliseer in sy Neue geistliche, auf die Sonntage durch’s ganze Jahr gerichtete … Andachten (Mühlhausen, 1664) met Franz Joachim Burmeister (1633- 1672) se Adventteks “Ja, er ist’s, das Heil der Welt”. Die melodie was oorspronklik een van Ahle se sogenaamde “geestelike arias”. Die melodie is later aangepas en gepubli- seer in Das grosse Cantional (Darmstadt, 1687) vir ’n dooplied van Benjamin Schmolck (#158) wat dieselfde eerste reël as Clausnitzer se teks gehad het: “Liebster Jesu, wir sind hier”. Aangesien verskeie bronne vermeld dat LIEBSTER JESU eerste met die teks van Clausnitzer geassosieer is, soos in die Altdorffisches Gesangbuch (1671), is dit waarskynlik dat die melodie sy naam van die openingsreël van hierdie teks kry. Dit is later aangepas en aansienlik vereenvoudig as gemeentelied deur Wolfgang Carl Briegel vir Das grosse Cantional: oder Kirchen­Gesangbuch (Darmstadt, 1687).

Johann Rudolf Ahle (*24 Desember 1625, Mühlhausen, Thüringen; †9 September 1673, Mühlhausen) ontvang sy skoolonderrig aan die Gimnasium in Mühlhausen en studeer vanaf 1643 aan die Universiteit van Göttingen. In 1645 begin hy met teologiese studies aan die Universiteit van Erfurt en beklee terselfdertyd die kantorspos van die St Andreaskerk. Ahle is ook musiekdirekteur van die musiekskool in Erfurt van 1646 tot 1654. In hierdie jaar word hy aangestel as orrelis van die St Blasiuskerk in Mühlhausen. Hy skryf ’n metode ter bevordering van koorsang en word bekend as orrelis. In 1655 word hy verkies tot die stadsraad van Mühlhausen en in 1661 as burgemeester. Hy behou hierdie poste tot met sy dood. Ahle het ’n aantal kerkliedbundels gepubliseer. Hy is sterk beïnvloed deur Heinrich Schütz (#569). Saam met Heinrich Albert (1604- 1651) stel hy hom ten doel om ’n nuwe sangstyl in die kerk in te bring wat die Italiaanse opera reflekteer. Albert en Ahle het daadwerklik na hulle liedere as “geestelike arias” verwys. Ahle beoefen die 17de-eeuse Italiaanse solo vokale styl en bevorder die werk van Andreas Hammerschmidt (1611/1612-1675). Dit is die rede vir sy ornamentele gewyde arias waarvan die versierde weergawe van Liebster Jesu ’n voorbeeld is. Hy skryf oor die 400 van hierdie arias en dit is bedoel vir solistiese en nie vir gemeentelike gebruik nie. Sy komposisies, versierd en sterk dramaties, reflekteer die invloede van die Italiaanse opera op sy werk. Alhoewel hy dikwels geminag is deur sy tydgenote, het sy musiek wel bygedra tot ’n herlewing in die kerkmusiek van die dag.

Wolfgang Carl Briegel (*1626, Königsberg, Coburg; †21 November 1712, Darm- stadt) gaan skool aan die Lateinschule in Nürnberg en sing sopraan in die koor van die Frauenkirche. Na vier jaar studie aan die Universiteit van Altdorf is hy gekwalifi- seer as orrelis en word aangestel as orrelis en onderwyser van die Johanneskirche in Schweinfurt. Aan die einde van 1650 beroep hertog Ernst die vrome orrelis en sy familie na die familiekapel in Gotha waar hy mettertyd tot hofkapelmeester be- vorder word. Sy eerste bekende werke dateer uit hierdie tyd. Dit sluit in kantates, motette en koorliedere waarin hy die styl van Heinrich Schütz (#569) en Andreas Hammerschmidt (1611/1612-1675) navolg. In 1671 laat kom die hertog se dogter, en leerling van Briegel, hom en sorg dat hy as hofkapelmeester in Darmstadt aangestel word. Hy oorleef die Dertigjarige Oorlog en voorsien steeds nuwe musiek vir operas, ballette en verhoogstukke. Ter herlewing van die geestelike musiek aan die hof en in die graafskap skryf Briegel ook kantates vir die kerkjaar. Hy publiseer die Grosse Cantional (Darmstadt, 1687) met tradisionele kerkliedmelodieë – 12 nuwe melodieë deur homself is ook hierby ingesluit. In 1697 verskyn Concentus apostolico­musicus waarin hy op die kontrapuntale styl konsentreer. Hy behou die pos in Darmstadt tot met sy dood, maar word van 1709 af deur sy opvolger JC Graupner (1683-1760) en deur EC Hesse (1676-1767) ondersteun.

Bronne
Bronsveld: 65-66; CC; Cillié: 490-491; CGLB: 1023-1024; Jaarboek van die NG Kerke 1968.