Lied 156

Vers 1

1. Loof, loof die Here!
Bring Hom dank en ere,
o Christenskare, rondom sy altare.
Hy is ons God die Ewige, die Ware!
Loof, loof die Here!

Kry toegang tot die volledige lirieke. Gemeentes met ’n aktiewe kerkmusiek-lisensie wat reeds op Missio.org.za geregistreer is, kan aanteken om alle verse se lirieke te sien.

Kry toegang tot alle bladmusiek en ander aflaaibare lêers. Gemeentes met ’n aktiewe kerkmusiek-lisensie wat reeds op Missio.org.za geregistreer is, kan aanteken om af te laai.

Lobet den Herren alle, die ihn ehren – Johann Crüger 1653
Paul Gerhardt 1653; Izak de Villiers 1978 / 2001 ©
Inligting oor die verwerking van hierdie lied is nie tans beskikbaar nie.
Inligting oor die uitgewer van hierdie lied is nie tans beskikbaar nie.

Teks
“Lobet den Herren, alle die ihn ehren” – die oorspronklike Duitse teks – is geskryf deur Paul Gerhardt. Gerhardt was een van die belangrikste van die 17de-eeuse Duitse kerklieddigters. Die teks is gepubliseer in 1653 tesame met die gelyknamige melodie in Johann Crüger se bundel Praxis Pietatis Melica. Die Duitse teks is vryelik in Afrikaans vertaal deur Izak de Villiers (#153) en gepubliseer in die Liedboek (2001).

Paul(us) Gerhardt (*12 Maart 1607, Gräfenhainichen; †27 Mei 1676, Lübben, Spreewald) se vroeë geskiedenis is nie opgeteken nie. Hy gaan wel vanaf 1622 tot 1627 skool aan die Collegium Moldanum in Grimma waar hy ’n humanisties-gerefor- meerde opvoeding ontvang. In 1628 skryf hy in aan die Universiteit van Wittenberg waar hy naas teologie waarskynlik ook in die digkuns studeer onder leiding van die vooraanstaande digter en literator, August Buchner (1591-1661). Deur Buchner se bemiddeling werk Gerhardt in die 1630’s as tuisonderwyser by die predikant August Fleischhauer in Wittenberg. In 1643 gaan hy vermoedelik na Berlyn. Sy eerste gedateerde gedigte verskyn in hierdie tyd. Hy is ook tuisonderwyser van die advokaat Berthold se dogter. Hy leer ken die kantor van die Nicholaikerk, Johann Crüger en hulle het ’n vrugbare samewerking. Crüger publiseer die meeste van Gerhardt se geestelike tekste in verskillende uitgawes van sy gesangboek Praxis Pietatis Melica (1647, 1653 en 1661). Crüger het ook ’n beduidende aantal van Gerhardt se tekste van melodieë voorsien. Gerhardt word in 1653 aangestel as predikant in Mittenwalde waar die Lutherse leerstellings gehandhaaf is. In 1657 word hy beroep na die Nicolaikerk in Berlyn. Toe Crüger in 1662 sterf, word hy opgevolg deur Johann Ebeling (#343) wat 120 liedere van Gerhardt toonset. In 1668 word hy beroep na Lübben, maar verhuis eers in 1669 daarheen weens swak gesondheid. Hy is in die kerk in Lübben begrawe, maar die spesifieke plek is onbekend.

Melodie
LOBET DEN HERREN ALLE, DIE IHN EHREN is geskryf deur Johann Crüger vir die gelyknamige teks van Gerhardt. Dit word vir die eerste maal gepubliseer in die sesde druk van Crüger se bundel Praxis Pietatis Melica (1653).

Johann Crüger (*9 April 1598, Gross Breesen, Guben; †23 Februarie 1662, Berlyn) was die seun van ’n welvarende herbergier. Op 15-jarige ouderdom begin hy met verskillende reise wat hom onder meer na Sorau, Breslau, Olmütz en uiteindelik na Regensburg neem, waar hy ook ’n digterskool bywoon. Daar studeer hy ook musiek onder Paul Homberger (1560-1634) wat ’n leerling was van die beroemde Italiaanse komponis, Giovanni Gabrieli (1557-1612). Na reise in Oostenryk, Hongarye, Boheme en Morawië keer hy terug na Freiberg in Sakse. In 1615 verhuis hy na Berlyn waar hy die onderwyser word van die kinders van Christoph von Blumenthal, wat kaptein van die wagte was vir keurvors Frederick Wilhelm I. Crüger skryf in aan die Universiteit van Wittenberg as teologiestudent in 1620, maar twee jaar later word hy die kantor van die St Nicholas kerk in Berlyn en onderwyser aan die Gimnasium van die Grauen Kloster. Hy behou hierdie posisies tot met sy dood en deur sy toedoen word Berlyn een van die sentrums vir evangeliese kerkmusiek in die 17de eeu.

Crüger publiseer verskeie boeke in sy leeftyd. Musiek-teoretiese werke sluit in Praecepta musicae practicae figuralis (1625) en ’n boek oor die sangkuns Musicae practicae praecepta brevia et exercitia (Berlyn, 1660). Na 1640 publiseer hy hoofsaaklik gesangeboeke. Die eerste hiervan is Newes vollkömmliches Gesangbuch Augspurgischer Confession (Berlyn, 1640) en dit bevat 161 liedere in vier stemme met onder meer liedere van Johann Heerman (#522). Crüger se belangrikste bydrae tot die 17de-eeuse Duitse himnodie was die bundel Praxis Pietatis Melica (1644). Dit ondergaan verskeie hersienings en uitbreidings tot en met die finale uitgawe ’n honderd jaar later.

Bronne
Cillié: 134-135; KLEG: 66-69, 110-112.