Lied 155

Ilse Pelem

Sections

Downloads

Vir Sang: ‘n PDF-dokument wat ’n melodielyn en lirieke bevat. In sommige gevalle bevat die dokument ook akkoorde.

Vir Begeleiding: ‘n PDF-dokument wat meerstemmige begeleiding vir orrel en/of klavier bevat. In sommige gevalle bevat hierdie dokument ook die lirieke van die lied.

Opname: Opname van van die lied, beskikbaar as mp3-lêer.

Aanbieding: ‘n Powerpoint aanbieding van die lied se lirieke.

Lirieke

1. Verhef ons harte tot U, Heer,
en laat u liefde ons regeer.
Wil deur u Gees steeds by ons bly
en ons in alle waarheid lei.

2. Raak U ons aan om U te loof,
versterk ons liefde en geloof,
skenk ons meer vreugde in u wet
en meer volharding in gebed.

3. Gee dat, gehoorsaam en getrou,
ons altyd op u Woord sal bou.
O heilige Drie-enigheid,
aan U die lof in ewigheid!

Geskiedenis

Teks
Daar kan nie met sekerheid gesê word wie die digter van die oorspronklike teks “Herr Jesu Christ, dich zu uns wend” is nie. Die vroegste bronne vir die teks, Cantio­ nale Sacrum (deel I, Gotha, 1646), Johann Niedling se Lutherischen Handbüchlein (Altenburg, 1648) en die tweede uitgawe van die Cantionale Sacrum (Gotha, 1651) noem nie die digter nie. Dit verskyn ook in die Pensum Sacrum (Görlitz, 1648) wat deur die Boheemse broeder, Tobias Hauschkonius (1600-1661), gepubliseer is. Eers in Altenburg en later ook in Keursaksen en Wittenberg is die lied wyd gesing, soms ook as kansellied. Dit word in die Altdorf Liederfreund (1676) toegedig aan Wilhelm II, die hertog van Sakse-Weimar.

Die Duitse gedig, met vier strofes, is in Afrikaans vertaal deur J Baumbach (#153) en gepubliseer in sy sendinggesangboek, Cantate (1934). Willie Serfontein het die teks van Baumbach gebruik as basis vir sy hersiene weergawe in die 1978-bundel. Hierin is die oorspronklike derde strofe uitgelaat. Dit is vir die Liedboek (2001) deur Willie D Jonker gewysig.

Hertog Wilhelm II (*11 April 1598, kasteel van Altenburg, Sakse; †17 Mei 1662, Weimar) studeer musiek en wiskunde aan die Universiteit van Jena. Gedurende die Dertigjarige Oorlog word hy ernstig gewond en gevange geneem deur die hertog Johann van Tilly. Na sy vrylating in 1625 spits hy hom toe op die opbou van Weimar en omgewing. Hy was een van die ondertekenaars van die Vrede van Praag (1635). Na die oorlog hou hy hom veral besig met poësie en musiek.

Willem Jacob Benjamin (Willie) Serfontein (*17 Desember 1925; †9 Okto- ber 1983, Stellenbosch) behaal die grade BA (Admissie) en MA aan die US. Hy sit sy studies voort in Nederland waar hy ’n doktorsgraad verwerf aan die Universiteit van Amsterdam onder die leiding van prof EL Smelik. Die titel van sy proefskrif was: “Die psalm as kerklied”. Met sy terugkeer na Suid-Afrika word hy in 1957 gelegitimeer. Hy bedien die volgende NG gemeentes: Kimberley-Noord (1957); Richmond (1961); George-Suid (1966) en Stellenbosch (1970). Van die begin af dien hy as lid van die Kaaplandse Sinodale Kommissie vir die Erediens en word ook later die voorsitter van dié liggaam. Tydens die sitting van die Algemene Sinode in 1962 word hy die skriba van die Sinodale Kommissie vir die Erediens. Hy beklee hierdie amp vir twintig jaar. Serfontein speel, as voorsitter van die interkerklike kommissie, ’n leidende rol in die hersiening en samestelling van die Afrikaanse Psalm­ en Gesangbundel (1978). Hy was ook die prediker met die amptelike oorhandiging van die bundel op 22 Oktober 1978 tydens die sitting van die Algemene Sinode in Bloemfontein. Serfontein het veral deur sy ywer vir die bevordering van die Afrikaanse kerksang bekendheid verwerf. As begaafde sanger (tenoor) tree hy ook dikwels saam met kore op en opnames van hom en sy gesin wat psalms en gesange sing, is dikwels in die radioprogram “Laat ons boekevat” uitgesaai. Hy emeriteer op 5 Junie 1983 weens swak gesondheid.

Willem Daniël (Willie) Jonker (*1 Maart 1929, Lichtenburg; †28 Augustus 2006, Stellenbosch) gaan skool aan die Laerskool Biesiesvlei (1936-1941) en die Hoërskool Lichtenburg (1942-1945). Hy sit sy studies voort aan die UP vanaf 1946 tot 1952 en verwerf die grade BA, BD en MA. Hierna studeer hy aan die Vrije Universiteit van Amsterdam waar ’n ThD in 1955 aan hom toegeken word. Hy word in Junie van dieselfde jaar gelegitimeer en bedien die NG gemeentes van Johannesburg-Wes, Potchefstroom-Noord (1958), Johannesburg (1962) en Johannesburg-Oos (1968). In 1965 word hy aangestel as professor in teologie by UNISA en in 1968 as hoogleraar van die Theologische Hogeschool in Kampen, Nederland. In 1971 volg ’n aanstelling as professor in dogmatologie aan die US. Hy word later ook dekaan van die teologiese kweekskool daar. Hy emeriteer op 2 Augustus 1992, maar bly aan as waarnemende professor aan die teologiese fakulteit van die US. Jonker was aktuaris van die Sinode van Suid-Transvaal en die Algemene Sinode van Transvaal. Hy dien ook op die kom- missie wat verantwoordelik was vir die hersiening van die Gesangeboek (1976). Hy word ook daarvoor onthou dat hy op eie inisiatief belydenis van die skuld van die NG Kerk met betrekking tot apartheid gedoen het tydens die Nasionale Konferensie van Kerke in November 1990 – ’n optrede waarmee die afgevaardigdes van die NG Kerk hulle vereenselwig het. Die US het in 1996 ’n eredoktorsgraad in die teologie aan hom toegeken.

Melodie
Die melodie HERR JESU CHIRST, DICH ZU UNS WEND is vir eerste keer anoniem gepu- bliseer in die Cantionale Germanicum (Gochsheim, 1628). Die melodie kom ook voor in ’n manuskrip van die Gochsheimer Gesangbuch (Redwitz, 1628). Dit word ook gevind in Pensum Sacrum (Görlitz, 1648) − ’n versameling van 267 Latynse odes met mee- gaande melodieë. Daar dien dit as melodie vir ses van die odes. In die kerk in Redwitz is ’n gedenkplaat wat aandui dat ene Georg Schmidt (1621-1672) die komponis sou wees. Die vermoede bestaan egter dat die melodie veel ouer is. Sommige himnoloë meen dat die melodie teruggevoer kan word na die hervormer, Jan Huss (c 1370- 1415). Die melodie is verander oor die jare heen, maar in die Cantionale Sacrum (2de uitgawe, Gotha, 1651) word dit gepubliseer met die huidige Duitse teks “Herr Jesu Christ”, waarvan die naam van die melodie afgelei is.

Bronne
CGLB: 752-753; Cillié: 488-489; HC: 358-359; HCLBW: 327; Hymnary.org; Jaarboek van die NG Kerke, 1985: 276; Jaarboek van die NG Kerke, 2007: 365; Knight: 31; PHC: 178.