Lied 154

Sections

Lirieke

1. Kom nou tesaam, laat ons vergader,
een as sy Kerk, een in sy Naam;
in Christus Naam kom ons hier nader -
kom ons as sy gemeente saam.
Hy gee sy Gees, so laat Hy dit wees:
Hy seën wat ons bou en bind ons deur sy trou.

2. Hier is die Heer by ons teenwoordig,
Hy skep die ruimte vir sy werk.
Is Hy dan self so hier teenwoordig,
word ons verenig in sy Kerk.
Hy staan ons by en maak ons ook vry
om ware mens te wees -
geheilig deur sy Gees.

3. Sing vir die Heer jul lofgesange,
laat ons met helder stem Hom loof.
Laat klink sy lof, sing onbevange
en laat geen muur die klanke doof.
Kom sing met vuur, laat lofsange duur,
vul alles hier met klank:
Laat ons die Here dank.

Geskiedenis

Teks
Die gedig Com nu met sang is geskryf deur Adriaan Valerius in 1625 en kom uit die versameling Neder­landtsche gedenck­clank (Haarlem, 1626). Elsabé Kloppers het die Afrikaanse teks vir die Liedboek (2001) versorg.

Elizabeth Catharina (Elsabé) Kloppers (*18 Junie 1959, Nelspruit) matrikuleer aan die Hoërskool Rob Ferreira in Witrivier. Hierna sit sy haar studies voort aan die UP en behaal die volgende grade: BA (Hons), BD, MDiv, BMus (Hons) en DMus. In 1998 volg ’n DTh in Praktiese Teologie/Liturgiewetenskap aan UNISA. Sy is gelegitimeer op 22 November 1990 en sedert 1991 dien sy as predikant in verskeie hoedanighede in die NH Kerk van Afrika soos bv Fonteinedal en Rietvallei. Kloppers het ’n groot bydrae gelewer tot ontwikkeling van kerkmusiek in Suid-Afrika. As lid van al die komitees vir die Liedboek (2001) en deur ’n groot aantal tekste en vertalings, het sy ’n wesenlike bydrae tot hierdie bundel gelewer.

Sy was hoof in organiserende hoedanigheid van die Konservatorium vir Musiek in Pretoria (2003-2017), ’n instansie wat oor jare groot invloed uitgeoefen het op die praktiese opleiding van kerkorreliste uit verskillende kerke. Verder was sy ook redakteur van Vir die Musiekleier, die vaktydskrif van die SAKOV (1999-2004) en is vanaf 2019 op die redaksionele komitee van dié tydskrif benoem. As direkteur van die Instituut vir Kerkmusiek in Suid-Afrika (IKSA), bied sy sedert 1998 toerusting aan oor die agtergrond en funksionering van die kerklied, onder meer deur die instelling van ’n Diploma in Himnologie en Liturgie. Tans is sy professor in Praktiese Teologie in die Departement Filosofie, Praktiese en Sistematiese Teologie aan UNISA, waar sy onderrig gee en navorsing doen op die terrein van die erediens, die kerklied en prediking (Liturgiewetenskap, Himnologie en Homiletiek). Verskeie studente, veral uit Duitssprekende lande, werk onder haar leiding aan meesters- en doktorsgrade. ’n Groot aantal vakartikels en bydraes in boeke oor die erediens en die kerklied, plaaslik en internasionaal, het reeds uit haar pen verskyn. Sy tree wyd in die buiteland as spreker op en was die afgelope aantal jare ’n gereelde aanbieder by die Somerskool vir Musiek en Religie van die Fakulteit Teologie en die Hochshule vir Kerkmusiek aan die Universiteit van Heidelberg, Duitsland. Sy dien op die uitvoerende komitee van die Hymn Society of Great Britain and Ireland en (in adviserende hoedanigheid) ook op dié van die Internasionale Werkgemeenskap vir Himnologie (IAH). Sy is steeds aktief met die skryf en vertaal van kerkliedere. Deur die liedere wat sy ontsluit en deur toerusting in die liturgiese funksionering van kerkliedere, speel sy ’n belangrike rol in die skep van ’n ekumeniese bewussyn oor kerk- en landsgrense heen.

Melodie
KOMT NU MET ZANG is ’n 17de-eeuse Nederlandse melodie uit die versameling Neder­landtsche gedenck­clank (Haarlem, 1626) deur Adriaan Valerius.

Adriaan Valerius (*c 1575, Middelburg; †27 Januarie 1625, Veere, Nederland), vermoedelik van Franse afkoms (François Valéry), word in 1569 ’n burger van Middel- burg, Zeeland, Nederland. Hy was ’n regsgeleerde, digter, geskiedkundige, musikant, notaris en geregsdienaar. Die liedbundel wat aan hom roem sou besorg, Neder­ landtsche gedenck­clank, is eers na sy dood gepubliseer en die samestelling hiervan is tekenend van die geskiedenis van die oorloë tussen Spanje en Nederland van 1555 tot 1625. Dit sluit in 76 populêre liedere uit Nederlandse, Duitse, Engelse, Franse en Italiaanse bronne. Die Nederlandse volkslied is vir die eerste keer in hierdie bundel gepubliseer.

Bronne
CGLB: 1258-1259; e-poskorrespondensie met Elsabé Kloppers (16 Okt 2018); HC: 355-356.