Lied 153

Ilse Pelem

Sections

Downloads

Vir Sang: ‘n PDF-dokument wat ’n melodielyn en lirieke bevat. In sommige gevalle bevat die dokument ook akkoorde.

Vir Begeleiding: ‘n PDF-dokument wat meerstemmige begeleiding vir orrel en/of klavier bevat. In sommige gevalle bevat hierdie dokument ook die lirieke van die lied.

Opname: Opname van van die lied, beskikbaar as mp3-lêer.

Aanbieding: ‘n Powerpoint aanbieding van die lied se lirieke.

Lirieke

1. O Jesus, kom tog nader
en gee aan ons u seën.
Ons is hier saam vergader
en almal in U een.

2. Verlig ons deur u lering,
ons vind dit in u Woord.
Ons volg U deur bekering -
ons wat aan U behoort.

3. U is ons vriend en koning,
in eerbied buig ons neer.
En kom ons in u woning
sal ons U ewig eer.

Geskiedenis

Teks
Die Duitse liedteks, “Ach bleib mit deiner Gnade”, is deur Josua Stegmann geskryf in 1627 en is gepubliseer in die derde uitgawe van sy Suspiria Temporum (Rinteln, 1628). Dit is moontlik dat die lied ook in die eerste of tweede uitgawes van hierdie bundel kon verskyn het, maar nie een hiervan is oorgelewer nie. Stegmann het hierdie lied geskryf na aanleiding van die teks in Lukas 24:29 (Emmausgangers). Johannes Baumbach het dit in Afrikaans vertaal en opgeneem in sy bundel Cantate (1934) wat vir die Berlynse Sendinggenootskap bedoel was. Izak de Villiers het die weergawe in die 1978-bundel hersien: “Ag, bly met u genade”. Hy het dit in die Liedboek (2001) weer gewysig en dit is ook ingekort tot drie strofes en die begin lui nou soos volg: “O Jesus, kom tog nader”.

Johann Gerhards Josua Stegmann (*14 September 1588, Sülzfeld, Meiningen; †3 Maart 1632, Rinteln) was ’n briljante Duitse geleerde en kerkadministrateur. Sy lewe is sterk be.nvloed deur die politieke en geestelike oproer van sy tyd. Hy studeer vanaf 1607 aan die Universiteit van Leipzig in filosofie en teologie. In 1617, by geleentheid van die honderdjarige herdenking van die Reformasie, ontvang hy ’n doktorsgraad in teologie. Hierna word hy aangestel as pastor in die Lutherse kerk in Stadthagen en onderwyser aan die Gimnasium daar. Een van sy studente was Johann Rist (1607- 1667), wat ook later kerkliedere geskryf het. Toe die gimnasium omgeskakel word in ’n universiteit en verskuif na Rinteln an der Weser in 1620 word hy aangestel as professor in teologie. Hy vlug uit die dorp in 1623 as gevolg van die plaaslike veldslae van die Dertigjarige Oorlog, maar keer terug na Rinteln. Sy loopbaan word weer onderbreek deur die Edik van Restitusie (1629) wat deur Ferdinand II uitgevaardig is.

Hiervolgens het die Benediktyne aanspraak gemaak op die universiteitsgronde. ’n Groot dispuut het ontstaan oor die aanstelling van gereformeerde professore – in soverre dat Stegmann ook getreiter is deur soldate wat na sy huis gekom het om terugbetaling op sy salaris te eis. Hierna word hy siek en sterf in 1632. Stegmann was ’n kampvegter vir die Lutheranisme, veral teen die dwaalleringe van die volgelinge van die mistikus, Valentin Weigel. Sy geestelike boeke is in Latyn en ’n paar kerkliedtekste in Duits. Die teks “Ach bleib mit deiner Gnade” verskyn vir die eerste maal in sy Christliches Gebetbüchlein (Rinteln, 1627). Ter geloofsversterking van die mense tydens die oorlog gee Stegmann ook ’n liedversameling uit: Erneuerte bzw. And.chtigen Hertzen Seufftzer (1628). Sy liedere is gepubliseer in Christliches Gebetbüchlein waarin hierdie teks is, Suspira Temporum (1628, derde uitgawe, enigste wat bekend is) en Enerwertern Hertzen Seufftzer (1630).

Johannes Emil Friedrich Baumbach (*19 Desember 1875, Makgabeng; †25 September 1961, Pretoria) ontvang sy skoolopleiding aan verskillende sendingstasies van die Berlynse Sendinggenootskap in Suid-Afrika waar sy vader, Johann Martin Baumbach (1841-1891), werksaam was: Makgabeng en Pniel. Na afloop van sy opleiding as sendeling in Berlyn, keer hy in 1901 terug na Suid-Afrika en werk onder meer in Bloemfontein en die Bethany Village, Botshabelo, Heidelberg en Pretoria. Baumbach het beskik oor ’n grondige kennis van Sepedi en Setswana – inheemse tale wat vir sy sendingwerk vereis is. Hy dien etlike jare in kommissies vir die vertaling en hersiening van die Bybel in Setswana. Vir die Afrikaanssprekende lede van die Lutherse Berlynse Sendingkerk in Suid-Afrika het hy n. die erkenning van Afrikaans as amptelike landstaal dadelik begin om boeke en leesstof in Afrikaans voor te berei. Reeds in 1934 verskyn die gesangboek Cantate waarin Duitse liedere in Afrikaans vertaal is. Dit was ruim 10 jaar voor die verskyning van die Afrikaanse Psalms en Gesange (1944). JD du Toit (Totius) (#249) maak in ’n brief met lof en waardering melding van Baumbach se vertalings. Hy ontvang in 1952 ’n eredoktorsgraad van UNISA.

Izak Louis de Villiers (*30 Julie 1936, Paarl; †27 September 2009, Johannesburg) matrikuleer in 1953 aan die Paarl-Gimnasium. Hierna studeer hy verder aan die US waar hy die grade BA, BA Honneurs en MA behaal. In 1958 raak hy oortuig van sy roeping om predikant te word. Van 1959 tot 1961 studeer hy dus verder aan die Teologiese Seminarium op Stellenbosch. In 1962 is hy as proponent in die NG Moederkerk op Stellenbosch gelegitimeer en dien as tydelike predikant in die NG Strooidakkerk in die Paarl en die NG gemeente Riversdal. In 1963 word hy met handoplegging bevestig in die NG gemeente Albertinia en in 1968 word hy predikant op Bonnievale. Hy studeer nou ook verder en sy eerste digbundel, Leitourgos, word gepubliseer. In 1973 word hy bevestig in die NG gemeente Constantia. Hy was vir sewe jaar die voorsitter van die Ring van Wynberg. In 1978 gaan hy na die VSA waar hy in Chicago studeer. In dieselfde jaar voltooi hy ook 101 gesangtekste vir die nuwe Psalm- en Gesangboek. Hy presteer ook buite die teologie en word in 1984 redakteur van die tydskrif Sarie en in 1991-1997 die redakteur van die koerant Rapport. Na sy uittrede as redakteur het hy hom voltyds toegespits op pastorale bediening, prediking en sy skryfwerk. In 2007 word hy aangestel as pastorale hulp in die NG gemeente Aasvo.lkop in Johannesburg. Oor die jare (tot met 2008) het sy skryfwerk veertig publikasies opgelewer. Die laaste een, Strooidak en toring (2009), bevat sy lewensverhaal.ü

Melodie
Melchior Vulpius het die melodie CHRISTUS DER IST MEIN LEBEN (ACH BLEIB MIT DEINER GNADE) gekomponeer en dit is gepubliseer as ’n setting vir die anonieme liedteks “Christus, der ist mein Leben” in sy Ein Sch.n Geistlich Gesangbuch (Jena, 1609) – vandaar die titel van die melodie. Melchior Vulpius (Fuchs) (*c 1560/1570? Wasungen, Türingen; †7 Augustus 1615, Weimar) was een van die beste melodieskrywers in die Lutherse kerk. In Wasungen, noord van Meiningen, het hy waarskynlik onderrig ontvang van die komponis en stadskriba Johann Steurlein (1546-1613). Daar is min oor sy vroeë lewe bekend. In 1589 word hy aangestel as assistent-onderwyser aan die Gimnasium in Schleusingen. Sy armoedige bestaan verbeter ietwat toe hy in 1591 ’n vaste aanstelling kry. Hierdie aanstelling het ook die werk van cantor choralis ingesluit. Hy verdien ’n ekstra inkomste deur geleentheidsmusiek vir welaf persone te skryf, maar niks hiervan is oorgelewer nie. Sy finansiële omstandighede verbeter weer toe hy aangestel word as stadskantor in Weimar in 1596. Hy beklee hierdie posisie tot met sy dood. Naas die Gesangbuch van 1609 publiseer Vulpius ook belangrike koormusiek. Dit sluit in Cantiones Sacrae I en II (Jena, 1602/1603), Kirchenges.nge und geistliche Lieder Dr. Luthers (Leipzig, 1604) en Ein sch.n geistlich gesang Buch (Erfurt, 1604 en Jena, 1609). Die Gotha Cantional (1646-1648) bevat al die melodie wat nog nie voorheen gepubliseer is nie. Sy werke sluit ook ’n Mattheuspassie in.

Bronne
CGLB: 1267-1268; Cilliè: 50-51, 466-467; KLEG: 334-336.