Lied 151

Ilse Pelem

Sections

Downloads

Vir Sang: ‘n PDF-dokument wat ’n melodielyn en lirieke bevat. In sommige gevalle bevat die dokument ook akkoorde.

Vir Begeleiding: ‘n PDF-dokument wat meerstemmige begeleiding vir orrel en/of klavier bevat. In sommige gevalle bevat hierdie dokument ook die lirieke van die lied.

Opname: Opname van van die lied, beskikbaar as mp3-lêer.

Aanbieding: ‘n Powerpoint aanbieding van die lied se lirieke.

Lirieke

1. Skenk ons, Here, u beskerming
en ontferming.
Sien in liefde op ons neer.
Seën ons as ons hier vergader,
tot U nader.
Laat ons saam wees tot u eer.

2. Bring ons, Here, tot bekering
deur u lering,
gee ons insig deur u Gees.
Maak ons harte oop, o Vader,
trek ons nader.
Laat u Woord ons lewe wees.

Geskiedenis

Teks
Die oorspronklike Nederlandse teks, “Sla, o God van mededoogen! Sla uw oogen”, is geskryf deur Abraham Rutgers vir die Evangelische Gezangen van 1806. Hierin is dit afgedruk onder die hofie “Voor de predikatie”. Dit is in Afrikaans vertaal in die AGB (1944) en gewysig deur Gerjo van der Merwe vir die 1978-bundel. Andries Breytenbach het die teks weer gewysig vir die Liedboek (2001).

Abraham Rutgers (*4 September 1751, Aalsmeer; †21 Mei 1809, Haarlem) studeer teologie in Utrecht en was agtereenvolgens predikant in Doorn (1772), Oude-Tonge (1774), Oostzaan (1777), Amersfoort (1778) en Haarlem (1779). Hy verrig belangrike administratiewe take vir die Hervormde Kerk in Nederland. Hy word onder meer opdrag gegee deur die Noord-Hollandse Sinode van 1790 om die moontlike invoering van gesange in die openbare godsdiensbeoefening te ondersoek en was ook betrokke by die voorbereidende werk vir die samestelling van die Evangelische Gezangen (1806). Nie alleen het hy gehelp om talle liedere te hersien nie, maar hy dra ook 17 gesangtekste by tot die bundel.

Gerhardus Johannes (Gerjo) van der Merwe (*15 November 1920, Ceres; †28 Augustus 1979, Somerset-Wes) gaan na sy skoolopleiding na die Universiteit Stellenbosch (US) waar hy in die onderwys studeer. As onderwyser beklee hy agtereenvolgens poste in Malmesbury, Parow en Masjonaland waar hy in diens was van die Sending van die NG Kerk. Terwyl hy in Masjonaland gewerk het, word hy geroep om in die bediening in te gaan en hervat sy studies in Stellenbosch. Hy word gelegitimeer in 1958 in Stellenbosch. Hy bedien die NG gemeentes Victoria-Wes (1959-1961), Maclear (1961-1964), Somerset-Wes (1964-1977) en Hottentots-Holland (1977). Van der Merwe was medeskrywer van die nuwe reeks kategesehandboeke wat in die NG Kerk gebruik word en het ook gedien op die kommissie wat die 1978-bundel hersien het. Sedert 1978 was hy ook voorsitter van die SJK van die Wes- en Noordkaaplandse Sinode.

Andries Petrus Bernardus Breytenbach (*6 Junie 1944, Bethal) matrikuleer in 1962 aan die Ho.rskool Hoogenhout, Bethal. Hy studeer verder in die teologie aan die Universiteit van Pretoria (UP) en behaal die volgende grade: BA (1965), BD (1968) en BA Hons in Semitiese Tale (1969). In 1979 word die graad DD in Ou-Testamentiese Wetenskap aan hom toegeken. Die onderwerp van sy proefskrif was: Die verband tussen en die ontwikkeling in die profetiese uitsprake in die boek Hosea. Hy word gelegitimeer op 25 November 1968 en bedien die NH Kerk in Afrika gemeente Elandspoort van 1969 tot 1973. In 1968 word hy aangestel as deeltydse dosent in die Departement van Semitiese Tale aan die UP. Hy word bevorder tot adjunk-dekaan van die Fakulteit Teologie aan dieselfde universiteit en behou die pos tot met sy aftrede
op 31 Maart 2004.

Melodie
Die melodie GENEVAN 38 wat by hierdie lied gebruik word, is diè van Psalm 38 “Las, et ta fureur aigue” (Genève 1542/1551). Na die verskyning daarvan in die Laorme des Prières et chantz ecclèsiastiques (1542) is dit ietwat hersien in 1547 en 1551. Daar word gemeen dat Louis Bourgeois betrokke was by die ontstaan van die melodie, maar die naam van Guillaume Franc word ook as komponis genoem.

Dit is skynbaar hoog geag gedurende die 16de tot 18de eeue en word aangetref in Psalmen, Lofzangen ende geestelijke liedekens (1661) van Willem Sluyter (1627-1673) en De Lofzangen Israels (1752) van Jacob Groenewegen (1709-1764). Hierdie bundels was ook bekend in Suid-Afrika. Die melodie verskyn ook by vyf gesange in die Evangelische Gezangen (1806). Die melodie is ritmies aangepas in 1976.

Loys (Louis) Bourgeois (*c 1510/1515, Parys; †c 1559/1561, Parys) vestig hom in Genève in 1545. Hy was ’n aanhanger van die Gereformeerde geloof. Hy word die kantor van die Pieterskerk in Genève, maar komponeer ook etlike chansons. Vanaf 1539 tot 1557 was hy die musiekredakteur van agtereenvolgende uitgawes van die Calvinistiese psalms van Clément Marot (1496-1544) en Thèodore de Bèze (1519- 1605). Hy skryf ook self sommige van die nuwe melodieë. Daar word gemeen dat van die melodieë aanpassings is van sekulêre chansons van die tyd. In die uitgawe van die Pseaulmes octante trois de David (Genève, 1551) het Bourgeois 34 nuwe melodie voorsien, 12 melodie. herskryf en 24 geredigeer. Die Stadsraad van Geneve hethierdie aanpassings te radikaal gevind en Bourgeois is in die tronk gegooi. Hy gaan na Lyon in 1552 en verhuis vermoedelik daarna ook na Parys. Die Pseaulmes de David (Lyon, 1547) was waarskynlik sy belangrikste werk. Dit is vierstemmige settings van die psalmmelodieë met die melodie geplaas in die tenoor. Aangesien slegs eenstemmige en onbegeleide sang in die kerk toegelaat is, was hierdie verwerkings waarskynlik bedoel vir buite-kerklike of private gebruik, maar dit het bygedra tot die gewildheid van Bourgeois.

Guillaume Franc (*c 1505/1515, Rouen, Frankryk; †1570, Lausanne, Switserland)was ’n Franse komponis en medewerker aan die Geneefse Psalter. Hy was ook ’n sanger, musiekonderwyser en kantor aan die Saint Pierre-kerk in Genève. Dit is nie bekend wanneer hy na Genève gegaan het nie, maar in 1541 open hy ’n musiekskool daar. Hy onderrig onder andere kinders in psalmsang en word aangestel as sangonderwyser aan die Collège de Rive in 1543. In 1545 verlaat hy Genève na ’n salarisdispuut en aanvaar die poste van kantor van die katedraal in Lausanne en onderwyser aan die Lausanne Akademie. Met die aanmoediging van Johannes Calvyn (1509-1564) raak Franc betrokke by die Geneefse Psalter en word die musiekredakteur van die Liedboekgids uitgawes van 1542 en 1543. Verskeie melodieë van hom verskyn ook in die latere Les seaumes mis en rime francoise (Lausanne, 1565).

Bronne
BWG; BWN; DBNL; CC; CGLB: 610-612; Cillié: 59; 485-486; Jaarboek van die NG Kerke, 1980: 248; KLEG: 92-93.