Lied 308

Ilse Pelem

Sections

Downloads

Vir Sang: ‘n PDF-dokument wat ’n melodielyn en lirieke bevat. In sommige gevalle bevat die dokument ook akkoorde.

Vir Begeleiding: ‘n PDF-dokument wat meerstemmige begeleiding vir orrel en/of klavier bevat. In sommige gevalle bevat hierdie dokument ook die lirieke van die lied.

Opname: Opname van van die lied, beskikbaar as mp3-lêer.

Aanbieding: ‘n Powerpoint aanbieding van die lied se lirieke.

Lirieke

1. Neem my lewe, laat dit, Heer,
U gewy wees meer en meer.
Laat my hart gedurig juig
en van dankbaarheid getuig.

2. Neem my hande, maak hul sterk
diensbaar in u goeie werk.
Neem my voete, skoei hul, Heer,
met bereidheid tot u eer.

3. Neem my stem en laat my sing
aan U, Here, hulde bring.
Laat my mond diÈ boodskap dra:
Hul sal vind wat na U vra.

4. Neem my goud en silwer, Heer
niks noem ek my eie meer.
Al my kennis en verstand
stel ek in u vaderhand.

5. Maak my hart vir U tot troon
deur u Gees wat in my woon.
Rig my wil, gevoel en daad
altyd na u wyse raad.

Geskiedenis

Teks
“Take my life and let it be” is geskryf deur Frances Havergal op 4 Februarie 1874 en vir die eerste keer gepubliseer in die 1874-bylaag tot Charles B Schnepp (1824-1880) se Songs of Grace and Glory (1871). Alhoewel sy vanaf ’n vroeë ouderdom reeds ’n Christen was, ervaar sy op Advent Sondag 1873 wat haar suster beskryf as “full surrender” en “the blessedness of true consecration”. Kort hierna skryf sy hierdie liedteks wat ook bekend staan as die “Consecration hymn”.

Die Nederlandse vertaling verskyn in dominee Charles Murray (1838-1904) se Kinderharp, dominee Andrew McGregor (1829-1918) se Zionsliedere, die Opwekkingsliedere van Ira Sankey en DieHalleluja (1903). GBA Gerdener (#157) het die teks uit Engels in Afrikaans vertaal vir Die Nuwe Halleluja (1931). Dit is gewysig deur Attie van der Colf (#164) vir die 1978-bundel en so opgeneem in die Liedboek (2001). Frances Ridley Havergal (*14 Desember 1836, Astley, Worcestershire; †3 Junie 1879, Caswell Bay, Swansea) se vader was die musikus en kerkliedskrywer, William Henry Havergal (1793-1870). Na haar moeder se dood in 1848 word sy na ’n privaat skool, Campden Hill House, Belmont, gestuur en in 1851 na Powicke Court, Worcester. Weens slegte gesondheid kon sy nooit voltydse onderrig onderneem nie, alhoewel sy baie intelligent was. Sy het onder meer Hebreeus en Grieks studeer en was welbelese in verskeie onderwerpe. Van 1852 tot 1853 reis haar vader na Düsseldorf, Duitsland, en sy gaan skool aan die Louisenschule daar. Met ’n volgende besoek aan Duitsland (1865-1866) maak sy kennis met die Duitse pianis en komponis, Ferdinand Hiller (1811-1885). Sy was ’n uitstekende musikus en kon mooi sing en klavier speel. Verder was sy ook ’n bekwame taalkundige en ’n avontuurlustige bergklimmer. Na die dood van haar ouers verhuis sy in 1878 na Suid-Wallis. Sy woon en werk in Leamington tot 1878, waarna sy en haar suster, Maria, verhuis na Caswell Bay, Swansea.

Havergal wy haar lewe aan godsdienstige en filantropiese werk. Hierin span sy ook haar artistieke vaardighede in. Haar gedigte het groot byval gevind in piëtistiese kringe en in 1870 verskyn die eerste van vele digbundels. Baie van haar tekste en liedere is gepubliseer in die vorm van traktate van die firma Parlane, of is spesiaal gedruk vir sendingwerk. Kept for the Master’s Use, wat net voor haar dood in 1879 gepubliseer word, was ’n reeks opstelle (essays) wat kommentaar lewer op die strofes van die “Consecration Hymn”. Sy het meer as 100 kerkliedere geskryf wat later in sewe versamelings uitgegee is. Dit sluit in: Ministry of Song (1869), UndertheSurface (1874), Life Chords (1880) en andere. Na haar vader se dood in 1870 het sy, saam met Charles Snepp, die Psalmody and Century of Chants, from “Old Church Psalmody”, “Hundred Tunes”andunpublishedmanuscriptsofW.H.Havergal (1871) uitgegee. Sy het ook die melodieë geharmoniseer. Haar suster skryf die Memorials of Frances Ridley Havergal (1880) en gee haar PoeticalWorks opnuut uit na haar dood in 1884.

In haar kerkliedere beklemtoon sy veral die koningskap van Christus en sy rol as “meester”. Die liedere was veral gewild in Metodistiese kringe. Naas die “Consecration Hymn”, is die volgende liedere onder meer bekend: “I am trusting Thee, Lord Jesus”, “I could not do without Thee”, “Like a river glorious”, “Lord, speak to me, that I may speak”, “Master, speak! Thy servant heareth” en “Who is on the Lord’s side?”. Van haar melodieë sluit in CLAUDIA en TRYPHAENA. Haar melodie HERMAS word dikwels gebruik vir “Who is on the Lord’s side?”.

Melodie
Die melodie VIENNA (ook bekend as OHNE RAST) is gekomponeer deur Johann Heinrich Knecht in 1797 en verskyn vir die eerste keer in die Vollständige Sammlung… vierstimmige Choralmelodien für das neue Würtembergisches Landesgsangbuch (Stuttgart, 1799) wat deur Knecht en Johann Friedrich Christmann (1752-1817) uit- gegee is. Hierin is die melodie geset op Johann Adolf Schegel se teks “Ohne Rast und unverweilt”, wat die alternatiewe melodietitel verklaar. Die naam VIENNA kan nie verklaar word nie aangesien Knecht, sover vasgestel kon word, geen verbintenis met die stad gehad het nie.

JustinHeinrichKnecht (*30 September 1752, Biberach, Württemberg; †1 Desem- ber 1817, Biberach) was grootliks ’n outodidak, maar het ook aan die Lutherse Collegiate in Esslingen studeer (1768-1771), waar hy geleer het om fluit, hobo, trompet, viool en orrel te speel. In 1771 word hy die musiekdirekteur in Biberach en aangestel as orrelis van die St Martinkerk in 1792. Vir ’n wyle was hy die direkteur van die Stuttgart-opera (1807-1809), maar hy was nie opgewasse vir die taak nie. Na twee jaar keer hy terug na Biberach waar hy bekend word as ’n briljante orrelis.

Knecht publiseer verskeie teoretiese werke en was ’n voorstander van kontra- punt, veral fugas en kanons. Hy komponeer ten minste 15 stukke vir die teater en ’n groot hoeveelheid orrelmusiek. Hy dra 97 melodieë by tot die Würtembergisches Landesgesangbuch (1799). Van sy melodieë word net VIENNA vandag nog algemeen gesing.

Bronne
CDH; CGLB: 1085-1089; Cillié: 324; CWH: 423, 761; Havergal, 1880:126; Knight: 148; PHH: 432, 380.