Lied 190
1. Grote God, aan U die eer!
Heerlik is waar U regeer;
hemels is u majesteit;
heilig u geregtigheid.
U wat alles onderhou,
U is ewig en getrou.
2. In genade, groot en ryk,
bou U, Heer, u koninkryk.
Voordat ek kon kies, kon vra,
het u Seun my vloek gedra.
Ek kon vind: U’t my gekry
voor ek nog my skuld bely.
3. U, oor alles God en Hoof,
open oë van geloof
dat ons sien, geen goed of kwaad
word aan toeval oorgelaat:
Bokant ons begrip, verstand,
hou U al wat is in stand.
Psalm 148
1. Prys uit die hemele die Heer,
gee, engele, aan Hom die eer.
Prys, son, prys, maan, en prys Hom, ster,
die hemelwesens hoog en ver.
2. Deur net ‘n enkel woord te sê,
is wat bestaan reeds vasgelê.
Georden is op sy bevel
die dinge in hul plek gestel.
3. Geen enkel ding in die heelal
sal uit sy vaste hegting val.
Loof Hom, want binne sy bestek
het elke ding sy grens en plek.
4. Juig, dinge in die atmosfeer,
sing halleluja, loof die Heer:
Die seedier en die oseaan,
die sneeu en wolk wat Hom verstaan.
5. Die berg en hemel respekteer
al die bevele van die Heer;
gehoorsaam, julle, God se taal.
Loof Hom en prys Hom, weerlig, hael.
6. Die bome wat die berge sier,
die vrugteboom, die wilde dier,
en als wat kruip, wat vlieg, wat spring,
sal meegevoer hul loflied sing.
7. Loof, volke, heersers, regters saam,
loof, jonges, oues, God se Naam,
loof Hom, want in sy majesteit
heers Hy oor alles wyd en syd.
8. Laat ons dit in ons lof vertel:
Hy het sy volk in eer herstel.
Aan hulle het Hy mag gegee,
sy volk het Hy met roem beklee.
9. Kom prys die Heer met dankbaarheid.
Prys hom in al sy majesteit.
Die volk wat naby aan Hom staan,
hef hoog ‘n halleluja aan.
Lied 528
1. Leer my u wil, Heer, u doel met my –
U, Pottebakker, met my, die klei.
Vorm my en maak my volgens u wil;
op U vertrou ek, nederig stil.
2. Leer my u wil, Heer, u plan vir my;
laat ek nie doelloos, nutteloos bly.
Hou my erkentlik, Heer, in u werk:
As ek dan swak is, maak U my sterk.
3. U gee u gawes net soos U wil;
almal is diensbaar, elk met verskil.
Vul met u Gees my, breekbare kruik,
dat U my oral nuttig gebruik.