1. Gelukkig hy wat slegte raad vermy wat op ‘n goddelose pad hom lei, en met die spotters sit hy ook nie saam nie; geen plan word met ligsinniges beraam nie. Die Here sien hom in Sy goedheid aan. Dit gaan met almal goed wat so bestaan.
1. Wees my genadig, luister hoe smeek ek, wis uit my skuld, ek het soveel verbrou. Maak my weer skoon, Heer, witter as sneeu. Spreek my tog vry in u liefde en trou.
1. Waarom stig volke opstand teen die Heer en word teen sy gesalfde saamgespan? Hul sê, as hulle die gesag trotseer: “Werp af die juk en raak bevry daarvan”.
1. Kom juig oor God, sing almal saam! Kom, alle mense, roem sy Naam! O God, hoe groot is al u werk, u reddingsdade onbeperk. Die volk van God beleef u krag en juig vir ewig oor u mag.
1. Ek het so baie vyande, o Heer, wat ook teen my in opstand kom. Van hulle is daar baie wat beweer: van God kom daar geen hulp vir hom.
Keervers* Loof die Here, want Hy is goed: Aan sy liefde is daar geen einde nie. Loof die Here, want Hy is goed: Aan sy liefde is daar geen einde nie.
1. Heer, hoor my roep in my gebede, God van geregtigheid, hoor my. Wees my genadig in die hede, Heer, net soos ver in die verlede. Kom my weer uit my nood bevry Heer, luister nou na my.
1. Sing vir die Heer ‘n nuwe lied tesaam. Sing tot sy eer en prys die Heer se Naam. Volke getuig, verkondig sy gesag. Kom en vertel aan nasies van sy mag.
1. Gee, Here, aan my woorde aandag, sodat U my versugting hoor; ek lê dit biddend aan U voor. U antwoord bly ek soggens afwag, God, in my onmag.
1. Vreugde! Vreugde! Juig van vreugde, want ons Heiland het verrys. Tot die dood was Hy verneder, uit die graf het Hy herrys. Alle eer aan die Oorwinnaar! Elke knie moet voor Hom buig. “Jesus Christus is die Here!” – elke tong moet dit getuig.
1. Moet, Here, my nie straf nie; wys my nie toornig af nie. Genees my van die pyn. Bewerk vir my bevryding, verlos my van my lyding, kyk hoe my liggaam kwyn.
1. Geseënd wie goddelose raad nie volg tot in ‘n doodloopstraat. Wie leef uit God se wyse raad, oordink dit en vermy die kwaad. Die Here sal jou veilig lei, sy goedheid sal jou pad verbly. Die Here sal jou veilig lei, sy goedheid sal jou pad verbly.