Eerste Sondag in Advent

Inhoud

Liturgiese voorstel

Leesroostertekste

Sleutelteks: Jesaja 64:1-9
Ander tekste: Psalm 80:1-7, 17-19; 1 Korintiërs 1:3-9; Markus 13:24-37

Inleiding

Met die aanvang van Advent word die Adventskrans se eerste koningsblou kers, wat hoop simboliseer, aangesteek. Op hierdie Sondag – aan die begin van hierdie tyd van afwagting en verlange – stel gelowiges opnuut hulle hoop op God as die Een wat deur die koms van Christus redding bring en vir ons ’n nuwe toekoms gee. Hierdie tema van hoop weerklink duidelik in die vier voorgeskrewe teksgedeeltes van die week. In die sleutelteks, Jesaja 64:1-9, ’n klaaggebed, hoor ons hoe die Godsvolk die hoop uitspreek dat God hulle sal verlos. Hierdie hoop is ook te vind in Psalm 80, waar die psalmdigter om God se redding vra. In die twee tekste uit die Nuwe Testament word daar bely dat Christus ons hoop is – nóú en tot aan die einde van dae.

Diensorde

God bring ons byeen

Aanvangslied
Lied 153/NSG 322(A) “O Jesus, kom tog nader”/Lied 320 “O kom, o kom, Immanuel”

Aanvangswoord
V: Luister tog, Herder van Israel,
U wat die nageslag van Josef
soos ’n kudde lei;
U wat oor die gerubs troon,
verskyn tog aan ons!
G: Laat dit weer met ons goed gaan, o God,
verskyn tog tot ons redding!
V: Almagtige God,
kyk tog uit die hemel af
en ontferm U weer
oor hierdie wingerdstok.
G: Laat dit weer met ons goed gaan, o God,
verskyn tog tot ons redding!
V: Hou u hand oor die mense
wat deur U uitgekies is,
oor die volk wat U
vir U grootgemaak het.
G: Here, almagtige God,
laat dit weer met ons goed gaan,
verskyn tog tot ons redding!
uit Psalm 80

Seëngroet
Sien basisliturgie.

Lofprysing
Lied 185 “Kom alle volke”

Diens van die Woord

Kindertyd
Hierdie eerste Sondag in Advent bied ’n uitstekende geleentheid om aan die kinders van die gemeente, en dan ook aan die gemeente in geheel, die betekenis van Advent, sowel as die simboliek van die Adventskrans, te verduidelik. Hulle kan aangemoedig word om hulle eie Adventskrans of Adventskalenders by die huis te maak, waarmee die weke en dae tot Kersfees afgetel kan word. Verder kan daar aan die gemeente se kinders gevra word om in dié Adventstyd ’n skoendoos vol geskenke bymekaar te maak vir minderbevoorregte kinders, soos dit die gebruik in baie lande in die wêreld is. ’n Kind kan dan ook die weeklikse Adventskers aansteek.

Gebed om die opening van die Woord
Here, deur u Woord,
verlig ons verstand en dit wat ons dink.
Verlig ons oë en die manier waarop ons kyk.
Verlig ons monde en dit wat ons sê.
Verander ons harte van klip in harte van vleis.
Amen.

Diens van die Tafel

Nagmaalsgebed
V: Die Here is met julle.
G: En ook met jou.
V: Verhef julle harte.
G: Ons verhef ons harte na die Here.
V: Laat ons dank aan die Here ons God betuig.
G: Dit is goed om aan die Here dank en lof te bring.
V: Kom ons bid saam:
Genadige Here, ons waag dit om u tafel te nader in vertroue, nie op grond van ons geregtigheid nie, maar op grond van u groot en menigvuldige barmhartigheid. Ons is nie waardig om selfs die krummels onder u tafel op te tel nie. Maar U, Here, bly onveranderlik, die Here wat van nature altyd genade betoon. Genadige Here, giet u Gees op ons uit en op die gawes van die brood en die beker. Skenk ons, deur u Gees, om só te eet van die liggaam en só te drink van die bloed van u geliefde Seun, Jesus Christus, dat ons voortaan altyd in Hom sal bly en Hy in ons sodat ons die liggaam van Christus vir die wêreld sal wees. Stuur ons uit in die krag van die Gees om vir ander te leef soos Christus vir ons geleef het, deur sy dood vir die sondes van die wêreld en sy opstanding aan alle mense en alle nasies te verkondig. Bind ons saam deur die kragtige werking van u Heilige Gees en bind ons aan Christus, ons Heer, sodat ons waardige lewens, as skeppings na u beeld, kan leef om daardeur aan U alle eer en heerlikheid te bring.
G: Deur Christus, met Christus, in Christus, en in die eenheid met die Heilige Gees, alle lof en eer behoort aan U, almagtige God, nou en vir altyd.
V: Amen.

God stuur ons uit

Slotlied
Lied 311 “Dit wat ons hier ontvang het”

Seën
Almagtige Here,
seën ons, u kinders.
Bind ons saam in liefde en vrede
en gee vir ons hoop
sodat ons u wil
in ’n gebroke wêreld kan doen.
Amen.
– aangepaste seëngebed uit die 3de eeu

Musiek en sang

Aanvangslied: Lied 322 “Redder van die nasies, kom!”; Lied 154 “Kom nou tesaam, laat ons vergader”; Lied 159/NSG 343 “God is hier teenwoordig”
Lofprysing: Lied 199 “Loof die Here uit die hemel”; Flam 15 “Kom ons loof en dank nou die Heer”
Skuldbelydenis: Lied 234/NSG 214(A) “Ontferm U, God”; Flam 29 “Kale knieë”
Geloofsbelydenis: Lied 263 “U, goeie Herder, wat ons lei”; Lied 262 “Ons was nie daar in Betlehem”

Preekstudie – Jesaja 64:1-9

Teks

Dit is vreemd dat Jesaja 64:1-9 as ’n perikoop in die Revised Common Lectionary afgebaken word. Dit vorm na regte deel van die groter gedeelte van Jesaja 63:7-64:12. (Let op dat die versnommers in die Hebreeuse Bybel en die 1983-Afrikaanse vertaling van Jesaja 64 verskil. Vers 1 in die Afrikaanse vertaling is nog deel van 63:19 in die Hebreeus, terwyl die Hebreeuse teks dan net elf verse in hoofstuk 64 het. Die Afrikaanse vertaling se numerering word hier gevolg.)

Die Woord van die Here wat die profeet bring, loop deur tot in 63:6. Daarna gaan die spreker daartoe oor om ’n bidder te wees wat namens die volk van die Here intree. Nou is dit ’n direkte aanspreek van die Here namens die volk Israel (Clifford).

Die perikoop van 63:7-64:12 waar die Gods volk aan die woord is, kan verder in twee dele onderverdeel word, naamlik 63:7-14 en 63:15-64:12.

Hierdie twee dele vorm die tipiese dele van ’n literatuursoort wat ook in die Psalms baie bekend is, naamlik ’n klaaglied van die gemeenskap (Boda et al).

In 63:7-14 vind ons die eerste tipiese gedeelte van hierdie soort klaaglied. Eers word daarop gefokus hoe die Here sy volk tot stand gebring en vir hulle gesorg het. Die bidder dui namens die volk aan dat die Here se verbondsgoedheid (hesed) hulle gedra het.

Die biddende spreker praat nie direk met die Here nie, maar verduidelik aan ’n onbekende (en waarskynlik denkbeeldige) derde persoon wat die Here vir hulle totstandkoming en voortbestaan beteken het. Die bidder haal die Here aan wat verklaar het dat hulle sy volk en sy kinders is.

Metafore wat ook in ander profeteliteratuur (bv Hosea) gebruik word, kom ook hier voor: Jahwe het hulle in liefde verlos, hulle opgetel en hulle gedra. In vers 10 volg die erkenning van skuld: Die volk het teen die Here in opstand gekom. Die Here het toe vir hulle soos ’n vyand geword, soveel so dat hulle nou twyfel of Hy nog hulle God is, of Hy nog by hulle teenwoordig is en of Hy hom nog oor hulle sal ontferm. Met die opeenhoping van bekende motiewe uit die uittog- en woestynverhale en ander profeteliteratuur, word die afwagting van hierdie “tussentyd” op die spits gedryf.

Dan volg die tweede deel van die klaaglied (63:15-64:12) met die dringende klaaggeroep: “Here, kyk tog uit die hemel uit en sien ons tog raak …!”

Die bidder wend hom nou direk tot die Here. Waar hy tot by vers 14 nog namens die volk oor die Here gepraat het, praat hy nou met die Here. Dié wending is tipies van die gemeenskaplike klaagliedvorm. Dit bereik ’n hoogtepunt in vers 12 waar die bidder smeek: “Raak hierdie dinge U dan nie, Here? Gaan U nie ingryp nie? Gaan U aanhou om ons te laat ly?”

Waarom hierdie klaaggeroep? Die agtergrond hiervan sal hieronder onder “Konteks” bespreek word. Hierdie afdeling fokus eers op die teksvorm en teksinhoud.

Binne hierdie tweede gedeelte val vers 8 as fokusvers op. Terwyl die hele gedeelte een klaaggeroep teenoor die Here is, spreek vers 8 vertroue uit: “U is ons vader, Here, ons is klei en U het ons gevorm, ons is almal die werk van u hande.” Hierdie element van vertroue is nie vreemd aan die tipiese vorm van klaagpsalms nie. Dikwels (vgl die kort Ps 13, maar ook gedeeltes van Klaagliedere 3; vgl Blenkinsopp) vind ons in die laaste gedeeltes van ’n klaagpsalm ’n element van vertroue. Terwyl die aanklag teen die Here fel en dringend is, verloor die bidder nie sy vertroue in die Here God nie. Op slot van sake word die klaaggebed nie as ’n vervloeking in die lug uitgespreek nie, maar as ’n ernstige gebed tot die Here. Die klaaggebed het ’n adres, en die God van hierdie adres is bekend.

Vers 8 se beskrywing van die adres van die klaaggebed word met twee kragtige metafore uitgedruk.

Eerstens word Jahwe as “vader” aangespreek. Hoewel die metafoor van God as “vader” algemeen bekend is in die Ou Testament, kom ’n direkte aanspreek van God as “vader” egter baie min in die Ou Testament voor (Deut 32:6; Ps 68:5; Jer 3:4, 19; 31:9; Mal 1:6; 2:10; sien ook Niskanen se bespreking hiervan). Vers 8 is dus een van ’n handjievol tekste waar Jahwe direk “vader” genoem word.

Die vadermetafoor het nie net konnotasies van oorsprong gedra nie, maar ook van identiteit en eiendomsreg. ’n Ou Nabye-Oosterse vader was méér as net ’n senior familielid. Binne die patriargale verstaan van destyds was jy in die stamvader se identiteit ingebed. Boonop het die stamvader se eiendomsreg jou ook ingesluit.

Hoewel hierdie metafoor sekerlik in ons (post-)moderne konteks van geslagsgelykheid “geontmitologiseer” moet word, hou hierdie beeld uit ’n antieke patriargale omgewing ’n besondere troos vir die Gods volk in. Deur Jahwe “vader” te noem, besef hulle waarvandaan hulle kom, wie hulle is en wat die adres is waarheen hulle hulle gebede kan rig.

Hierdie besef word verder versterk deur die tweede metafoor van die pottebakker en die klei (geen onbekende metafoor in die res van die OT nie). Die werkwoord wat na Jahwe se vormingsaktiwiteit verwys, is presies dieselfde term wat in Genesis 2 aandui dat die Here God die mens uit stof gevorm het (yatsar). Die Gods volk roep die skeppingsdaad van die mensdom hier in herinnering. Hulle besef dat hulle slegs maar stof in die hande van die Pottebakker is. Terwyl hulle hulle klaaggeroep aan Hom rig, is daar tog ook die versekering dat hulle die klei in die Pottebakker se hande is.

Vers 8 staan dus soos ’n ligbaken uit te midde van die klaaggeroep. Dit neem nie die donkerte van die teologiese vraagstelling weg nie, maar steek ’n kers aan wat nie deur al die donkerte van die heelal uitgedoof kan word nie. Stamelende, flikkerende vertroue, te midde van ’n duisternis wat oorweldigend voorkom!

Die stamelende vertroue van vers 8 in ons perikoop, staan nie geïsoleerd in die derde groot deel van die boek Jesaja nie. Daar word dikwels aangedui dat ’n kerngedeelte in hoofstukke 60-62 (Schuele) die derde groot gedeelte vanaf hoofstuk 56-66 onderbreek. Daardie drie hoofstukke fokus op die feit dat Sion-Jerusalem uiteindelik ’n lig in die duisternis sal laat skyn waarheen die nasies van die aarde sal opruk. Jerusalem is die simbool van die Here se oorwinning – nie net in die internasionale politieke wêreld nie, maar ook kosmies gesproke (Kaminsky & Stewart). Sion-Jerusalem word as’t ware die baken van lig vir die hele skepping.

Wanneer hierdie teksbesonderhede teen die agtergrond van die historiese omstandighede beskou word, kry vers 8 van ons teks – tesame met hoofstuk 60-62 – ’n besonderse betekenis. Ons gaan nou daartoe oor om die konteks daarvan te beskryf.

Konteks

Daar is algemene konsensus in Jesajastudies dat die boek nie in een stuk gegiet is nie, maar dat dit oor ’n lang tydperk tot stand gekom het (Blenkinsopp). Hoewel die vroeëre histories-kritiese siening dat die boek uit drie dele bestaan (1-39; 40-55; 56-66) wat deur drie skrywers vóór, tydens en ná die ballingskap geskryf is, nie meer in die klassieke vorm gehuldig word nie, is daar steeds eenstemmigheid dat die vormingsproses van die boek oor hierdie tydperke heen gestrek het. Hoofstuk 1-39 kom grootliks uit die hand van die agste-eeuse (vC) profeet Jesaja. Daar is egter gedeeltes in dié korpus wat ook op latere stadiums ingevoeg of geredigeer is. Hierdie gedeeltes weerspieël die taal en gees van die ballingskap of daarná.

Die gedeelte vanaf hoofstuk 40 tot aan die einde van die boek dra dieselfde karakter as die vorige gedeelte. Dit weerspieël ’n soortgelyke teologie as dié van die vroeëre profeet Jesaja, maar tog is dit ook duidelik dat voortgang en herinterpretasie daarin bespeur kan word (Schuele).

Algemeen word aanvaar dat hierdie groter gedeelte vanaf hoofstuk 40 in die tweede helfte van die sesde eeu vC ontstaan het (Blenkinsopp; Niskanen). Dit was die tyd waarin Kores II, die koning van Anshan, opgang begin maak en die Persiese ryk algaande duidelik vorm begin aanneem het. Kores oorwin in 539 vC die stad Babilon en kry daarmee beheer oor die Babiloniese ryk. Daarvandaan begin hy Babilon, Elam en ander gebiede in die Persiese hartland verenig om die sogenaamde Achaemenidiese Ryk te vorm. Een van sy groot bydraes tot die geskiedenis van die Gods volk is dat hy in 538 vC toelaat het dat die Joodse ballinge na Jerusalem kon terugkeer. Kores word dus in die tweede helfte van Jesaja as ’n messias en as ’n gesalfde van die Here gesien (vgl Jes 45). Die troos en hoopvolle boodskap wat vanaf Jesaja 40 aangebied word, staan volledig in die teken van hierdie geskiedenis in die internasionale arena van destyds. Die Gods volk se lot was volledig met die historiese gebeure verweef. Terselfdertyd was dit die beskikking van Jahwe.

Die perikoop onder bespreking kan selfs nóg noukeuriger gedateer word.

Daar is redelike sekerheid dat hierdie gedeelte uit die tydperk ná die terugkeer vanuit die ballingskap kom, maar vóór die herbou en die inwyding van die tempel in Jerusalem (Niskanen). Dit wil dus sê dié teks reflekteer iets van die teologiese gees en denke in die tydperk tussen 538 en 515 vC (laasgenoemde die datum van die inwyding van die herboude tempel).

In hierdie opsig is daar oorvleueling met ander Bybelse literatuur. Die profeteboek Haggai weerspieël byvoorbeeld deels dieselfde tydperk. Die profeet kla die teruggekeerde ballinge aan dat hulle vir hulleself gerieflike huise gebou het, maar dat die tempel steeds in puin lê (Hag 1).

Die katastrofe via die ballingskap van die oorgang van die koningstydperk na die Persiese imperiale omgewing, was ten nouste aan die tempel as simbool van Jahwe se teenwoordigheid verbonde. Vóór die ballingskap het die Gods volk hulleself met die gerusstellende gedagte gesus dat die tempel in Jerusalem in hulle midde was. Gedurende die ballingskap word hulle met die Here se straf gekonfronteer, soos veral die vernietiging van dieselfde tempel versinnebeeld. In die na-ballingskapstydperk is die vraag na ’n nuwe identiteit vir die Gods volk te midde van ander nasies en godsdienste weer ten nouste met die herbou van die tempel (Schuele) verweef.

Die klaaggeroep in ons perikoop, maar ook die hoop wat daarin deurskemer, weerspieël hierdie “tussentyd” in die bestaan van God se volk. Soos wat in die volgende afdeling aangedui sal word, adem hierdie tyd van afwagting juis die gees van Adventstyd. Dit dring die vraag na vore: Waarheen nou? Wat hou die toekoms in — veral nou dat die fases van oorgerustheid (vóór die ballingskap) ontnugtering en skulderkenning (tydens die ballingskap) agtergelaat is?

Preekvoorstel

Gegewe die historiese agtergrond en genre van ons perikoop, is dit ’n uitstekende keuse vir Adventstyd – veral op die eerste Sondag van Advent waar die gemeente uit die “gewone gang” van Koninkrykstyd tot ’n tyd van afwagting begelei word. Advent simboliseer nie slegs afwagting op die geboorte van die Christuskind nie, maar afwagting op die vleeswording van God en afwagting op wanneer die Here self op aarde kom woning maak om by ons te wees. Advent is die tyd waarin die gemeente veral uitroep “Maranatha, kom Here Jesus!” (sien die onlangse interessante PhD-studie van dr Sarel Slabbert hieroor) te midde van omstandighede wat alle hoop wil uitdoof.

Israel se klaaggebed teenoor Jahwe in die tussentyd van vernietiging en straf in die ballingskap en die hervestiging en nuwe identiteitsvorming van die na-ballingskapsperiode, adem die gees van Advent. Die tempel was nog nie herstel nie; alles het daarop gewys dat die herstelperiode ná die ballingskap ook op niks sou uitloop nie.

Dit is dieselfde soort ontnugtering wat Christene ervaar. Ons weet baie goed dat Christus gekom en gesterf het, uit die dood opgewek is en na die hemel opgevaar het. Koninkrykstyd trek ons weer in die sleur van die aardse bestaan in. Terwyl dit duidelik moet wees dat die Here oor die kosmos heers, sien ons vernietiging, korrupsie, rassespanning, gender- en ander geweld, onreg en agteruitgang. Ons weet God se reddingswerk is reeds voltrek, maar ons is ook maar té bewus daarvan dat dit nog nie voleindig is nie. Die tempel is nog nie herbou nie; die nasies stroom nog nie na die lig wat van Sion af uitgaan nie.

Elke Advent is weer ’n konfrontasie met die “tussentyd”, die tyd waarin teen alle hoop in gehoop word. Die Gods volk se klaaggebed verwoord iets van ons eie ervarings: “Kom Here, kyk tog nou ’n slag van die hemel af! Kom verander ons lot!”

Maar Advent is ook gevul met herinneringe aan die groot reddingswerk van die Here. Die klaaggebed in die “tussentyd” onthou wie God is. Hy is die oorsprong van alle dinge, die Een wat ons met sy verbondsgetrouheid begelei en versorg. Hy is ons Vader! Hy is ons Maker!

In 64:8, wat teruggryp op die herinnerings in 63:7-14 en wat vashou aan die voorspellings van hoofstuk 60-62, word die gesindheid van die “tussentyd” as’t ware in ’n neutedop saamgevat: “U is ons vader, Here, ons is klei en U het ons gevorm, ons is almal die werk van u hande.”

Hierdie woorde is nie triomfantelik nie. Dit spreek nie van selfvertroue in die “tussentyd” nie, maar van Godsvertroue. Dit ontken nie die noodkreet van ons lewe, ons wêreld en van die kosmos nie, maar onthou wie die Skepper van lewe uit stof is. Vers 8, wat as uitgangspunt vir die prediking geneem kan word, bind as’t ware die skeppende mag van die Here God (in Gen 2) aan die herskeppende mag van Christus in die vleeswording en opstanding. Vers 8 druk helder en duidelik uit wat die Gods volk se identiteit in die “tussentyd” is, naamlik kinders van God en klei in die hande van die Skepper.

Ons perikoop in sy geheel, maar ook in sy neutedopvorm in 64:8, lei ons in 2020 die Adventstyd binne. Dit lei ons uit ’n jaar van soveel ontnugtering, soveel swaarkry en soveel struweling op politieke sowel as kerklike terrein. Hierdie teks wil ons in Adventstyd laat nadink oor hoe ons in die “tussentyd” op die voleinding moet wag. Maar dit wil ons ook laat besef hoe om met God te praat in die hede!

Bibliografie

Blenkinsopp, Joseph 2003. Isaiah 56-66: A New Translation with Introduction and Commentary. New York: Doubleday; Blenkinsopp, Joseph 2006. Opening the Sealed Book: Interpretations of the Book of Isaiah in Late Antiquity, Grand Rapids: Eerdmans; Blenkinsopp, Joseph 2018. The Beauty of Holiness: Re-Reading Isaiah in the Light of the Psalms. London: Bloomsbury Publishing; Boda, Mark J, Daniel K Falk & Rodney Alan Werline 2006. Seeking the Favor of God: The Origins of Penitential Prayer in Second Temple Judaism. Atlanta: Society of Biblical Literature; Clifford, Richard J 1988. Isaiah 40-66, Harper’s Bible Commentary. San Francisco: Harper & Row; Howard, Roy W 2008. Isaiah 64:1-9. Interpretation 62.4 (2008): 418-420; Kaminsky, Joel & Anne Stewart 2006. God of All the World: Universalism and Developing Monotheism in Isaiah 40–66. Harvard Theological Review 99.2 (2006): 139-163; Niskanen, Paul 2006. Yhwh as Father, Redeemer, and Potter in Isaiah 63:7-64:11. The Catholic Biblical Quarterly 68.3 (2006): 397-407; Schuele, Andreas 2019. Who Is the True Israel? Community, Identity, and Religious Commitment in Third Isaiah (Isaiah 56–66). Interpretation 73.2 (2019): 174-184; Slabbert, Sarel JP 2018. Maranatha as a Hermeneutical Key for Interpreting the Imprecatory Psalms. PhD dissertation, Stellenbosch University, http://hdl.handle.net/10019.1/104865; Tremblay, Paul 2016. When the Pot Plays Potter: ‘Isaiah’, Toy Story and Religious Socialization. Journal of Religion & Film 14.2 (2016).

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.